Die spanning van die hofsaak het sy tol geëis. Magriet het geskat dat sy omtrent ’n ton kersietwak gerook het voor die saak teen haar teruggtrek is. Na spiertier Simon haar van haar bose eetgewoontes bekeer het, het sy en Mariaan blikke vol proteïen-melkskommels gedrink na elke oefensessie. Ongesiens het haar lyf ferm en gesond onder haar formele hofkleertjies begin blom.
Na Erik se ontaktvolle voorskrif oor meer formele uitrustings vir die hof, het sy haar vererg en ’n hoop van oorlede Stoffel se geld by ou-tannie-winkels gaan bestee. Sy het gesorg dat haar hof-uitrusting elke keer onberispelik is.
“Jy lyk deesdae soos ’n predikantsvrou,” het Mariaan gespot. “Niemand sal glo dat jy ’n pyp in jou konserwatiewe handsakkie wegsteek nie.”
Magriet se humor het diep onder spanning weggekruip.
“Ja, ek kan dit op foto’s in die smeerblaaie sien. Die pers wil maar nie glo dat ek onskuldig is nie. Hulle glo ek het saam met Klaus gesmokkel.”
Mariaan het potte vol soet tee aangedra en getroos. Erik en sy span het onverpoos gewerk en na die saak teen haar teruggetrek is, het Magriet in trane uitgebars. Erik het van die waardigheid van sy professie vergeet en haar in die hof vasgedruk en die pers het nie versuim om dit af te neem nie. Foto’s van Magriet en haar passievolle prokureur het die volgende dag op nuuswebwerwe en op bladsy drie van koerante verskyn.
Klaus homself was natuurlik heeltyd voorbladnuus. Al sy ou dwalinge is weer oopgevlek en nuwes het uitgebroei.
Magriet het gevoel sy sal nooit weer haar gesig in die openbaar kan wys nie. Sy wou nie winkelsentrums toe gaan nie en het tussen die hofverrigtinge soos ’n kluisenaar op Mariaan se stoep sit en tob oor die grootste fout wat sy in haar lewe gemaak het.
“Hou nou op teem, Grieta, die saak is nou teruggetrek en jy hoef nie elke dag slymbol se hofsaak by te woon nie. Vergeet nou van hom. Die blikskottel kan mens nie eens in die oë kyk nie. Verbeel jou, na als wat hy aan jou gedoen het. Hy bloos nie eens as hy so sit en lieg in die hof nie. Sterwend in China, verbeel jou. Hy is gewetenloos.”
Mariaan kon nie die verbale diarree keer as sy oor Klaus Verdoorn uitwei nie. Sy het allerlei wrede en onvleiende dinge gesê oor wat sy aan die glibberige galery-eienaar-cum-dwelmsmokkelaar wil doen.
Erik se planne met Klaus was ewe gewelddadig. Hy het gedreig om elke been in die aantreklike dwelmskelm se lyf te breek as hy die kans kry.
Die romanse tussen Erik en Magriet het nie juis geblom tydens die spanning van die hofsaak nie. Die intense drukkie in die hof was omtrent die meeste passie wat daar tussen hulle was. Ondanks Mariaan se trooswoorde dat ’n hofsaak nie die regte tyd is om ’n nuwe liefde te laat blom nie, het Magriet tranerige gedagtes gekry oor Erik. Hoe meer saaklik hy met haar in die hof was, hoe meer het sy verlief geraak op haar eertydse beste vriend. Sy het begin nadink oor al die skandelike toestande waarin Erik haar al gesien het. As haar pel het hy ’n ruim skoot van haar slegste tye beleef. Tye toe sy as student ’n bietjie van haar inhibisies vergeet het, tye toe sy hoogswanger en depressief was, toe sy pas van narkose wakker geword het na haar mastektomie. Magriet het gewonder hoe Erik dit kon regkry om iemand met haar wildverwaaide kop en dramatiese lewe deur die jare onvoorwaardelik te steun. Sy het besef hoe sy swaarder op hom gesteun het as op Stoffel.
Mariaan was soort van die tussenganger tussen Erik en Magriet.
“Erik het sy gevoelens vir jou deur die jare baie goed weggesteek. Hy sal versigtig wees om sy emosies nou sommer net oop te gooi. Gee hom kans. Daar gebeur nou te veel goed op een slag. Jy ken vir Erik. Hy is baie gereserveerd oor sy diep emosies.”
Eers twee weke na die saak teruggetrek is, het Erik ’n effe romantiese stap geneem. Hy het laatmiddag gebel.
“Het jy vanaand ’n date met Simon?”
Dit het Magriet laat lag. Erik het haar en Mariaan gereeld gespot oor hulle spiertier-boyfriendjie.
“Ek sal Simon bel en vra of jy saam kan kom gym.”
Erik se rankerige lyf was in jare nie in ’n gimnasium nie.
“Los die gym vanaand dan gaan hang ons uit in Melrose Arch. Daai nuwe restaurant van Jamie Oliver maak blykbaar die beste pizza in die stad. Ek hoop jy is honger … en dors. Ek is lus vir ’n ongeskikte hoeveelheid wyn.”
Magriet het dadelik teruggedink aan die wit kantoorhemp wat nou in ’n verstote bondel onderin haar kas lê. Sy het die hemp in nagte van intense selfbejammering uitgehaal en vertroetel, maar as die twyfel oorgeneem het, het sy dit in die duisternis van haar kas gewerp waar swartgalligheid graag nesskrop.
Op pad na die restaurant was Erik weer sy ou self. Hy het lekker Jazz-musiek gespeel en met sy lang hande op die stuurwiel ritme gehou. Hy het klein padwoede-aanvalletjies gekry en behendig deur die verkeer gevleg.
“Ek het vanoggend met Jaco gepraat,” het hy skielik onthul.
“O, hoekom?”
“Ek het hom uitgevreet oor die aaptwak wat hy in sy ou baadjiesakke aanhou.”
Magriet het gegiggel oor die gedagte aan haar en Erik in die vliegtuig se toilet.
“Jaco het natuurlik ontken dat dit syne is. Hy vermoed een van sy vriende het een aand sy baadjie geleen en die twakkies daarin vergeet.”
“Het jy hom net gebel om daaroor te praat?”
Erik het sy hand na haar uitgesteek en haar hare deurmekaar gekrap.
“Ek en hy het diep sake gepraat. Ek gaan volgende week saam met hom eet as ek Kaap toe gaan.”
Erik was moedswillig-geheimsinnig. Magriet het dit geweet en gebrand van nuuskierigheid. Sy het geweet Erik wou haar uitlok om meer vrae te vra en uit moedswilligheid van haar kant het sy geweier om daarvoor te val.
Die restaurant se atmosfeer was gesellig en die reuk van eg Italiaanse kos met ’n Oliver-twist het in die lug gehang.
Die kelner het die wynlys voor Erik neergesit.
“Nee my maat, ek het vooraf gebel en spesiale wyn bestel. Julle wynkelner hou dit vir my op ys. Gaan vra hom waar is die boekettraube.”