Magriet was verbaas toe sy die kaartjie lees wat saam met die bos wit Magrietjies afgelewer is. Sy het gedink dit kom van Erik en dat hy verskoning wil vra omdat hy so ongepoets was met Klaus. Maar dis ’n kaartjie van Klaus wat mooi verskoning vra dat hy versuim het om die kontrakte vir haar uitstalling betyds in orde te kry. “Jy het my so betower dat ek nie aan geldsake gedink het nie.”
Die rondomtalie van emosies het Magriet laat besef sy is dieper in die moeilikheid as wat sy gedink het. Sy is verlief! Halsoorkop, holderstebolder verlief. Sy het nie gedink sy kan hoegenaamd nog sulke emosies ervaar nie. “Klaus Verdoorn,” het sy sy naam sag uitgespreek terwyl sy kersietwak-rook die lug in gestuur het.
“Erik is verkeerd, Klaus is ’n wonderlike man,” het sy haarself probeer oortuig. “Die kersie op die koek na al die hartseer jare.” Sy het haarself ingelig Erik is net jaloers dat sy weer liefde gevind het en hy het nog nie weer ’n vrou gekry wat na sy egskeiding sy hart kon wen nie.
Maar daar was ’n saadjie van twyfel. Sê nou maar Klaus voel nie dieselfde as sy nie? Sê nou hy wil net ’n wonderlike vriend wees? Of, hy wil net die sjarmante galery-eienaar wees wat haar werk uitstal? Hoe dit ook al sy. “Erik is verkeerd oor Klaus, hy sal nog sy woorde sluk,” het sy haarself te midde van ’n groter wordende wolkwaas probeer oortuig.
’n Uur later het haar foon gelui.
“Meisiekind?” Haar hart het drie keer gehop. “Sit lipstiffie aan, ek is in die omgewing en ek wil jou ontvoer vir koffie.” Sy het bewend onder die stort ingespring en ’n wit linnerok oor haar kop getrek. Haar wange het van opgewondenheid gegloei en sy het krities na haarself in die spieël gekyk terwyl sy die rooiste lipstif in haar laai aangesmeer het. Sy het afgekyk na ouma Griet wat effe kwaai vanuit haar fotoraam loer. “Hy is oulik en sexy, Ouma. Dis wat ek nou nodig het. ’n Man wat my weer opgewonde sal laat voel. Ouma sal sien, Erik is verkeerd. Ouma gun my mos ook geluk?” Haar ouma het vir haar ekstra kwaai gelyk.
Klaus se 1957 Mercedes-Benz 190SL silwergrys Roadster het windmakerig by haar oprit ingetrek. Hy het sy toeter ’n speelse toet toet te roe toe toet toet gegee en haar hart het sommer vier keer gehop toe sy onweerstaanbare glimlag om sy mooi mond krul.
“En waarheen kan ek jou vandag ontvoer?” Hy het haar aan die hand geneem en haar onder sy arm deur laat tiekiedraai. “Hmmm, jy ruik na sjampoe en … wag, moet my nie sê nie. Is dit Michael Kors se Classic wat ek ruik?”
Hulle het deur die strate van die noordelike voorstede geswiep met die wind in haar hare. By Cynthia’s het hy galant die stoel vir haar uitgetrek en sy kon dadelik sien Klaus Verdoorn is ’n gereelde gas by dié uitgelese koffiewinkel.
Hy het die spyskaart uit haar hande geneem, “Laat my toe.” Die kelnerin het glimlaggend vir hom gekyk. “My gewone, asb!”
Sy hand was warm op hare en sy was bang hy sien hoe haar hart byna uit haar keel wil bons. Sy het benoud rondgekyk, en besef dit is nie die plek vir haar pyp nie. Sy sal haar senuwees self moet probeer kalmeer. Sy het diep uit die krop van haar maag probeer asemhaal om die bewing in haar binneste te bedaar.
“Meisiekind, ek het iets om oor te bieg. Ek hoop jy sal my vergewe, maar ek kan jou nie uit my kop kry nie. Jy laat my snags rondrol en as ek wakker word, is jy die eerste mens waaraan ek dink. Wag, moenie nou al reageer nie. Ek weet dit is oorweldigend, maar belowe my jy sal ’n paar dae daaroor nadink?”
Sy wou in sy arms spring en vir hom gil sy het niks om oor na te dink nie. Sy het skielik gevoel soos een van die heldinne in die dun liefdesromans wat mens in een middag deurlees. Kan dit wees? Kan iemand op haar ouderdom so oor haar voel? Kan sy vir iemand so opwindend wees? Hoekom kon Stoffel nie raaksien hoe lieflik sy is nie?
Stoffel se verraad het ’n diep letsel van twyfel in haar gemoed gelos. Dit het luidkeels tussen haar romantiese gedagtes oor Klaus deur probeer om haar daaraan te herinner dat sy nie meer haar eie natuurlike borste het nie en dat sy nie meer aantrelik genoeg was om haar huwelik te red nie.
Tussen die suising van emosies deur haar kop, het sy verlangs die diep stem van Klaus Verdoorn gehoor.
“Meisiekind, jy het die mooiste seeblou oë wat ek nog aan ’n mens gesien het. Van die eerste oomblik dat ek jou gesien het, het ek daarin verdrink.”
Klaus se woorde het reg uit een van daardie dun liefdesboekies gekom en Magriet het oorgegee aan die situasie. Net vir die een keer wil sy soos ’n romantiese heldin in een van daardie boekies voel. Sy wil ook onweerstaanbaar wees, sy wil ook bemind voel.
“Wow! Toe jy by jou stoeptrap afstap in daardie wit linnerok en jou hare nog so effe klam. Jy weet hoe om ’n man se hart aan die gang te skop, Meisiekind. Hierdie ou hart het lanklaas so lekker geklop.”
Holderstebolder, bollemakiesie, tiekiedraai … Magriet het gevoel sy sweef. Sy het diep in Klaus se oë gekyk en die lagplooitjies wat dit omraam, probeer tel.
Die kelnerin het ’n deurskynende teepot voor haar neergesit en stadig kookwater ingegooi. Die water het geelgroen verkleur en asof gehipnotiseerd het sy sit en kyk hoe die teeroos se blare stadig in die kookwater ontplooi.
“Net so het jy my verbitterde hart weer laat ontplooi, Meisiekind.” Sy oë het vol trane geskiet. “Na al die seerkry, na al die jare.” Hy het weggekyk en sy kon die trane in die hoeke van sy oë sien. Arme Klaus. Daardie nare geelpers-berig … Hy het seker ook al diep seergekry.
Hy het ’n paar keer diep gesluk en haar begin vertel hoe uitgehonger hy is vir ’n lewensmaat wat hy kan vertrou. Iemand wat sy eensame lewe kan deel.
“Ek dink jy het net so seergekry soos ek. Nê, Meisiekind? Ek kan dit in jou oë sien. Wie het jou so seergemaak?”
Sy wou haarself nog keer, maar Klaus het alle skanse om haar hart laat verkrummel. Sy het hom vertel van Stoffel, hul drome, die dubbele mastektomie, die verraad … en die onverwagse erfporsie.
Klaus het opgestaan en haar uit haar stoel opgetrek. Daar in die opstêrs koffiewinkel het hy haar vasgedruk soos geen man haar nog ooit vasgedruk het nie.