Hy het al met Nelson Mandela, Arnold Schwarzenegger, Bill Clinton en die beeldskone Sophia Loren onderhoude gevoer, maar as jy akteur, aanbieder en vervaardiger Hannes van Wyk vra wie hy die meeste bewonder, is dit sy ma, Mariet van Wyk (83), wat in ’n aftreeoord op Aliwal-Noord woon.
Hierdie gewilde Kwêla-aanbieder se boek, Vroue na aan my Hart (Human & Rousseau), vier nie net die lewe van sy ma nie, maar ook dié van talle vroue wat deur die jare sy loopbaan en lewe gekruis het, soos Emsie Schoeman, Carike Keuzenkamp en Elize Cawood.
Ons het hom leer ken as Krynauw in Egoli: Plek van Goud (1991) en daarna het hy rolle in reekse en flieks ingeryg, soos in Susanna van Biljon, Vallei van die Sluiers, Manakwalanders,
Torings en ook in die sepie 7de Laan.
Die vroue waaroor hy in sy boek skryf, het die pad saam met hom geloop, en hierdie oudhoofseun grond alles op die opvoeding wat sy ma en ander vroue soos Enie wat by hul gesin gewerk het, vir hom gegee het. (Hy staan ’n hoofstuk in sy boek aan Enie af.)
“Ek bewonder vroue soos sy omdat sy ondanks haar armoede altyd so positief was. By haar het ek geleer van lojaliteit en lewensvreugde. Ek haal my hoed af vir wat vroue alles kan vermag. Ek dink vroue is die sterker geslag en hulle is die gom wat die gesin aanmekaarhou.”
“Ek dink vroue is die sterker geslag en hulle is die gom wat die gesin aanmekaarhou”
Sy inspirasie vir die boek het by die primêre versorgers van sy lewe begin.
“By my ma het ek so baie geleer – eintlik alles geleer; daardie basiese en eenvoudigste dinge soos om ander te behandel soos jy behandel wil word. Sy het my geleer om hard te werk en dat jou woord jou eer is. Sy het my geleer geen mens is belangriker as ’n ander een nie. Ek skryf baie oor haar in die boek en die boek is ook aan haar opgedra.”
Hy bewonder sy suster, Wena, wat ook al deur moeilike tye is.
“By haar het ek soveel lewenslesse geleer, soos om nie lelik van ander mense te praat nie – nie dat ek dit altyd regkry nie. Sy het my geleer elke mens is uniek, en al hou jy nie van almal nie, kan jy moeite doen en die goeie eienskappe raaksien.”
Hy noem ook van sy onderwyseresse in die boek, soos juffrou Loretta de Bruin en Miss Riëtte de Wet.
Sy uitgewer het hom gevra om te fokus op bekende plaaslike vroue wat hy ken en bewonder, en wat ’n invloed op sy lewe en loopbaan gehad het. Hy sê die gewone ma en vrou wat nie noodwendig in die kollig is nie, lê hom gewoonlik die naaste aan die hart; vroue wat soveel opoffer vir hul gesin.
Hy gee nie aandag aan oorsese vroue in sy boek nie, maar as hy kon, sou hy aktrises soos Maggie Smith en Shirley MacLaine ingesluit het. Sterk, vaardige vroue.
As hy saam met enige vroue in die geskiedenis om ’n tafel kon sit en klets, sou dit Emily Hobhouse ingesluit het.
“Daar is so baie onwaarhede oor haar vertel terwyl dit vir haar oor regverdigheid gegaan het, en om ander se lewensomstandighede te verbeter.”
Hy sou die legendariese aktrise Wena Naudé graag wou ontmoet, want hy beskou haar as een van die natuurlikste aktrises.
“Al haar karakters het altyd ’n menslikheid uitgestraal.”
Hy skryf ’n hoofstuk oor prof. Anna Neethling-Pohl en sou graag ’n paar uur met haar wou sit en gesels.
“Ek dink saam met haar sou daar nie ’n vervelige oomblik wees nie! Ek het haar ’n paar keer ontmoet en sy het geen nonsens van niemand gevat nie. Sy was uniek.”
En aan sy kletstafel sal hy altyd ’n plek vir onbekende vroue hou. “Gewone ma’s. Ek wed jou in ’n geselskap is hulle diegene wat my die meeste sal beïndruk.”
