Met die hulp van ’n ervare handskrifontleder was Magriet en Erik redelik seker hulle sal kan bewys dat sy nie die kunswerke en dwelms China toe gestuur het nie.
Die dwelmeenheid het Klaus se galery en huis gefynkam en Erik se kontakte het aangedui dat hulle ’n elektroniese skaal in ’n pakkamer gevind het wat dwelmhandelaars gebruik en dat Klaus se vingerafdrukke en tekens van kokaïne daarop gevind is.
Erik se ondersoekspan het ’n paar vroulike kunstenaars, wat voorheen by Klaus uitgestal het, ondervra en verklarings met goeie bewyse van ten minste twee van hulle gekry.
Een van die vroue het vertel hoe een van haar kunswerke onverklaarbaar in Hongkong opgeduik het. Volgens haar kennis het sy dit aan niemand in die Ooste verkoop nie. Die kunshandelaar wat haar gekontak het, was verbaas dat sy niks weet nie aangesien haar naam op die versendingsdokumente verskyn het. Sy het in daardie tyd ’n saak van bedrog teen Klaus gemaak, maar dit teruggetrek weens die emosionele impak wat dit op haar gehad het. Klaus het haar ook sjarmant die hof gemaak en hy skuld haar ook ’n hoop geld.
Klaus het dieselfde modus operandi met ’n ander kunstenaar gevolg en sy het verklaar hoe Klaus haar vir haar verjaarsdag Argentinië toe gestuur het en dat sy ’n pakkie vir ’n vriend van hom moes saamneem. Sy het na die tyd besef watter noue ontkoming sy gehad het aangesien sy uitgevind het Klaus gebruik dwelms. Die sogenaamde vriend wat die pakkie by haar hotel kom haal het, was volgens haar ’n rowwe kêrel wat glad nie gelyk het of hy in Klaus se vriendekring sal inpas nie.
’n Deurbraak het gekom toe die dwelmeenheid nog ’n versending van Magriet se skilderye op die lughawe ontdek het. Ook na bewering deur haar versend! Hulle het besluit om ’n lokval te stel sodat hulle kan vasstel wie die kunswerke in China gaan ontvang. Na ’n paar weke van spanning het Erik Magriet een oggend vroeg gebel.
“Goeie nuus, ou Gladde Gawe het in die strik getrap en hy is vas! Hy het sommer self die versending in ontvangs geneem, en nee, dit lyk nie of hy sterwend is nie. Glo springlewendig want hy het probeer vlug. As al die papierwerk reg verloop, sal hy eersdaags uitgelewer word.”
“Goeie nuus, ou Gladde Gawe het in die strik getrap en hy is vas!”
Magriet se gees was sat van spanning. Sy het nie geweet waar sy die krag vandaan sou kry vir die komende hofsaak nie. Al was daar verdoemende getuienis teen Klaus, was die klagtes teen haar nog nie teruggetrek nie.
Haar bene het lam geword toe Erik haar laat weet die plaaslike media het uitgesnuffel dat Klaus in hegtenis geneem is.
“Jy sal ’n paar dae by Mariaan moet gaan bly. Die media gaan jou beslis begin verpes. Moet geen oproepe van ’n private nommers beantwoord nie.”
Magriet was ’n bietjie afgehaal omdat Erik nie aangebied het dat sy by hom gaan bly nie. Sedert die aand van die wit hemp het hy nog nie weer romanties geraak nie en dit het haar laat wonder of Erik spyt was oor die grense wat hulle daardie aand in hul vriendskap oorgesteek het.
Sy en Erik het ’n paar keer gaan koffie drink om haar saak te bespreek en sy het sessies saam met sy ondersoekspan by sy kantoor bygewoon.
Magriet het met nuwe oë gekyk na hoe Erik beheer van ’n situasie kan neem. Sy het dit skielik ongelooflik sexy gevind dat hy in werksituasies selfversekerd kon wees.
Soos ’n verliefde skoolmeisie het sy elke dag na sy Faceboek- en Linkedin-profiele gekyk. Sy het jaloers gevoel as van sy vriendinne gesprekke met hom op sosiale media aanknoop.
Dis teenoor Mariaan dat sy uiteindelik beken het sy is finaal die kluts kwyt.
