Vroeër hierdie jaar, na my eerste sonar, was daar voorspel dat baba die 14de Desember hier sal wees, maar met my onlangse besoeke het hulle verneem dat my kleinding die 11de sal land. Nou sit ek hier en ervaar gemengde gevoelens terwyl ek wag. Ek is opgewonde, op my senuwees en mismoedig om ’n paar te noem, eintlik wil ek graag net die dingetjie ontmoet. Hulle sê dat baba se kop reeds in die geboortekanaal is, so dis basies sulke tyd en ek kan my glimlag nie keer nie, want ek wil daai lyfie vashou en bekkie soen!
Ek het tans bietjie hoë bloeddruk, ek’s nie honderd persent seker wat die oorsaak is nie, maar ek probeer myself rustig hou vir ons albei se onthalwe. Ek werk daaraan om myself reg te ruk deur te laat gaan van die groot verwagting rondom die moontlike datums vir baba se koms, want as dit nie gebeur nie, voel ek bietjie af, seker oor ek so uitsien daarna.
Alle sakke is reeds gepak en staan gereed vir wanneer ek hospitaal toe moet gaan en ek wonder hoe dit gaan wees, ’n groot gejaag, ekstase, geweldige pyn? Dis mos maar anders vir elke vrou, maar ek bevind myself in die skoene van dankbaarheid vir elke trappie en knop wat baba hier maak, ek weet ek gaan verlang na hoe die voetjie van links na regs vee en die lyfie uitgestrek word. Soms voel dit asof een van die voetjies vassit tussen my ribbes, my heupbene is aansienlik weier en voel los wanneer ek beweeg, dis steeds verbysterend hoeveel dinge mens se liggaam deurmaak en dan nog steeds normaal kan funksioneer.
Ek dink amper elke dag aan hoe God die proses van swangerskap haarfyn beplan het en so ook die uitleg van ons lewens. Ek vind rus in dit asook in die feit dat alles verloop volgens Sy horlosie. Sy tyd is ons s’n en dis perfek.
Huidiglik weeg ek 67 kg en dis nogal lagwekkend om myself met die ronde gesig te sien. Ek is ook kort so ek wonder of dit lyk asof ek aangerol kom vir mense op ’n afstand. Alles is wel mooi vir my, vrouwees is mooi vir my, my liggaam huisves nuwe lewe en dien as voedingskema, dis seker waarom ons voorkoms ook “afgerond” word. Dit sluit eintlik mooi aan by die proses en volmaaktheid.
Ek dink nou die dag aan die belaglike verwagtinge oor swangerskap wat ek geskep het toe ek jonger was en nou is die gesondheid van my kind al wat saak maak. Daar word gesê dat die vrou tydens geboorte met een voet in die graf staan, en ek salueer elke vrou wat haarself oopgemaak het op ’n fisiese asook geestelike vlak om ’n kind te huisves en die wêreld daarmee te seën. Julle is heldinne, ek hoop dat julle dit besef, so ook met elke rekmerk en letsel wat as bewys dien van hoe sterk julle is en dat julle dit gemaak het, welgedaan.
Daar is vroue wat nie swanger kan raak nie en ander wat glo dit is onmoontlik, maar ek het al gesien hoe God werk. Dit wat ons as mens dink nié kan geskied nie, maak Hy moontlik. So, as jy een van daardie dames is wat hierdie blog lees en sukkel om swanger te raak, wil ek vir jou sê om moed te hou want alless gebeur op Sy tyd, dit is die regte tyd en niks is onmoontlik nie. Vir die dames wat deur haglike omstandighede was en nie gereed was vir ’n baba nie en uit vrees ’n absorsie gehad het, moenie jouself tot in jou graf bestraf nie. God het ’n plan met jou, maar jy moet Hom toelaat. Vir die dames wat hul kinders verloor het, geen mens sal wat jy ervaar kan insien nie, maar God het ’n plan vir jou ook en dis perfek. Ek deel my denke en hart, want daar is dalk net iemand wat hierdie woorde benodig. Byt vas deur die onsekerheid en vrees, want aan die ander kant van die woestyn wag ’n oase met die skoonste water.
Byt vas deur die onsekerheid en vrees, want aan die ander kant van die woestyn wag ’n oase met die skoonste water
Ek dink alreeds aan volgende jaar en daar’s vrae aan die onsekerheid gekoppel, maar ek is nie bekommerd nie, want ek weet dat als sal uitwerk soos dit moet. Ek wil ook lekker oefen en fiks word om gereed te maak vir my optredes wat wag … ek wil my craft perfect. Ek wil my familie trots maak met my werk en duisende inspireer tydens die proses. Ek sien uit na die nuwe jaar wat voorlê. Maar eers gaan ek die stiltetyd met my kleinding koester, ek weet dat ek baie gaan huil want ek gaan staan, stap en slaap met my hart in my arms en dit als op Sy tyd.
Kom ons gesels!
Ek wil graag meer van julle hoor!
As jy hierdie blog geniet het, deel dit gerus met vriende en tag my op:
Facebook – YOMA
Twitter – @YOMAIsAfrikaans
Instagram – Claudia Witbooi/YOMA