Jy moet asseblief bedag wees op pankreaskanker. Die tekens is so algemeen dat mens dit miskyk en dink dit is skete wat jy sommer self tuis kan regdokter.
Dit bly een van ons gevaarlikste kankers. Die beste uitweg is om dit vroeg op te spoor, om die siek pankreas vroeg te verwyder, voor die kanker versprei.
Simptome van pankreaskanker
Hier is die vroeë tekens van pankreaskanker:
- Jy het dikwels ’n opgeblaasde gevoel oor jou maag.
- Jy kla gereeld dat jy pyn oor jou maagarea het.
- As jy mooi in die spieël kyk, het jou vel ’n effense geel skynsel. Die wit van jou oë is gelerig, eerder as wit.
- Jy het aanhoudende spysverteringsprobleme.
- Jy is gediagnoseer met diabetes.
- Jy verloor gewig, sonder dat jy dieet.
Is dit noodwendig pankreaskanker?
Glad nie. Soos jy kan sien, is die simptome baie algemeen. Die vraag wat jy jouself moet afvra is hoe gereeld jy met die simptome sukkel. As jou maag net soms opgeblaas voel of as dit ongemaklik is omdat jy iets geëet het wat winderigheid veroorsaak, is dit nie relevant nie. As jy egter chronies daarmee sukkel en die ander simptome ervaar, laat jou dokter jou evalueer.
Die beste manier om pankreaskanker te behandel is om dit vroeg op te spoor, sodat die aangetaste weefsel verwyder kan word, voor dit versprei.
Maklike maniere om jou kans op pankreaskanker laag te hou
Sekere dinge verhoog jou risiko. Maak werk van dit wat jy kan beheer.
- Eet meer groente en vrugte. Dit het ’n beskermende uitwerking.
- Sny op rooivleis. Vier porsies per week is oorgenoeg.
- Hou op rook. Dit verdubbel jou kans op pankreaskanker.
- As jy familie het met enige van die volgende kankers, moet jy jouself versigtiger en meer gereeld evalueer vir pankreaskanker: borskanker, kolonkanker, eierstokkanker of melanoom (velkanker).
- As jy bo 60 is verhoog jou kans op byna enige kwaal. Daarom moet jy gouer dokter toe gaan as iets jou opval as ongewoon.
- Jy het diabetes. Hierdie kanker is effens meer algemeen onder mense wat lank reeds diabetes het. Diabetes kan ook een van die vroeë tekens van pankreaskanker wees.