“Ek stalk my eie pel! Hemel, ek is ’n volwasse vrou en ek tree op soos ’n tiener! Ek sit saans en wag dat hy my bel en as hy nie bel of ’n WhatsApp stuur nie, eet ek uit frustrasie ’n bak roomys op!”
Mariaan het simpatiek geluister en aangekondig dat sy op daardie oomblik self ook lus was vir roomys. Die vriendinne het elk met ’n bak roomys op die skoot oor Magriet se muisneste sit en filosofeer.
“Erik maak my woedend, eers gee hy vir my te veel boekettraube, en dan … en dan ignoreer hy my vir weke.”
Mariaan het die emosies van die gesprek in toom probeer hou.
“Hy ignoreer jou nie, hy is besig om jou uit die tronk te probeer hou. Verskoon my dat ek dit sê, maar ek dink nie jou huidige situasie is juis die ideale atmosfeer vir romanse nie. Ek meen, jou eks boyfriend word hierdie week uitgelewer en die hofsaak gaan nie ’n piekniek wees nie.”
Mariaan was nie veel van ’n troos nie en in die dae wat sy soort van by Mariaan se huis in huisarres was om die pers te vermy, het ’n donker wolk van depressie oor Magriet begin hang.
Sy het gewroeg oor al die groot foute van haar lewe en in haar pity parties Mariaan se huis blou gerook.
“Ek is ’n mislukking. Stoffel wou my nie hê nie en Klaus het my misbruik, en nou is Erik ook moeg vir my,” het sy ’n paar keer in Mariaan se geduldige ore geween.
“Ek is ’n mislukking. Stoffel wou my nie hê nie en Klaus het my misbruik, en nou is Erik ook moeg vir my.”
In haar diepe selfbejammering het sy haar ook vergryp aan die trooskos wat haar sedert haar kinderjare deur diep waters laat gedy het. Van haar gunstelinge was skywe appels met grondboonbotter en heuning op. Dan was daar die dik snye bruin brood met vars druiwe op. Sy het slaaiblare met suiker bestrooi en dit soos ’n pannekoek opgerol en Mariaan se mond het oopgehang toe Magriet ’n koffiebeker vol Smarties gooi en dit met haar haardroër warm maak. Die gesmelte sjokolade binne in die gekleurde doppies het skynbaar vir Magriet troos gebring.
“Griet, die ellende stop vandag,” het Mariaan een oggend aangekondig. Sy het Magriet in haar kar gelaai en saam met haar by ’n gimnasium aangesluit. Die twee vriendinne het ’n persoonlike afrigter genaamd Simon gekry. Hy het ’n sonbedbruin-lyf en meer spiere as persoonlikheid gehad. Simon het hulle gemeet en geweeg en die skokkende nuus gedeel dat elkeen op pad is na ’n vroeë dood as hulle nie op proteïenskommels begin leef nie. Hy het daaglikse sessies onder sy streng regime aanbeveel. Na dag een het Mariaan en Magriet elk met ’n glas wyn op Mariaan se stoep verklaar dat Simon ’n sadis is. Op dag twee het Magriet Mariaan probeer oortuig dat sy haar hospitaal toe moet neem want sy was seker van haar derms het losgeskeur. Die wrede Simon het Magriet ook verbied om haar pyp te rook.
Erik het een aand gebel om aan te kondig dat Klaus uitgelewer is en dat die hofsaak die volgende week sou begin.
“Kry my môreoggend nege-uur by my kantoor. Daar is nog baie los rafels wat ons moet vasknoop.”
Magriet se hart het elke keer gebons as Erik haar bel. Afgesien van ’n piksoentjie en drukkie nou en dan, het hy geen aandag aan haar gegee nie. Dit het gevoel of hulle terug is by hul ou patroon van net vriende wees.
Sy wou mooi lyk vir die vergadering en het ’n ligblou linnerok gedra wat haar nuwe fermer lyf (danksy Simon) omvou het.
Haar hart het soos ’n ponie galop toe sy Erik se reaksie sien toe sy by sy kantoor instap. Na die lang vergadering het hy saam met haar kar toe gestap. Hy het haar op die voorkop gesoen … en toe haar ballon van verliefde euforie geprik … “Onthou om volgende week vir die hofsaak meer formeel aan te trek.”