Jy noem die cholesteroltoets eintlik ’n “lipogram”, sê prof. David Marais, hoof van die lipiedkliniek by Groote Schuur-hospitaal. “Lipied” beteken vet, waarvan twee hoofsoorte gemeet word: cholesterol en trigliseriede. As dit kom by ’n lisensie vir jou hart, is altwee belangrik. Dís wat die syfertjies beteken.
Trigliseriede (TG)
• Wat dit is
Dis die hoofkomponent van alle vette en olies, en ’n vastende TG dui aan hoeveel vette in ons bloed dryf – gereed om op ons slagaarwande neer te slaan.
• Lees dit
– onder 1,7 mmol/L. ’n Ster vir jou. En kry ’n goeie pensioen, want jy kan baie oud word.
– 1,7–2,5. Die lekker lewe. Jy toets die grense en kon tot nou toe wegkom. As jy reeds oorgewig, insulienweerstandig, potensieel diabeties is en/of alkohol misbruik, is dit tyd om groot te word en die feite in die oë te kyk.
– bo 2,5. Jou telling word baie beslis met hartkwale geassosieer. Jy kan binne tien jaar jou eerste hartaanval of beroerte kry – dis nou tensy jy die uitdaging aanpak en sake red.
• Kortpadplanne
Die belangrikste is om die vettekonsep reg te verstaan: jy moet vette eet; jy moet so min moontlik vette eet; en die vette wat jy inkry, moet van die regte soorte wees.
• Opgesom
Sorg vir ’n klein bietjie omega-3 en die ander poli-onversadigde vetsure, soos in olies, neute, sade en avokado’s en sny transvette uit (supermarkkos met die woorde “transvette” of “gedeeltelike gehidrogeneerde vette” op die etikette).
1 Stysels het niks direk met vette te doen nie, maar hulle stoot ook ons trigliseriede op.
2 Oefen ’n bietjie meer.
3 Drink ’n maksimum van een glas wyn of bier per dag.
4 Gesels met jou dokter oor jou ander medikasie: party kan jou trigliseriede effens opstoot, soos estrogeen, die Pil en kortisoon.
Totale cholesterol (TC)
• Wat dit is
Dit dui die telling van al die soorte cholesterol in jou bloed aan.
• Lees dit
– onder 5: ’n Droomtelling. Cholesterol het onverdiend ’n baie slegte naam. In werklikheid het jou brein ’n goeie skoot cholesterol nodig, word jou hormone uit cholesterol opgebou en hou dit jou selwande gesond – alles goed solank jou telling onder 5 bly.
– 5–7,5: Jy val in die tussengroep: Nou gaan dit oor watter ander risikofaktore bykom. As jy diabeties is, ook hoë bloeddruk het, of rook, het jy ’n besliste risiko. Jy sal jou leefstyl ’n klein bietjie moet regtrek en/of op medikasie moet kom. ’n Verrassing agter hierdie telling: dit kan ook verklap dat jou niere of skildklier swaarkry, wat ook ondersoek moet word.
– bo 7,5: Jou risiko op hartkwale voor sestig is baie hoog. Wees goed vir jouself en maak ’n plan.
• Kortpadplanne
Net soos vir jou trigliseriede. ’n Paar ekstra idees:
1 Sny op dierevette, soos ryk vleis en eiers, want hulle is cholesterolryk en stort ekstra cholesterol in jou reeds oorlaaide liggaam.
2 Probeer kleiner porsies.
3 Sny die vet van jou vleis af.
4 Ontvel jou hoender.
5 Koop die nuwe vetvrye spek.
6 Kies ham eerder as polonie of salami.
7 Maak bredies eerder as om vleis in olie te braai.
8 Kook jou groente en geur dit met kruie eerder as om dit in olie, botter, degies, gekoopte pakkies sous of kaassouse te verdrink.
Laedigtheid-lipoproteïen-cholesterol (LDLC)
• Wat dit is
Dis dié nadelige lipoproteïen wat cholesterol in die slagaarwande laat aanpak en aterosklerose veroorsaak, en daarom jou heel belangrikste telling. Omdat viér keer meer vroue aan hartsiektes as aan borskanker sterf, sal jy dink die meeste van ons ken ons LDL-syfertjie en sorg dat hy laag bly …
• Lees dit
– onder 3 mmol/L nog ’n goue ster.
– bo 3 hoe hoër, hoe groter is jou risiko op ’n beroerte of hartaanval.
