Deur Salomé Delport. Foto: Unsplash
Wat is dit?
Die endometrium is die binnevoering van die uterus en dit word met jou maandelikse menstruasie onder beheer van jou hormone vanself “afgeskil” en uitgewerp. By vroue met endometriose kom hierdie voeringselle ook buite die uterus voor, soos byvoorbeeld rondom die blaas, derms en ander organe. Hulle word hier óók afgeskil – met die verskil dat die dooie endometriumselle nêrens natuurlik afgevoer word nie. Jy sit dus met ligte, inwendige bloeding rondom jou organe en derms en inflammasie.
Die simptome
- Erge pyn voor menstruasie oor die bekken en lae rug, en later van tyd aanhoudende pyn, selfs al menstrueer jy nie.
- Pyn wanneer jy urineer
- Pyn tydens seks
- Bloeding tussen maandstondes
- Infertiliteit
Die oorsake
Dokters verstaan steeds nie hoekom endometriose ontwikkel nie, maar vermoed dit het te make met hoë estrogeenvlakke. Dit word as ’n outo-immuunsiekte beskou, en as vroue in jou familie daaraan ly, is jou risiko daarop ook hoër.
Die diagnose
Daar is geen spesifieke toets nie. Jou dokter diagnoseer dit aan die hand van jou simptome.
Die oplossings
Geen raad werk vir almal nie, maar jou dokter sal moontlik prostaglandiene voorskryf en kyk of hy jou estrogeenvlakke kan verlaag, deur jou byvoorbeeld die Pil of estrogeenplakkers so te laat gebruik dat jy nooit menstrueer nie (jy slaan dus die suikerpilletjie of die plakkervrye week oor). Dit help skynbaar om koffie en alkohol uit te skakel, en baie vroue vind ook dit help om koring en/of melk uit te skakel. Omdat prostaglandiene van die omega-vette vervaardig word, kan jy gerus meer sade en neute eet, olyfolie gebruik en aanvullers soos lynsaadolie en nagkersolie probeer.
Lees ook: Tekens van lae vitamien B12-vlakke