Ek sien die binnekant van lughawens baie. Soms maandeliks, maar hier teen die einde van die jaar meestal weekliks.
En elke keer, sonder uitsondering, is daar ‘n medereisiger of twee, drie wat my laat kyk, en kyk.
Daar’s die belangrike saaklikes; sommige van hulle dra swaarder aan hul stresbagasie as aan hul handbagasie. Altyd, maar altyd, klemmend aan ‘n selfoon. Gefokus. Gedrewe. Gedaan.
Kort op hul hakke stap die vreemdes. Dit “oe” en “aa”, raas en blaas. Maar dis dié wat maak of hulle jou in jou eie land nie sien nie wat my grief en gril. “Wat maak jy hier?” wil ek jil. Soms gil. Want hulle kyk, maar nooit in jou oë nie. Bo-oor jou, altyd so bietjie-bietjie verhewe bo Mama Afrika se derdewêreldse prag.
Maar my gunsteling bly die traneriges. Triestig. Gebroke. Geboë. Op pad na die naaste badkamer of koffietroos. ‘n Geliefde aan die anderkant van koue sekuriteitshekke, ‘n tyding in die aankomssaal, ‘n koebaai, die alleen-vrees van ‘n nuwe reis, ‘n nuwe kans . . .
Trane het my nog altyd getrek. Ek huil graag, maklik, en oor enige iets. “Huil my kind, huil jou hart uit,” hoor ek Pappa se radelose kleintyd-troos. En dan trek ek my kop toe, en tjank om elke liewe laaste traan te stort. Mens móét huil. Gereeld en genoeg. Dis goed vir jou, glo ek.
Maar op een plek stort jy nooit ‘n traan nie. Nie ‘n enkele een nie. Al gebeur wat. Jy huil nie op kantoor nie. “As jy moet huil doen jy dit waar niemand jou kan sien nie. As jy klaar is plak jy jou spore toe en sit jou lipstick aan,” hoor ek my eerste gedrewe vrouebaas dreun. “Jy huil nie op kantoor nie.” Al hou jy ook van huil en al glo jy dis goed vir jou.
Ek sluk en pantser my binneste. Jy huil nie op kantoor nie.
Dié week sit ‘n jongeling in my kantoor. Hande bewend, oë op die grond. Hy sê niks. Snik. Snik. En snik. Sy jongmens-wêreld druk, drome is aan skerwe, dinge donker. Sy reis swaarder as dié van die lughawe-traneriges.
Ek’s ongeduldig, vies. Ek word ‘n belangrike, reisende saaklike. My eie stresbagasie swaar. Ek’s gefokus, gedrewe en gedaan. Die vreemde in my stap ook nader. “Wat maak jy hier?” wil ek jil. En gil. Ek kyk bo-oor hom. Net, dalk net, ‘n tikkie verhewe bo sy triestigheid.
Jy huil nie op kantoor nie.
Gistermiddag is ek weer op die lughawe, stap verby die soveelste advertensie vir The Little Mermaid. Hans Christian Andersen se woorde skielik in my kop: “But a mermaid has no tears, and therefore she suffers so much more.”
Ek dink aan die stresbelaaide saaklikes, die vreemdes wat bo-oor alles kyk, die traneriges en die jongeling in my kantoor.
Ek dink: huil maar as jy moet. Dit maak die las ligter, die lyding ook. En op kantoor? Huil waar niemand jou kan sien nie. Plak jou traanspore toe en onthou die lipstick.