Deur Salome Delport. Foto Fotolia/cassis
Op elke probiotika-houertjie staan al die inligting wat jy nodig het om verskillende produkte met mekaar te vergelyk en die beste een te identifiseer. Jy kan nie verkeerd gaan as jy die volgende terme en inligting gebruik nie.
1 Maar … mag jy probiotika gebruik?
Daar is werklike kommer dat mense op chemoterapie of met ’n onderdrukte immuunstelsel deur probiotika benadeel kan word. Dit word dus nie vir hulle aanbeveel deur byvoorbeeld die FAO/ WHO Joint Working Group nie.
As jy akuut siek is of aan ’n chroniese toestand ly of langtermyn op medikasie moet wees, moet jy eers by jou dokter seker maak dat probitoka die regte ding is vir jou.
2 Wat is jou probleem? Sal probiotika daarvoor help?
Die soorte organismes wat op die probiotikas gelys word sluit in lactobacillus, bifido- en saccharomyces. Dit is maar net enkeles van die meer as 1 500 soorte mikrobespesies in jou dermkanaal en die meer as ‘n duisend op jou vel en in sinusse. Hierdie 2 500 soorte mikrobes het elkeen hul eie voorkeur van blyplek, soos jou dikderm of dunderm en selfs spesifieke dele van die dunderm.
Die regte probiotika is dus die een wat die mikrobes verskaf wat floreer in die deel van jou liggaam wat hulp benodig.
Hierdie beginsel word gebruik om spesifieke produkte met spesifieke mikrobes vir spesifieke toestande op die rak te sit, met aansprake dat vir hierdie toestande ‘kan’ help (… wat ‘n agterdeurtjie ooplaat.) Van die produkte dui dus aan dat dit jou vaginale kandida kan vul, of kan help vir dermkanaalprobleme soos diarree, of vir ’n maagseer in die maag self, en so meer.
Werk dit regtig so? Bemarkers soos Wellness Warehouse is oortuig daarvan. En dalk is hulle reg. Maar hierdie veld is jonk, en terapie is nog nie so duidelik uitgespel dat terapeute kan staat maak daarop dat probiotika x sal help vir toestand y nie.
Maar ons vorder. In hierdie oorsigartikel in Alimentary Pharmacology & Therapeutics vat ‘n paneel van agt Europese kenners saam wat sover op hierdie gebied bekend is, veral ten opsigte van probiotika vir prikkelbare dermsindroom (IBS):
- Die regte probiotika kan simptome van prikkelbare dermsindroom (IBS) verlig;
- Sekere probiotika kan chroniese maagpyn verlig;
- Probiotika kan opgeblaasdheid verlig;
- Daar is min bewyse dat probiotika winderigheid (flatus) verlig;
- Hoewel party mense baat by probiotika vir hardlywigheid is die bewyse hiervoor nie sterk oortuigend nie;
- Probiotika kan daaglikse gereeldheid bevorder, met matig oortuigende bewyse;
- Probiotika help nie vir diarree nie;
- Probioika is nuttig vir mense met Helicobacter pylori, die organisme wat aan maagsere gekoppel word; en
- Probiotika verbeter in die geheel die toestand van mense met probleme in die onderste seksie van die spysverteringskanaal.
3 Kies probiotika volgens die CFU-telling daarvan
Na jy op die regte soort probiotika besluit het moet jy een kies wat ‘sterk’ genoeg is, soos gemeet aan sy CFU. Dit staan vir Colony Forming Units, en wys hoeveel lewensvatbare organismes daar in elke dosis behoort te wees.
Elke dosis moet meer as genoeg organismes bevat, aangesien hulle jou maagsure moet oorleef om tot in jou dermkanaal te beweeg waar hulle aktief en tot jou voordeel werk.
CFU word op verskillende maniere uitgedruk – wat verwarrend kan wees. Die minimum syfers vir elke skryfmanier lyk so:
- In woorde
- honderd miljoen
- In syfers
- 100 000 000 (Tel die nulle; daar moet agt wees); of
- X 108 (byvoorbeeld 3 x 108)
4 As jy probiotika kies volgens die aantal spesies daarin …
Sommige probiotika-formules bevat net een spesie. Ander lys twee of meer spesies.
