As jou verslawing enigsins met die woord “cappuccino” te make het, is daar geen manier waarop jy gereelde konfrontasies met watertand koeke en terte kan systap nie. Die (sadistiese?) eienaars van koffieplekkies skep behae daarin om kliënte wat hulle elke Maandag voorneem om suiker te vermy reeds teen Dinsdag tot ander insigte te bring.
My ma het graag ’n appeltert met deegtraliewerk en ’n bolagie van versiersuiker en brandewyn voorgesit. Met room, natuurlik. Dalk val die appel nie ver van die boom nie, want my oë dwaal altyd na die glaskoepel op die restauranttoonbank waaronder die appeltert rus.
Teen die tyd dat ’n vuurwarm sny appeltert op jou bord beland, is die appels-van-die-boom vanselfsprekend onherkenbaar omvorm. Wat my laat wonder in watter ánder gedaantes appels skuil. Neem die “appel” in adamsappel byvoorbeeld. Volgens oorlewering het ’n stukkie van die verbode vrug in die stoute Adam se keel vasgesteek.
Ek het lank gewonder hoekom New York “The Big Apple” genoem word. Skynbaar het jazz-musikante en mense in die perderesiesbedryf wat baie rondgereis het, in die jare twintig na enige dorp of stad as ’n “apple” verwys. As jy in New York beland het, was jy in die gróót appel.
Kleintyd het die verhaal van Wilhelm Tell, wat ’n appel sekuur met ’n kruisboog van sy seun se kop afgeskiet het, my geboei. En die storie van die enigmatiese Johnny Appleseed wat soveel appelbome in die Wilde Weste geplant het.
Hoewel ons nie kan wegkom van die persepsie dat ’n appel die vrug was wat die val van die mens veroorsaak het nie, word appels steeds in die letterkunde – nes in antieke geskrifte – met sensualiteit, skoonheid en liefde verbind.
Dis seker genoeg rede om met my volgende besoek aan ’n koffiewinkel ’n onskuldige sny(tjie) appeltert te bestel.
Hopelik sal my geliefde in die stoel oorkant my sit; die ideale manier om hierdie veelbesproke vrug te vereer, sou ek sê, is met “een happie vir jou, een happie vir my.”
Sonder ’n sweempie skuldgevoel.