Beeld van ’n vrou: S.J.A. de Villiers deur Mariëtte Crafford
“Koslegende”. Suid-Afrika se “koningin van kookboeke”. “Skrywer van ons land se kosbybel”. “Tannie Kook-en-Geniet.” Dis hoe Ina de Villiers, ook bekend as S.J.A. de Villiers, gehuldig is en bekend staan.
Min mense ontvang in hul leeftyd die erkenning wat hulle verdien. Dit is ook min mense beskore om ondanks struikelblokke ’n persoonlike droom só aanskoulik te verwesenlik dat dit as geskiedenis opgeteken word en as rolmodel voorgehou word.
Maar dit was anders met Ina de Villiers.
Anders as wat dikwels die geval is met baanbrekers, is Ina lank voor haar heengaan op 20 September 2010, gehuldig en vereer. En in haar leeftyd het sy gesien hoedat haar Kook en Geniet, waarvoor g’n uitgewer kans gesien het nie, naas die Bybel die topverkoperboek in Suid-Afrika geword het.
Kook en Geniet is nie net ’n boek vol suksesresepte nie – dis ’n suksesverhaal met ’n betowerende verloop.
As S.J.A. de Villiers het sy in April 1951, 63 jaar gelede, Kook en Geniet geskryf.
Dekades lank al kry meisies Kook en Geniet as ’n mondigwording-, verlowing- of trougeskenk. En as ’n ma haar kwel dat haar losloperseun van die honger sal omkom, sal sy ’n Kook en Geniet bedagsaam naby sy stoof neersit. So ook gaan Kook en Geniet saam waar Suid-Afrikaners hulle ook in die buiteland gaan vestig. S.J.A. de Villiers en haar Kook en Geniet het as ’t ware deel van Suid-Afrikaners se deurgangsrites geword.
Van Kook en Geniet, saam met sy latere Engelse weergawe, Cook and Enjoy, is al meer as ’n miljoen eksemplare in die afgelope 63 jaar verkoop. Daarom is dit heel gepas dat “KOOK EN GENIET Suid-Afrikaanse Kook- en Resepteboek deur S. J. A. de Villiers. Uitgegee deur die skryfster, Pretoria, 1951”, soos dit met die eerste oplaag op die skutblad deur haar beskryf word, as ons “Kosbybel” en sy as ons geliefde koksmaat (én rolmodel vir ondernemers!) beskou word.
Hoewel sy in die meeste Afrikaanse huishoudings altyd as “Tannie Kook en Geniet” of “Mev. of Tannie SJA”, bekend sal staan, en al het sy en haar boek volksbesit geword, vir haar twee dogters, Eunice en Heleen, was sy “Mamma”.
Op ’n helder oggend, ’n rukkie nadat sy as 91-jarige in die versorgingseenheid van Azaleahof op Stellenbosch oorlede is, het Eunice van der Berg, haar oudste dogter, met my oor haar ma gesels.
“Sy het graag iets lekkers gemaak. Sy was knap,” onthou Eunice. Buiten haar gesin se beelde van haar, getuig die foto’s wat Eunice ooppak van ’n vrou se ryk lewe: Oudae se lieflike swart-wit studente- en trou-portrette, eietydse, kleurryke kiekies van vrolike familiesamekomste met Ina as matriarg en haar kinders en skoonkinders en kleinkinders daarop, en persfoto’s en koerantknipsels van plegtige huldigingsgeleenthede waarop ’n volwasse vrou met toekennings en eerbewyse erkenning vir haar werk ontvang, bevestig Ina de Villiers se veelsydige bestaan.
“My ma is op 24 Februarie 1919 as die middelste van drie dogters op Boshof gebore,” begin Eunice die lewensverhaal van Stoffelina Johanna Adriana van Schalkwyk.
Met die koms van hul tweede kind het Ina se pa, Jan van Schalkwyk, uitgesien na ’n seun, maar sy vrou, Eunice, het op 24 Februarie 1919 nog ’n dogter in die wêreld gebring. Hulle het hul meisiekind Ina genoem, maar met haar doopname is sy nogtans wel met ’n vroulike weergawe na haar oupa Stoffel Johannes Adriaan, vernoem.
Ina het saam met haar ouer suster, Talia, en haar jonger suster, Elsa, op ’n groot erf met ’n vrugteboord op Boshof in die Vrystaat, grootgeword.
Jan was ’n opvoeder wat later ’n skoolinspekteur geword het, en Eunice ’n huisvrou wat aan verskeie verenigings behoort het en by gemeenskapsbedrywighede betrokke was. Hulle was ’n gelukkige en gesiene gesin, maar vroeg in haar lewe moes Ina teëspoed hanteer. Toe al het sy die onblusbare veggees getoon waarmee sy later uitdagings sou aandurf.
Sy was so elf, twaalf, toe haar voet in ’n treinongeluk op pad na die toenmalige Suidwes, byna vergruis is. Ten spyte van slegte hoop dat sy dit weer sou kon gebruik, het sy gewys dat sy aanhou wanneer die meeste mense al sou opgee. Met toewyding het sy die gebruik van haar voet teruggekry.
Ina was skaars twintig toe haar ma jonk-jonk oorlede is. Haar pa wou hê dat sy met haar flinke verstand ’n dokter moes word. Hoewel sy teësinnig was, het sy met sekere voorwaardes ingestem en in dié rigting begin studeer. Maar twee weke ná die begin van haar tweede akademiese jaar aan die Universiteit van Pretoria, het haar sterk wil haar oor haar eie toekoms laat besluit.
