Magriet het afgespreek om Mariaan by Olivia’s te kry. Sy het in die rookhoekie gesit en ’n hele stopsel gerook voor haar vriendin gearriveer het.
“Jy rook deesdae te veel, Grieta, wat gaan met jou aan? Jy is besig om uit te rafel. Dis tyd om weer jou shrink te gaan sien!”
Magriet het besef dat as Mariaan weet wat haar nuutste ontboeseming is, selfs sy wat Mariaan is ’n stopsel kersie-twak sal rook.
“Ek het groot moeilikheid!”
Mariaan het haar oë gerol.
“Wat is nuut?”
“Nee regtig, hierdie is groot groot moeilikheid. Ek het hartmoeilikheid!”
Mariaan het darem ’n bietjie geskrik.
“Sowaar? Was jy al by die kardioloog?”
Magriet het drie lepels suiker in haar tee geroer.
“Nie daai soort hartmoeilikheid nie. My hart wil uit my ore bons en ek kan dit nie keer nie. My maag trek op ’n knop en ek bewe. Ek kan aan niks anders dink as aan hom nie.”
Mariaan het weer haar oë gerol.
“Ek dog die man is missing in action? Het hy nie gevlug na Erik hom geklits het nie? Met jou geld?”
Magriet was nie lus om oor haar verlore geld te praat nie. Dis haar verlore hart wat nou aandag nodig gehad het.
“Ek weet nie hoe om dit vir jou te sê nie, maar … nee wag, laat ek eers nog ’n stopsel maak.”
Mariaan het die pyprook vererg weggewaai.
“Ek wens jy wil die vieslike gewoonte los. Regtig, eers was dit net as groot goed gebeur, maar nou rook jy elke dag. Hemel, Grieta, dis tyd dat jy jou emosies en lewe in orde kry. Jou longe gaan dit nooit hou nie!”
Magriet het nog drie lepels suiker bygeroer.
“Mariaan, hierdie keer is my hart in groter moeilikheid as wat jy dink!”
Mariaan het die suikerpot buite Magriet se bereik geskuif.
“Die man is ’n slymbol. ’n Windlawaai, ’n skelm! Is jy heeltemal mal? Hy gaan jou geld en jou lewe opmors.”
Magriet se foon het gelui. Dit was Erik. Sy het bloedrooi gebloos en begin hiperventileer. In haar paniek het sy die foon vir Mariaan aangegee.
“Hallo Erik! Ja, sy is hier by my, maar sy is in ’n toestand oor daar misbaksel wat met haar geld verdwyn het. Kan jy glo sy is kamma verlief op die man?”
Magriet het die foon by Mariaan probeer afneem en het allerlei handgebare gemaak om Mariaan stil te maak. Voor sy kon keer, het Erik afgelui. Dit het Magriet ’n paar minute geneem om haar asem terug te kry.
“Wat het jy nou aangevang!”
Sy het in trane uitgebars en die mense by die tafels langsaan het hulle aan haar vergaap.
“Grieta, ek kan nie glo dat jy nie jou beste vriende se oordeel vertrou nie. Jy moes hoor hoe ontsteld is Erik toe ek hom van jou liefde vir ou pierewaaier vertel. Hy sê hy is jammer dat dit jou keuse is. Hy gaan hom nou van jou onttrek. Is jy bereid om jou vriende te verloor vir ’n man wat jy nie kan vertrou nie?”
Magriet het vier servette nat gehuil voor sy Mariaan kon antwoord.
“Jy … julle verstaan my verkeerd. Dis nie hy nie. Ek meen, dis nie sy skuld dat my hart holderstebolder is nie. Dis my eie skuld. Ek …”
En toe huil sy nog ’n servet nat.
Mariaan het in haar handsak gegrawe en een van haar pienk pille uitgehaal.
“Sluk jong, jy ontstel al hierdie grênd mense om ons.”
Sy het vir Magriet nog ’n koppie tee geskink en sommer self drie opgehoopte lepels suiker ingeroer.
“Sluk, dan kyk ons wat ons aan jou dilemma kan doen. Ek en jy is op ons eie met die ding. Erik vlieg vanaand Londen toe vir ’n kongres en dis ook maar beter so. Hy klink baie knorrig oor die ding van jou en slymbol.”
Magriet het Erik met bewende hande probeer terugbel, maar sy foon was af.
“Sal jy betaal? Ek moet nou dadelik na Erik se kantoor gaan!”
Sy het deur die verkeer gevleg en in die proses probeer om haar grimering te red.
Erik se sekretaresse het haar met groot oë aangestaar.
“Wat gaan met julle spul aan? Ek het Erik nog nooit in so ’n toestand gesien nie! Hy het gesê hy wil ’n paar doppe gaan drink voor hy vlieg. Hy lyk of hy baie slegte nuus gekry het.”
“Hoe laat vlieg hy? Wat is sy vlugnommer?”
Sy het deur die middag se spitsverkeer gesukkel tot by die lughawe. Sy wou betyds wees om Erik af te sien. Op pad het sy hom nog ’n paar keer probeer bel.
Toe haar foon uiteindelik lui, was dit Mariaan.
“Ek dink regtig dis tyd om jou shrink te gaan sien. Lyk my jy is die kluts heeltemal kwyt! Wat wil jy so dringend vir Erik sê? Hy klink regtig keelvol vir jou en die ding met slymbol! Hy het my laat weet hy sit op die lughawe en drink ’n paar whiskys op die tragedie waarop jou lewe afspeel. ”
’n Paar kilometer van die lughawe het die verkeer tot stilstand gekom. Magriet het magteloos gevoel. Uit desperaatheid het sy op die baan vir noodvoertuie by die opeenhoping probeer verbygaan. Loeiende sirenes het haar tot stilstand gebring.
Die pyp in die hoek van haar mond en haar rooi, opgeswelde oë het die verkeersbeampte oortuig dat sy op ’n dwelm trip is.
By die polisiekantoor kon sy haar prokureur bel, maar Erik se foon was af. Sy sekretaresse het darem geantwoord.
“Ons kan Erik nie nou bereik nie, maar ons sal plan maak om jou te kom help. Hemel, wat gaan vandag aan met jou en Erik?”
Magriet het deur die bloedtoetse by die distriksgeneesheer gesnik. Dit het gevoel of haar hele lewe verkrummel. Sy was daarvan oortuig sy is besig om ’n hartaanval te kry want haar hart het nog nooit so gepyn nie.”
Sy het eers na een die nag weer by haar huis aangekom. Erik is Londen toe sonder dat sy hom kon groet. Haar siel was leeg gehuil. Sy het soos ’n zombie onder die stort gaan staan. In die wasgoedmandjie het sy Erik se wit hemp gesien. Sy het dit oor haar klam lyf getrek en in die fetusposisie op die bed gaan lê.
Die hemp het soos muskus en sandelhout geruik.