Een van die heel lekkerste dinge van vyftig-wees is dat ek geleer het om met humor en grasie saam te leef met al die oumensgoete wat my oënskynlik oornag in ’n vreemdeling in die spieël verander het. Toe ek nog in Suid-Afrika was, het ek vir daardie vreemde vrou in die spieël met die hangboude, hangtieties, wapperende bo-arms, kinnebakhaartjies, pruimpie-mond en kraaines-oë gekyk en gesê: “Jy kom ’n lang pad, ou Girl! Welgedaan!”
Maar toe land ek in Suid-Korea en verander binne ’n kwessie van sestien ure in ’n beeldskone, eksotiese swaan. Om elke hoek en draai is daar mans en vroue van alle ouderdomsgroepe wat nie kan wag om in Koreaans met baie handgebare vir my te verduidelik hoe mooi ek vir hulle is nie. Seuntjies en dogtertjies in my Elementary School (ons graad 3, 4, 5 en 6) sê heeldag: “Teacher berry beautibul!” Tienerdogters in my Middle School (ons graad 7, 8 en 9) bewonder my vel, my hare, my oë, my grimering, my juwele en my klere.
En dan is daar die tienerseuns wat my steeds elke keer uitboul met die onverwagse en onbewaakte kalkoenliefde-kyke in hulle bewonderende oë. Dan wil ek kamma-verras uitroep: “Hierdie pop is vyftig! Ek is horingoud! ’n Fossiel teen jou. Kan jy dit dan nie sien nie?” Maar dan glimlag ek skalks en soos mis voor die son transformeer die vreemdeling met die swaartekragprobleem in die spieël in ’n prinses. My binnegoed wat eens net binnegoed was, word pêrels. My arms, boude en tieties is weer op hulle plekke, my kinnebakhaartjies is skoonveld en my pruimbekkie is weer ’n pruilmondjie.
Graad aggies by Duryun Middle School
Omdat Suid-Korea so ’n homogene samelewing is, is elke liewe vreemdeling vir die Koreane beeldskoon, aantreklik en pragtig. Die blote feit dat ons so anders as hulle lyk, maak ons mooi. Volgens Westerse standaarde kan jy ’n Vaal Fiena wees of dalk selfs heel onaansienlik, maar in Korea word jy ’n filmster. Kinders gaap jou aan. Mans koop vir jou kitskoffie in ’n papierkoppie by die muntoutomaat. Vrouens stop jou ’n vrug of ’n ryskoekie in die hand. Ou tannies gee vir jou afslag as jy ietsie op straat by hulle koop. Ou omies soen jou hand ewe galant.
Menige kere stap ek met ’n glimlag en ’n traan weg van so ’n interaksie. ’n Glimlag omdat dit vir my baie snaaks is dat ek nou op vyftig al hierdie aandag kry waaroor ek so gedroom het toe ek ’n onbeholpe, puisiegesig-tiener was. ’n Traan omdat ’n hele samelewing blind is vir hulle unieke skoonheid, omdat hulle hunker na perfeksie ook in hulle voorkoms, omdat hulle eerder soos iemand anders wil lyk as soos hulleself en omdat die meetsnoer waarmee hulle meet so vreeslik krom is.
Kollegas by Duryn Middle School