In plaas daarvan om as ’n dokter te kwalifiseer, het sy die graad B.Sc. Huishoudkunde in 1941 aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, waar sy ook die eerste primaria van die koshuis Sonop was. Sy was ’n toegewyde student en ’n leier. “Maar sy was ook avontuurlustig.”
Buiten uittogte see toe saam met haar vriende, was stap en bergklim een van haar voorliefdes. Ná universiteit het sy ’n jaar lank aan die Oranje Meisieskool in Bloemfontein skoolgehou, en toe ’n pos as uitbreidingsbeampte van die Departement van Landbou in Pretoria aanvaar. Deel van haar pligte was om spin-en-weefkursusse aan te bied – hoofsaaklik op die platteland. Met die spin- en weeftoestelle het sy per trein na verafgeleë bestemmings gepiekel.
Terselfdertyd het sy op die plekke waar sy weefklasse gegee het, ’n kosgids uitgedeel wat deur die huishoudkundiges van die Landboudepartement opgestel is. Dié boekie, Kos en Kookkuns, het bestaan uit resepte sonder foto’s. Dis deur die departement se huishoudkundiges saamgestel, deur die Staatsdrukker gedruk en deur die regering versprei.
Al was dit ’n poging om mense toe te rus, het Ina gou agtergekom dat die gemeenskap se kookvaardighede só gebrekkig was dat Kos en Kookkuns nie aan die behoefte voldoen het nie. Ina het presies geweet hoe sy ’n goeie resepteboek en kosgids sou saamstel. Dit moes baie meer resepte bevat en volgens spyskaarte georden word. Daarby was dit belangrik dat die resepte se mate gestandaardiseer word.
Maar voordat die voorgenome boek sou verskyn, het haar lewensmaat sy opwagting gemaak. Ina het haar toekomstige man, dr. Japie de Villiers van die Geologiese Opnamekantoor in Pretoria, op ’n tennisbaan ontmoet.
Eunice tel ’n brose, perkamentgeel koerantknipsel op: Die Volksblad van Februarie 1945 berig oor ’n bruid wat “allerliefs daar uitgesien het” toe “twee baie gesiene families” deur die egband verbind is. “Eie korrespondent” berig dat “die bruidstabberd van swaar dof geblomde tafsy” was met “’n lang sleep” daarby.
Ina en Japie het hulle in Pretoria gevestig. Nadat hulle ’n baba verloor het, het die boek weer haar aandag gekry.
Hoewel Ina oortuig was van die nut van so ’n kosboek, kon sy nie ’n uitgewer kry wat dit wou uitgee nie. Soos voorheen, het sy nie haar geesdrif laat blus nie. Sy en haar man sou dit self uitgee.
Ina het leer tik en die boek geskryf soos wat sy haar voorgeneem het. Dr. Mattie Jooste, hoogleraar in huishoudkunde aan die Universiteit van Stellenbosch het haar as raadgewer bygestaan. Japie het sy goudaandele verkoop en hulle het die geld gebruik om Kook en Geniet in April 1951 uit te gee en te versprei. Die boek het soos soetkoek verkoop. Terwyl tallose mense die geregte daarin berei en daaraan gesmul het, moes die doemprofete hul woorde sluk, want Suid-Afrikaanse boekegeskiedenis is geskryf.
Tussen die foto’s en koerantknipsels wat Eunice uitgepak het, was ’n eksemplaar van die eerste Kook en Geniet. Op die titelblad van die eerste uitgawe het Ina de Villiers onder meer geskryf: “Verkrygbaar van die skryfster, Mev. S.J.A. DE VILLIERS (eers van “Maraisstraat, Brooklyn, Pretoria” en later “Universiteit, Bloemfontein”) teen 23 sjielings, posvry”. Dit dien as bevestiging dat sy nie net die skrywer was nie, maar ook die uitgewer, bemarker en verspreider van haar boek wat boekegeskiedenis in Suid-Afrika gemaak het deur naas die Bybel die gewildste Suid-Afrikaanse boek te word.
Danksy Kook en Geniet het Ina se loopbaan ook as entrepreneur ’n lig baan geraak waaraan sy die grootste deel van haar volwasse lewe gewy het. Sy het die hersiening en bywerking van inhoud, later saam met Eunice wat ook ’n huishoudkundige is, hanteer, asook die gehalte- en voorraadbeheer, bemarking en verspreiding van talle herdrukke oor die bestek van meer as twee dekades waargeneem. Uit Ina en Eunice se werksverbintenis het ook ’n kookboek vir kinders, Klein Kook en Geniet, voortgekom.
In 1972 het Ina die reg om Kook en Geniet in Engels as Cook and Enjoy uit te gee, aan die uitgewer Human & Rousseau verleen. Dieselfde uitgewer het in 1990 ook die Afrikaanse Kook en Geniet se uitgewersregte verkry. In samewerking met Ina het daar in 1992 hersiene weergawes van die boek in albei tale verskyn. Saam met Eunice het Human & Rousseau in 2009 ’n hersiene weergawe van Kook en Geniet uitgegee.
Soos ’n digter sy lier aan ’n wilg hang, het Ina ná haar glorieryke loopbaan as skrywer en sakevrou onder die eikebome van Stellenbosch afgetree. Nadat haar geliefde Japie haar ontval het, het sy tot haar heengaan daar in ’n versorgingsoord gewoon. Sy het haar aan die openbare lewe onttrek totdat sy op 20 September 2010 oorlede is.
Maar al het die tenger vrou heengegaan, deurtrek die geure van haar grootse Kook en Geniet vandag nog tallose Suid-Afrikaners se huise en herinneringe.