As verslaggewer het ek dikwels die gesegde gehoor: “Moenie dat die feite inmeng met ’n lekker storie nie.”
Dit is altyd spottenderwys gesê want ons het geweet hoe belangrik dit is om die korrekte feite te publiseer.
Maar, dikwels gebeur dit dan wel só dat die feite heelwat vreemder as fiksie is.
Ek onthou byvoorbeeld die storie van ’n baba wat met vier tande gebore is. Die pasgeborene het Colgate-smaail en skrefiesogies vir die koerantfotograaf poseer.
In ’n ander geval is ’n oom van ’n buurdorp se bierglas fyn en flenters langs hom geskiet terwyl hy sit en rugby kyk – vermoedelik deur ’n dwaalkoeël wat kilometers verder afgevuur en deur die oom se plafon projektiel het.
Dan was daar ook die bejaarde tannie wat haar veel jonger buurman om elke hoek en draai beloer het. Soms met ’n verkyker, soms sommer so ooglopend oor die tuinmuur. Dag en nag. Buurman was só raadop dat hy naderhand ’n hofbevel teen haar gekry het.
Die meeste van ons het al een van daardie “Wát?”-oomblikke beleef waar jy skaars kan glo wat jy sopas sien gebeur het.
Die afgelope paar jaar het ek onwillekeurig begin wonder of ek moontlik ’n magneet is vir raar-maar-waar ervarings.
So ’n jaar of drie gelede kry ek via ’n sosiale netwerk ’n boodskap van iemand wat saam met my op skool was. Hy en sy gesin beplan om vanaf die Suid-Kaap via Worcester Kaapstad toe te ry en hulle wil graag kom koffie drink. Iets wat opsigself seker nie vreemd is nie, want hoewel die skoolmaat nie in dieselfde jaargroep as ek was nie, het ons soms op universiteit mekaar raakgeloop.
Datum en tyd is afgespreek en ek het spesiaal die tuisnywerheid ondersteun vir die koffiekuier.
Met die intrapslag sien ek egter dat Skoolmaat se vrou glad nie die spreekwoordelike Engelse Roos is nie, maar wel meer van ’n Ingelssprekende doring. Aan haar gesigsuitdrukking was dit duidelik dat hierdie kuier haar nou glad nie welgeval nie. Baba op die heup groet sy met ’n onderstebo glimlag en knor net so af en toe iets onverstaanbaars as mens haar uit Boere-ordentlikheid probeer betrek by die gesprek.
Ons het op die boonste verdieping in my kinders se speelkamer gaan sit sodat hulle dogtertjie en baba met my kinders kan speel terwyl die grootmense gesels. Maar, kort-kort wil Doringrosie eers iets in die motor gaan haal, of badkamer toe gaan op die onderste verdieping en kort voor lank weer iets in die motor gaan haal.
Toe ek, goedbedoelende gasvrou wat ek is, die derde keer aanbied om saam te stap motor toe, knor sy só, dat ek maar druipstert by die voordeur vir haar staan en wag. Waar ek toe nou ook oplet dat my rooi selfoontjie nie meer aan die batterylaaier gekoppel lê op die kombuistoonbank neffens die voordeur nie. Ek noem nog ewe vir die gaste dat dit baie vreemd is, want die voordeur was tog gesluit. En ek begin soek.
Skoolmaat stel nog voor ons bel die foon, maar daar is geen luitoon aan die ander kant nie. Wat my onmiddellik agterdogtig maak. Skoolmaat vra of my huishulp dit nie moontlik op ’n ander plek sou gesit het terwyl ons bo kuier nie. Al soekende antwoord ek dat ek nie ’n huishulp het nie. Waarop Doringrosie begin rondtrippel en kwaai met die oge na Skoolmaat beduie dat hulle hulle ry moet kry. Maar, sy wil glo net gou eers wéér ’n draai loop.
Skoolmaat maak nog verskoning dat dit maar moeilik is so met ’n baba op die pad en jammer hulle het so kort gekuier en daar gaat hulle.
Na hulle vertrek gaan help ek gou my dogtertjie in die badkamer en let op dat die handdoek wat altyd presies hoekig op die badkamertrollie lê, nou vreemd gefrommel ingebondel is. Toe ek die handdoek uithaal om weer te vou, val my verdwene rooi foontjie uit die frommels.
Foontjie is morsdood en die SIM-kaart is uitgehaal. Ek bel dadelik Vodacom om my SIM-kaart te stop en begin twee-en-twee bymekaarsit. Ek gaan kyk weer op die badkamertrollie onder die handdoek en sowaar-as-vet: Daar lê my SIM-kaart netjies in die hoekie weggesteek.
In hierdie stadium het die “Wát?!”-gevoel al redelik plek gemaak vir vreeslike viesgeit, want nou moes ek met twee moeë kinders op sleeptou ’n SIM-omruiling gaan doen. En dit omdat iemand gedink het ek deel fone saam met koffiekoekies uit…?