Aangesien alle kapsules min of meer dieselfde grootte is, kan daar net soveel bakteriële materiaal in geplaas word. Pilletjies met baie spesies bevat dus moontlik ook minder organismes van elkeen.
As jy ’n probiotika met meer as een spesie daarin kies, onthou dat die beginsel van ’n minimum CFU van 100 miljoen vir elke spesie geld.
Meer spesies is in elk geval nie noodwendig beter nie. Die FAO/WHO Joint Working Group is taamlik skepties hieroor. Hulle wys daarop dat spesies sommer maar net bymekaar gegooi word in die hoop dat dit sal werk, sonder enige bewyse dat hulle mekaar werklik help.
Dit is selfs moontlik dat die spesies in kombinasieprodukte mekaar teëwerk – hulle moet immers om dieselfde voedsel meeding.
Aan die ander kant kan jy dalk juis by ’n verskeidenheid baat vind.
Dus: moet jy ‘n mono-tipe of ‘n multi-tipe kies?
Niemand weet regtig nie. Een van die sinvolle wenke is om elke maand ’n ander soort te koop. Op hierdie manier word jy aan al die moontlike soorte probiotika blootgestel.
5 Kies jy lewende, ‘yskas’ probiotika, of kies jy probiotika in kapsules?
Die een is nie beter as die ander nie, maar elkeen het sy voor- en nadele. Die eintlike vraag is of jy ingerig is om lewende probitoka te koop, of nie.
Probiotika wat in die yskas gehou word, is lewendig. Dit klink goed, maar as die koue ketting tussen die laboratorium en jou yskas verbreek word, sal die mikrobes afsterf. Jy is ook deel van hierdie koue ketting – as jy probiotika koop en ’n uur in jou motor laat lê, gaan die produk tot niet wees.
Koop gerus lewende verkoelde probiotika, maar maak seker jy is ingerig vir die logistieke drama daarvan. Begin met ’n koelhouer, en beplan so dat jy jou kopie so gou as moontlik in jou yskas kry. En koop by ‘n apteek of gesondheidswinkel op wie jy kan vertrou dat hulle self die koue ketting sonder onderbreking in stand hou – deur kragonderbrekings ook. Anders troetel jy basies stof.
Die makliker keuse is probiotika in kapsules wat gevriesdroog is en daarom by kamertemperatuur gehou kan word. Die voordele van gevriesdroogde probiotika is dat hulle omtrent alles kan oorleef, van lugverkoeling in die apteek of yskas tot die hitte van ‘n witwarm somersdag.
Al voel mens instinktief dat dit beteken dat dat hulle dood moet wees, is hierdie mikrobes taai klein swernotertjies. Sodra hulle in die regte omstandighede beland met genoeg vog en kos, hervat hulle die lewe asof niks ooit gebeur het nie.
Watter een jy ook al kies, is die belangrikste dat jy die probiotika bêre en gebruik soos op die etiket voorgeskryf is.
6 Kies probiotika volgens die vervaldatum
’n Belangrik oorweging wanneer jy ‘n probiotika uitsoek is die vervaldatum – veral as jy die lewende tipe probiotikas verkies. Gevriesdroogde probiotika kan ook net solank leef, en daarom geld ‘n vervaldatum hiervoor ook. Hoekom betaal vir iets wat heelwaarskynlik nie meer werk nie?
Nog ’n punt om te onthou: soms word probiotika vir goedkoop uitverkoop wanneer die vervaldatum naby is. Dit kan ’n winskopie wees, maar net as jy dit alles voor verval kan gebruik. (Wenk: koop en deel!)
7 Kies die regte hoeveelheid probiotika
Die eintlike vraag is: hoe lank moet jy ‘n probiotika gebruik voor dit jou baat? Een kapsule nou en dan is nie doeltreffend nie. Jy moet dit vir minstens ’n week lank gebruik om ’n verskil aan jou eie mikroflora te maak.
Lees ook: Tekens van lae ystervlakke