Ek weet nie wát om te dink nie. Is dit lekker op die aarde, of nie?
Ek het ‘n pa gehad wat uit sy maag kon lag en ‘n ma wat enige bederfkans voluit kon geniet, maar die kerkleer waarmee ek grootgeword het, het gepraat van die ondermaanse as ‘n “jammerdal”.
As kind het ek die grootmense dopgehou en gesien dat baie swaarkry terwyl ander dapper die beste van ‘n slegte saak probeer maak. Jare lank het ek gereken dís hoe dit werk: as die prentjie vrolik en kleurryk is, is jy net gelukkig. Dit kan enige oomblik verander en dan moet jy keer waar jy kan.
Nogal ‘n demper, hierdie uitkyk. Selfs wanneer dit goed gaan, hang die vrees vir rampspoed soos ‘n swaelreuk oor jou feestafel.
Tot my verstomming het ek gesien daar is mense wat kan feesvier sonder om hulle oor die “wat as” te bekommer. Wanneer die ergste gebeur – selfs die dood van ‘n geliefde – sny die seer tot op die been, maar mettertyd kry hulle hul geloof in die lewe terug. Hulle dra nie maskers nie. Hulle is deurleef.
Wat sê dit oor die aarde en hoe lekker dit hier is? Dalk dat “lekker” dimensies het en dat die hoogste vlak, vreugde, soms die keerkant is van die diepste leed.
Die saliges wat dit weet, probeer nie meer keer nie. Hulle leef met die verwagting dat daar salf vir die seer sal wees.
Dis hulle wat die dag groet met “More, jou mooie more!” en skelmpies ‘n paar Smarties by die ontbytpap gooi.