– Deur Bea Lingenfelder. Hooffoto Freepik
Al val Valentynsdag vanjaar op ’n weeksdag, beteken dit nie jy hoef al jou planne na die naweek te skuif nie. Maar o wee, hoe gemaak as jy vasdraai en jou afspraak is om die draai, of jou planne val deur die mat en jy moet op iets anders besluit? Of jy nou daarvan hou om hierdie liefdesdag alleen, saam met vriende of met ’n spesiale iemand te spandeer, ons het ’n paar #reddingsitems uitgesoek wat jou van dag-tot-aand gereed sal hê.
Ons reddingsitems
- Horlosie
- Kantoorbaadjie
- Swart puntskoene
- Silwer sandale
- Interessante skouersakkie
- Besonderse nekstuk
- Klassieke juwele
As jy ’n rok dra
’n Mooi rok bly altyd ’n wenner – dit is klassiek, stylvol en sinoniem met vroulik. Daar is soveel verskillende style om vanuit te kies dat jou opsies vir #reddingsitems amper oneindig is. Ons het egter besluit op ’n klassieke kantoorbaadjie en hakke. Hoewel jou klassieke dunhakskoen tydloos is, is blokhakke deesdae baie gewild en jy sal ook nie teen die einde van die aand voel of jy kaalvoet deur vuur geloop het nie. Boonop is dit geskik vir informele én glansaand-geleenthede. Deftige sandale is ook ’n goeie keuse. Eksperimenteer met jou bykomstighede – ’n interessante palmsakkie sal jou daguitrusting dadelik opkikker en gepas maak vir ’n aand-afspraak. Wissel jou fokus tussen jou juwele en handsak: as die een aandag trek, hou die ander eenvoudig.
Wissel jou fokus tussen jou juwele en handsak: as die een aandag trek, hou die ander eenvoudig
Hoekom hou ons van rokke
- Dit is baie maklik om dieselfde rok vir ’n dag- en aandgeleentheid te dra, afhangende van hoe jy die stileer.
- As jy dit verkies om ’n rok werk toe te dra, beteken dit dat jy reeds gemaklik is om daaglikse aktiwiteite aan te pak. Dit beteken dan ook dat jy gemaklik genoeg is om jou aand-afsprake daarin by te woon.
- Dit skep ’n vleiende voorkoms.
- Maksirokke is nie meer net vir deftige geleenthede geskik nie. Maksirokke met ’n gemaklike, lospassende snit skep ’n verslankende figuur en kan net soos ’n midi- of minirok stileer word. Boonop hoef jy jou nie te bekommer dat dit in die windjie sal opwaai nie
As jy ’n broek verkies
Party van ons verkies ’n gemaklike tweestuk bo rokke. Items soos wyepypbroeke met ’n hoë lyf of eenstukke en kantoorpakke maak dit egter maklik om bedags én saans te dra. Ons reddingsitems is in hierdie geval effens meer spesifiek omdat dit baie van die vorm van jou uitrusting afhang. As jy iemand is wat van kantoorpakke hou, hoef jy slegs staat te maak op ’n buitengewone juweelstuk om jou nek of oorringe en siedaar! Hemde met slagspreuke het ook die afgelope jaar die loopplanke oorgeneem – ’n uitklokbroek en hemp kan jou met gemak soos ’n modevoorstander laat lyk. Kikker dit op met ’n nekserpie en skouersak.
Verkies jy iets meer klassiek of tradisioneel? Maak staat op ’n rekbare broek en ’n besondere bloes. Ons beveel ’n netjiese paar punthakskoene en bypassende handsakkie aan, sodat dit ’n eenheid vorm. Hou jou juwele klassiek – goud, roosgoud en silwer met diamante sal jou nooit in die steek laat nie.
Hoekom hou ons van ’n broek en hemp
- ’n Tweestuk is geneig om jou middellyf makliker te beklemtoon – dra ’n hoëlyfbroek en steek jou hemp in om die uurglasfiguur te skep.
- Al word ’n broek as informeel beskou, kan jy steeds ’n klassieke en formele voorkoms skep deur middel van tradisionele juwele.
- Hierdie styl is net so vroulik soos ’n rok; inteendeel, die ikoniese kantoorpak word dikwels met ’n baanbreker-vrou geassosieer.