Erik en Magriet was by verre die gewildste paartjie op die vlug. Selfs die kaptein het ’n spesiale aankondiging gemaak nadat hulle in Rio geland het om hulle ’n heerlike wittebrood toe te wens.
Hulle het effe skuldig gevoel toe die passasiers ’n insameling gehou het om vir die wittebroodspaartjie ’n lekker bonussie te gee om hul wittebrood nog meer te geniet! Daar was selfs ’n paar stoute roompies en kondome in die pakkie!
Erik het die passasiers bedank, en vir Magriet gefluister:
“Glimlag net, gryp die geld en hol, Grieta. Ons kan nie nou die mense se harte breek deur te beken dat ons nie regtig op wittebrood is nie. Kyk net hoe knipoog van die ouer manne vir my as hulle na jou kyk!”
Magriet het Erik in die ribbe gepomp en gebloos soos dit ’n pasgetroude bruid betaam.
Haar hart het warm gevoel want sy het geweet die reis saam met Erik is net die ding wat sy nodig het. Haar siel was moeg na die spanning met Stoffel se dood en Mariaan se huweliksprobleme. Sy was jammer om Mariaan alleen te laat, maar haar egskeiding was in goeie hande. Bernard, Erik se vennoot, het belowe om ook ’n wakende oog oor sy kliënt se algemene welstand te hou.
Magriet het geweet die ervaring met die aaptwak was net die begin van ’n paar onvergeetlike dae in Rio. Saam met Erik sal daar altyd pret en die een of ander drama wees. Hy trek dit soos ’n magneet aan. Met hom aan jou sy is daar altyd ’n goeie kans dat die onverwagte kan gebeur.
Die koue temperature wat Erik se foon voorspel het, het plek gemaak vir ’n hitte wat hulle tussen die oë getref het toe hulle die lughawe se gebou verlaat.
’n Skare taxi-bestuurders het gretig reggestaan om nog ’n vlug toeriste in die bedrywige hart van Rio in te neem.
Erik waarsku Magriet altyd teen taxibestuurders wat toeriste indoen. Hy roem hom daarop dat hy instinktief weet watter bestuurder om te kies. Sy het dus agteruit gestaan dat hy sy kuns in Brasilië kan beoefen.
Hy het die skare geesdriftige bestuurders staan en bestudeer, en toe val sy oog op ’n lang seningrige jong man met ’n wasbleek gelaat en dun blonde hare wat in pennetjies op sy kop gejel is. Tussen die plaaslike bestuurders met hul soel velle en gladde monde kon mens die man nie miskyk nie. Hy het sy dienste aan niemand opgedring nie en net stil langs sy taxi gestaan en met sy groot blou oë na die krioelende massa gestaar.
“Daar is ons man. Hy lyk nie of hy ons gaan bedonner nie.”
Erik het in sy geoefende, gebroke Portugees met die man probeer kommunikeer en die man het oorweldigend geglimlag.
“Not form here. Uri, my name. From Ukraine. You go to Zona Sul?”
Sy taxi was kraakskoon en die musiek ’n vreemde kombinasie van Slawiese klanke gemeng met ’n paar skote Barok-musiek. Erg vreemd.
“You like?” Sy glimlag het byna die hele truspieëltjie gevul.
Erik en Magriet het hul koppe effe oorweldig geknik om te wys, ‘they like’.
Erik vra gewoonlik die taxibestuurders waar die beste plaaslike restaurante is, maar Uri het nie na die man gelyk wat die gastronomiese geheime van Rio ken nie.
Duidelik ’n gedagteleser, het Uri gevra:
“I show you something good?”
Vaal van die honger het Erik en Magriet hom probeer verduidelik hulle wil sommer by ’n plaaslike wegneemete-plek stilhou voor hulle hotel toe gaan.
Uri se gesig het opgehelder.
“Good! Uri show you good!”
Hy het teen ’n verbysterende spoed deur die verkeer begin vleg en oor ’n paar rooi verkeersligte gejaag voor Erik ’n woord kon uitkry.
“We are not in a hurry! We just want food!”
Uri het breed geglimlag en nog vinniger gery.
Magriet het aan Erik se arm vasgeklou en selfs hy was vir ’n slag sprakeloos.
“Near Zona Sul,” het Uri na ’n ewigheid van skreeuende bande en blasende toeters aangekondig.
Erik het weer die hotel se naam herhaal.
“Yes, Uri, show you!”
Hy het nog ’n paar wilde draaie gery en toe kom daar skielik ’n sin in suiwer Engels uit sy mond!
“Wanna see some shit?”
Erik en Magriet was te oorweldig om te antwoord.
Uri het vooroor gebuig en die handrem opgepluk. Die taxi het ’n 180 grade spin gemaak voor hulle op die sypaadjie tot stilstand gekom het.
“You like?”
Erik het hom verseker hulle “like”, maar dat hulle sommer dadelik wil uitklim.
Uri is met ’n breë glimlag en ’n hand vol note daar weg. Bande skreeuend om die hoek.
Magriet en Erik het hom verslae agterna gekyk.
Magriet het die stilte verbreek.
“Daar is ons man, het jy gesê. Hy gaan ons nie bedonner nie, het jy gesê. Die bleddie mal Rus het ons byna vermoor! Ek dink hy is ’n psycho wat dit geniet om weerlose toeriste vreesbevange te maak! Is jy seker jy het hom die regte geld gegee?”
Erik was effe bleek om die kiewe.
“Ek het geen idee hoeveel ek hom gegee het nie, Gieta. Is jou pyp in jou handsak? Maak vir ons ’n stopsel. Dis jammer ons het daai aap-twakkies weggespoel. Dit sou my senuwees nou kon kalmeer.”
Asof hulle gebede verhoor is, was daar restaurant net ’n paar tree van waar hulle byna hul laaste asem uitgeblaas het in die Rus se taxi. Met wankelende bene en arms vol bagasie het hulle by ’n tafel neergesyg en elkeen ’n cerveja bestel. Na die plaaslike bier het hulle die plaaslike O Vinho bestel. Die kelner se Engels was darem beter as Uri s’n en hy het ’n verskeidenheid Brasiliaanse voorgeregte bestel wat hul mae en senuwees kon laaf. Hy het ook aangebied om ’n betroubare taxi te kry wat hulle veilig by hulle hotel sal besorg.
Erik het ’n heildronk op die begin van hulle vakansie ingestel.
“Op goue strande en meisies met brons lywe in G-strings wat salsa en samba.”
Magriet se heildronk was op ’n warm bed en bad.
“Kom nou Grieta. Wat van een op lekker brons lywe in speedo’s?”
Na nog ’n rondte O Vinho het Erik ’n laaste heildronk opgestel voor hulle taxi kom.
“Op Uri, die wille Rus!”
Magriet het dit beaam. Sy het haar glas na Erik gelig, “You like?”