Al gedy hy in sy posisie as Kwêla-aanbieder herinner hy jou daaraan dat hy eintlik as akteur opgelei is. Hy het B.A. drama aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en het ’n lang draai deur die destydse streekskunsterade Sukovs en Truk gewerk voor hy ook ’n B.A. Ed. graad voltooi het.
“Ek sal seker altyd in my hart akteur bly, maar dit is lekker om ’n joernaalprogram aan te bied. Dit bly wel ’n uitdaging om elke keer op daardie bank te gaan sit.”
Hy skram weg van die term “gedrewe”.
“Ek sal seker altyd in my hart akteur bly, maar dit is lekker om ’n joernaalprogram aan te bied”
“Ek dink nie ek sal dit ‘dryf’ noem nie. Ek werk baie hard, maar ek probeer ook om dinge te geniet. Ek is nou al 25 jaar lank in die bedryf, maar ek leer nog elke dag.”
Hy bestee baie tyd aan die voorbereiding vir sy Kwêla-onderhoude.
“Ek probeer alles lees, weet en kyk van die mens met wie ek gaan gesels, of bestudeer ’n spesifieke onderwerp. Slegs dan glo ek dat dit goed kan werk. Ek vra vrae waarvan ek die antwoorde wil hoor, en vra ook ander wat hulle wil weet van die mens met wie ek ’n onderhoud voer. Die tydsaspek is vir my moeilik. Dit is maklik om lang onderhoude te doen, maar die kuns is om ’n onderhoud van agt of tien minute te doen. Jy het min tyd om die essensie van die mens saam te vat.
“Luister is natuurlik uiters belangrik. Dit gaan nie oor die aanbieder/onderhoudvoerder nie, maar oor die mens met wie jy die onderhoud doen. Elke onderhoud is vir my heerlik en ’n groot uitdaging.”
Hy is een van daardie mense wat dit regkry om sy loopbaan gereeld ’n nuwe kinkel te gee. Hy herskep homself en bestuur sy loopbaan met doeltreffendheid. “Ek is gelukkig om te kan sê dat dinge op my pad gekom het danksy harde werk en baie genade.”
Aan die begin van sy loopbaan het hy baie geleer en die verhoogwerk vir die streeksrade was vir hom ’n goeie fondament.
“Daar het ek die geleentheid gehad om saam met ouer, wonderlike akteurs te werk en baie te leer.”
Ook TV-reekse het sy loopbaan help vestig. Hy het sy eerste hoofrol in Torings gekry en dit het hom op koers geplaas. Daarna het Egoli gekom en nog deure oopgemaak.
“Nou is ek in die gelukkige posisie om te speel en aan te bied. Dit is twee verskillende wêrelde, want om ’n karakter te vertolk gaan delf jy rond en jy ‘speel’ iemand anders. As aanbieder is jy net jouself en moet jy sorg dat jy jou onderwerp ken, en jou navorsing en huiswerk baie goed doen.”
Kwêla sal die res van die jaar die botoon in sy werk voer, maar hy gaan ook die kans kry om aan twee televisiereekse te skiet wat aan die einde van die jaar/ begin volgende jaar te sien sal wees. Sy boek het tot baie praatjies by vroue-oggende gelei en hy sê hy kuier tog te heerlik saam met almal. Hy is ook spelvervaardiger by die sepie Suidooster.
Hy hou daarvan om besig te wees. Hy beplan ook ’n eenmanstuk saam met die skrywer Dana Snyman en dan is daar sprake dat die toneelstuk Voor ek Vergeet, wat hy en Amanda Strydom ’n paar jaar gelede opgevoer het, weer op die planke gebring sal word. Hy beskou laasgenoemde as een van die hoogtepunte van sy loopbaan en die stuk is steeds in aanvraag.
Ná soveel jaar in die bedryf kyk hy dikwels terug op hoogte- en laagtepunte, maar eendag, as hy sy loopbaan afsluit, sou hy nie glans en roem wil sien nie.
’n Mens sou dink ’n akteur sou wou hê dat mense hom as briljante akteur moet onthou, maar vir Hannes is dit belangriker dat sy nalatenskap sal wees dat hy ’n indruk gemaak het deur ’n goeie mens te wees. “Mense moet my onthou omdat ek omgee, omdat ek omgegee het vir ander mense. En omdat ek net myself was.”