Ek het uit pure ontsteltenis ook sommer gou ’n speurder uit my misdaadverslaggewerdae gebel en hom die storie vertel. Hy het my vermoedens beaam dat die senuweeagtige gas dalk lang vingers het en hy het haar man gebel om kamstag te verneem of hulle nie dálk iemand verdag op die perseel gewaar het nie…?
Hy het die pap ook sommer lekker dik aangemaak oor die diefstalsaak wat hy nou ondersoek en vingerafdrukke wat geneem gaan word en weereens vriendelik versoek dat Skoolmaat tog moet laat weet as iets hom byval wat moontlik ‘n leidraad kan wees in die Saak van die Rooi Foon.
Kort voor lank het ek gesien dat ek van Skoolmaat se sosiale netwerk geblok is – ek vermoed Doringrosie het die knoppie met haar lang vinger gedruk in ’n poging om haar senuweeagtige spore uit te wis.
Ek het die gesin nou onlangs weer in die Kaap in ’n winkelsentrum raakgeloop en Skoolmaat het vriendelik gegroet en ’n geselsie aangeknoop. Wat my laat vermoed dat hy steeds nie bewus is van présies hoe graag sy Ingelse vroutjie ’n rooi foontjie wil hê nie.
Gepraat van winkelsentrums. Ons almal weet dat openbare kleedkamers maar ’n risiko of twee inhou. Maar, ek wonder of ek die enigste een is wat al deur die plaaslike krôsdrêsser (dis nou ’n mannetjiesmens in wyfiekantkleertjies) gestormloop is voor so ’n kleedkamerspieël en luidrugtig meegedeel is hoe baie hy/sy van my skakering lipstiffie hou?
En te midde van klingelende armbande en teatrale lipsmakke sien hoe my lipstiffie waarmee ek steeds besig is, gegryp en summier aangewend word. “Amazing, GIRL, amazing…!”
“Ja, Swaer, voorwaar ongelooflik,” het ek stomgeslaan in my kop opgesom wat sopas gebeur het. En mededeelsaam het ek aan die kleptomaniese wyfieknaap beduie dat hy/sy welkom is om maar die lipstif te hou. Pasella, vir jou, Outjie-vroutjie.
Sedertdien is ek nogal katvoet vir kleedkamers en dra ek meer bedeesde, minder opvallende lipskakerings.
Ons middedorp is dikwels ook ’n groot bron van “Wát?!”-oomblikke.
Ek het onlangs ’n winkel in die hoofstraat se somerserpe net so regs van die winkeldeur staan en bewonder. Die volgende oomblik bars daar ’n opgeskote knaap in en met ’n bloedstollende gil karatetjop hy die een winkelpop se kop skoon van haar lyf af. Die winkelpop het nie ’n oog geknip nie. Ek en die winkeleienaar moes wel ’n oomblik neem om weer tot verhaal te kom.
Van toe af neem ek my agtjarige met die geelbelt saam op serpinkopies in die middedorp.
Op die plein in die middel van ons dorp woon ’n groepie haweloses wat soms rondom sononder graag heen en weer oor die omringende strate in adamsgewaad slenter. Dit mag wees dat hulle enigste kledingstukke gewas is en iewers droograak, maar as ek met my kroos deur die dorp ry, verwag ek darem dat die pleinbewoners die “een in die was, een aan die bas”-beginsel sal eerbiedig.
In die parkeerarea aan die een hoek van die plein woon daar ’n bejaarde oom in sy Volkswagen-kewertjie. My kinders praat van die Herbie-oom.
Dag in en dag uit sit die oom daar in sy Kewer waarvan die ruite alles toegeplak is met koerantpapier. Die agtersitplek is oorlopens vol beddegoed en besittings. Die oom sit bedags netjies geklee in die bestuurdersitplek so met sy regterbeen uitgestrek in die son.
Wat en waar eet hy? Waar bad hy? Saans trek hy die deur dig en verdwyn agter die koerantpapierruite.
’n Domineevriend vertel dat verskeie Samaritane al ’n poging aangewend het om die omie van beter blyplek te voorsien, maar hy steek viervoet vas. Hy bly in sy wit Kewer en basta.
Saterdag sit en wag ek saam met my dogtertjie by die dokter. ’n Erg omgeëlliede omie en sy vrou kom van die apteek se kant af gestap en gaan sit so skuins voor my.
“Nee wat, nou kan jy maar netsowel vrek,” brom die oom vir sy vroutjie. Sy sit en staar net verwese na die grond.
“Jou hartpille is nou belaglik duur. Waar dink hulle moet ek die geld kry?” tier hy voort. “Nee wat, nou moet jy maar vrék,” verklaar die ou Vrek.
Dag ek by myselwers: Die waarheid is soms vrek vreemd.