• Kortpadplanne
Dieselfde veranderinkies – minder vette, minder stysel, meer oefening – sal jou LDL laat sak. Maar jou dokter gaan jou waarskynlik op medikasie ook sit. Daar is ’n paar interessante wanopvattings oor LDL-cholesterol – almal omstrede en nog sonder deurslaggewende bewyse. Die jongste is dat mieliesuiker (corn syrup, maize syrup, isoglucose, die versoeter in talle pakkies en sakkies en supermarkkos en selfs in dieet- en gesondheidskosse) die eintlike sondaar agter hoë LDL-vlakke is. ’n Ouer, meer bekende een is dat hoë dosisse antioksidante hartsiektes keer. Dit lyk asof LDL net in sy geoksideerde vorm op die aarwande neerslaan; in teorie behoort genoeg antioksidante soos vitamien E in jou bloed dus te keer dat LDL oksideer en kan neerslaan. Dit gebeur wel in die proefbuis maar tot dusver is daar nie bewyse dat dit in die praktyk in die liggaam oksidasie keer nie. Help antioksidante? Dr. Marais twyfel. Jou geld is waarskynlik beter bestee as jy in rooi, geel en groen groentes belê, wat ook propvol antioksidante én ander voedingstowwe is.
Hoëdigtheid-lipoproteïen-cholesterol (HDLC)
• Wat dit is
Jou helende of helpende HDL vervoer die oortollige cholesterol vanaf jou selle terug na die lewer. Anders as die LDL wat ons almal meestal met ’n stryd laag hou, sal jy hier moet kyk hoe jy dit kan opstoot – maar net tot op ’n punt.
• Lees dit
– 1,2: perfek as jy ’n vrou is
– 1,0; perfek as jy ’n man is
– 0,6-2,5: binne die aanvaarbare grense
– bo 2,5: te veel is toe nie beter nie en kan aan onder meer ’n ooraktiewe skildklier verbind word.
• Kortpadplanne
1 Aërobiese oefening wat jou asem vir minstens ’n halfuur laat jaag, soos trappe uitdraf, vinnig stap, ’n lekker danssessie op jou Zumba- of skopboks-DVD, paaldans, oefenfiets trap, muurbal, fietsry, touspring – die opsies is legio.
2 Hou op rook.
3 Daar is navorsing wat aandui dat ’n glasie wyn (nét een) per dag jou HDLC effe verhoog.
C-reaktiewe proteïen
• Wat dit is
’n Hoër vlak dui op inflammasie iewers in jou liggaam. Omdat atero-sklerose (die aanpak van cholesterol in jou slagaarwande) inflammasie veroorsaak, klink dit na die ideale toets daarvoor. Die probleem is dat jou lewer C-reaktiewe proteïen maak in reaksie op énige seerkry – al is dit net ’n bloukol wat jy op pad na die laboratorium opgedoen het.
Dit maak ’n enkele toets met ’n verhoogde waarde onbetroubaar. Maar as jy ’n paar keer getoets is – jy sal darem nie elke keer ’n bloukol opdoen nie – en jou syfer bly bo 2, verdubbel jou risiko op ’n hartaanval.
• Lees dit
– Onder 1 mg/L Dis die droomlesing.
• Kortpadplanne
Hieroor stem almal ook nie saam nie, maar daar is navorsing wat aantoon dat ’n kwart aspirien per dag inflammasie voorkom. Maar aspirien kan bloeding onder die vel aanmoedig en die maagwand beskadig – en is beslis nie vir almal nie.
Lipoproteïen (a)
• Wat dit is
Daar is nog bitter min oor hierdie lipoproteïen bekend, buiten dat hoër vlakke bloedstolling aanhelp en met hartaanvalle, aterosklerose en beroerte verbind word. Dit word eintlik selde getoets.
• Lees dit
– onder 35 mg/100 ml: perfek
– bo 75: te hoog en tyd om te kyk wat jy kan verander
• Kortpadplanne
Daar is geen medikasie wat jou kan help nie, en aan risikofaktore soos jou ouderdom en dat hartkwale in jou familie loop, kan jy niks doen nie. Die beste is om te werk waar jy ’n verskil kan maak, soos aan jou dieet, hoeveel jy oefen, jou gewig, om op te hou rook en beter beheer oor jou bloeddruk.
Apolipoproteïen a en b
• Wat dit is
Dit is twee ander maar baie duurder maniere om onderskeidelik HDL en LDL te meet – en boonop ’n duplisering van die HDL- en LDL-toetse, en eintlik ’n mors van jou mediese fondse.
Is statiene die antwoord?
Nee, dit is nié. Die waarheid is dat die meeste van ons ons lipiedprofiel kan regkry as ons net ’n bietjie versigtiger eet en ’n aks meer oefen. Statiene is eers nodig as jy jou leefstyl verander maar jou lipiedprofiel bly abnormaal, of as jy die geen vir familiële hipercholesterolemie dra (aangebore hoë cholesterol).
En as jy dit moet gebruik?
Statiene is baie veilig, met omkeerbare spierpyne as die enigste algemene klagte. Dit word definitief nie aan kanker verbind nie. Onthou, statiene kan met ander medisynes reageer; vra jou apteker om seker te maak jy mag al jou medikasie saam gebruik.
Het jy geweet?
Jy kan nie pomelo’s eet as jy statiene sluk nie.
Lees ook: 11 maklike happies vir laer cholesterol