Soms is doen makliker as dink. So, op die ingewing van die oomblik. Daardie punt as tyd, geld, mense, moeilikheid, nagevolge of wat-gaan-ander-sê nie tel nie. Niks tel nie.
Want om jou dagtaak met familie en vriende te deel is een ding. Deel dieselfde storie met vreemdes in jou eie land en jou keel trek stilweg toe. Jy trek jou beste hakke aan en stoot jou skouers terug. So ja. Dan, op ’n spesifieke oomblik op ’n spesifieke dag doen jy, sonder om te dink. Basta met tyd, mense, moeilikheid, nagevolge of wat-gaan-ander-sê.
Jy deel jou storie met mense in ’n ander land.
Dink ek terwyl die stasies een-een by my verblyflits. Ver van die huis, op die DLR-lyn op pad Londen in. Prince Regent. Custom House for ExCel. Royal Victoria. Canning Town. Klim dan oor op die grys Jubilee-lyn. North Greenwich. Canary Wharf. Canada Water. Bermondsey. London Bridge. Southwark. Waterloo. Westminster. Green Park.
Klim uit neffens Piccadilly Circus, met Leicester Square en Oxford Circus klipgooie ver.
“Mind the gap” hoor ek iemand waarsku as ek trein-uit my pad deur die menigte vind. Watwou, dink ek. Soms is doen makliker as dink, draai die refrein. Vat die gap as hy daar is.
Ek vergeet van die swak Rand en die sterk Pond en kyk Londen en sy mense vierkant in die oë. My beste hakke aan. Dankbaar dat swart ’n kleur is waarsonder ek nie hier, ’n nagreis van die huis, sou oorleef nie. Swart skoene, swart kouse, swart broek, swart hemp, swart baadjie . . . alles swart. Nes die honderde om my, in swart.
Die nuus dat die werk wat ons in Suid-Afrika doen om verandering aan werknemers te kommunikeer op die kortlys vir ’n internasionale toekenning is, had my sprakeloos. Die ander op die kortlys groot internasionale ondernemings, honderde werknemers en onbeperkte begrotings.
Vat die gap as hy daar is, dink ek weer. Deel jou storie met mense in ’n ander land.
Laataand vind ek my pad terug hotel toe, weer die grys Jubilee-lyn. Green Park. Westminster. Waterloo. Southwark. London Bridge, Bermondsey. Canada Water. Canary Wharf. North Greenwich. Canning Town. Uit en in. Op pad na Royal Victoria. Custom House for ExCel. Prince Regent. Royal Albert. Oeps. Kom my fout agter, klim uit. Wag vir die volgende trein. Royal Albert, uit by Prince Regent. So ja.
Dis eers die volgende aand, as Londen in sy menigte toesak op die blinknuwe (of so lyk dit) ExCel konferensie- en uitstalsentrum, op sy Engels geklee in aandtabberts en strikdasse dat die werklikheid van die wêreldverhoog my tref. Wat ek weet: om jou dagtaak met familie en vriende te deel is een ding. Deel dieselfde storie met vreemdes in jou eie land, toegetrekte keel en al. Trek jou skouers terug en vertel dan dieselfde storie vir wêreld.
Wat kan jy verloor?
Die waarheid is: Mind the gap. Vat die gap.
Tot volgende week, as ek terug is in Suid-Afrika.
Marí
www.incontext.co.za
NS: Ons het nie die prys gewen nie, maar die wêreld het ons Suid-Afrikaanse storie gehoor.