Corlia Fourie skryf in die Desember 2017-uitgawe van rooi rose oor die ou afgeleefde dele van stede in Europa wat wonderlik verfraai word met muurskilderye wat dikwels heelwat van die hart van die stad openbaar. Sy het die mure in drie Europese stede, Lyon, Madrid en Lucerne, gaan bekyk.
Soos in baie van dié Europese stede word muurskilderye in Kaapstad se voorstad Woodstock gebruik om ouer geboue te verfraai. Toe ek etlike jare gelede in Kaapstad was, was dit opvallend dat die Woodstock-muurskilderye dikwels ’n sosiale tema het, of anders is dit net ’n paar teenstellende kleure op ’n muur. Dié woonbuurt word tans opgegradeer en dis moontlik dat dié versierings nie meer lank sal bestaan nie.