Presies ses dae na my fantastiese vyftigste verjaarsdag in 2013 het ek in ’n oogwink die besluit geneem waarop ek my die grootste gedeelte van my grootmenslewe voorberei het: Tot hier toe en nie verder nie! Hier is ’n lewe wat geleef moet word en nie bloot oorleef word nie.
Die feit dat ek heerlik agteroor gesit het in die gemaksone van ’n goeie bestuurspos in een van die vier grootste professionele dienste firmas in die wêreld het die besluit geensins makliker gemaak nie. Ek is ’n enkelouer, geskei, huiseienaar, motoreienaar en flink op pad na ’n rustige en gemaklike aftrede. Maar ek het nog altyd ’n ongedurigheid in my binneste rondgedra wat my elke dag in ’n hoek vasgekeer en gevra het: So, is dit nou wat jy leef noem? Gaan jy elke dag tot jou aftrede kla oor te veel om te doen, te min tyd, te veel gejaagdheid, te veel spanning, te veel geraas, te veel druk?
Ryslande in die herfs in Jeollanam-do provinsie, Suid-Korea
My seun is goed ingeburger op universiteit in Stellenbosch wat in elk geval beteken dat ek hom slegs vakansies sou sien. Danksy ’n uiters suksesvolle rugoperasie in 2013 het ek ‘n spiksplinternuwe rug en dan is daar ook al die ander groot en klein momente wat in plek geval het sodat ek uiteindelik aandag aan die ongedurigheid kon gee.
Vyf dae na ek my besluit geneem het om die lewe wat ek gehad het vaarwel toe te roep, het ek ingeskryf vir ’n TEFL-kursus. (Teaching English as a Foreign Language). ’n Maand en drie weke nadat ek vir die kursus ingeskryf het, het ek bedank en nog ’n maand later klaargemaak met die lewe in die korporatiewe wêreld. Nog ’n maand en drie weke na my laaste werksdag het ek die werksaanbod ontvang wat ek geweet het is myne en drie weke later het ek myself bevind op ’n vliegtuig op pad na Suid-Korea met ’n totaal van 30 kilogram bagasie in een tas en twee rugsakke vir ’n jaarkontrak.
Seoraksan Nasionale Park, Gangwon-do provinsie, Suid-Korea
Dis nou reeds ses maande dat ek ’n Engels tweede taal onderwyseres in Suid-Korea op die platteland is en ek het die wonderlikste wedervaringe waarvoor ek elke dag oneindig dankbaar is en sal dit graag met julle wil deel. Ek het geleer dat ons altyd ’n keuse het selfs al voel dit asof jy in ’n hoenderhok sonder deure of luike vasgekeer is.