Erik het die besoek aan Rio met sy befaamde presisie beplan. Week na week het hy ’n opgedateerde Excel Spreadsheet aan Magriet gestuur. Dit was nie haar eerste reis saam met Erik nie. Sy het geweet watter pyn in die agterstewe hy kan wees met beplanning. Gelukkig is ’n reis saam met Erik altyd onvergeetlik. Hy het ’n aktiwiteit vir elke sekonde van hulle reis beplan. Alles gesentreer rondom pret, eet en wyn drink. ’n Week voor hulle vertrek het hy seker gemaak 99.9% van die beplannings is in plek.
Dit is net die dansery wat nog nie vlot verloop het nie en daarvoor het hy tereg Magriet se ritme-lose gene kwalik geneem. Tot op die laaste moontlike minuut moes Magriet op die maat van YouTube-video’s dans dat dit klap. Haar dy- en maagspiere het geprotesteer en haar lae rug het gevoel of ’n perd haar geskop het.
“Geen normale mens behoort sulke bewegings uit te voer nie. Nie net voel dit soos sonde om so sensueel te swymel nie, maar die dans is ontwerp vir mense wat spiere van rubber het,” het sy geprotesteer na sy uit nood ’n fisioterapeut moes gaan sien om te keer dat sy met spierpyne op die vliegtuig klim.
Ses ure voor hul vlug sou vertrek, het Erik al by Magriet aangeklop.
“Is jy seker jy het alles? Gaan gou weer jou lysie na.”
Magriet wou Erik op sy maer skeen skop.
“Jaaaa, ek het. Al ten minste tien keer. Ek het ’n skoon pantie in vir elke dag en my tandeborsel. Dis al wat regtig saak maak.”
Sy het na Erik se klein tassie gekyk.
“Het jy alles? Ek kan regtig nie glo alles op jou lys pas in daai tassie nie. Het jy handbagasie ook?”
Baie in sy skik met homself het Erik na die klein rugsak oor sy skouer gewys.
“Alles wat ek nodig het. Ek is die kampioen van inpakkers, jy weet mos?”
Terwyl Magriet haar laaste goedjies bymekaar hark, het Erik gou weer na die weervoorspelling vir die volgende paar dae in Rio gekyk.
“Hulle sê dit gaan in die aande dalk koel wees. Het jy ’n warm baadjie?”
Haar geduld met Erik het begin opraak.
“Ja, ek het. Moenie vir my sê jou stokou reisbaadjie is ook in daardie klein tassie nie!”
Erik het skielik ongewoon stil geraak. Hy het gou uitgedraf kar toe en met sy terugkoms het hy die skewe glimlag gehad wat hy altyd het as hy iets verkeerd gedoen het.
“Is daar nog van Jaco se klere hier by jou?”
Magriet kon op ’n afstand ruik dat Erik se haarfyn beplanning dalk skeefgeloop het.
“Ja, daar is nog te veel van sy klere hier. Hoekom?”
Erik het blosend beken dat hy sy reisbaadjie vergeet het en dat daar nie tyd gaan wees om dit te gaan haal nie. Magriet het geblom van lekkerkry, maar nie sy verleentheid ingevryf nie. Sy wou nie die opgewonde afwagting van die reis verongeluk nie.
“Gaan kyk of daar iets in Jaco se kas is wat jou sal pas.”
Jaco se baadjies het Erik gepas, maar die moue was veels te kort vir Erik se rankerige arms.
“Dit sal perfek wees, Grieta. Laat my nogal jonger lyk, nê?”
Dit was op die punt van Magriet se tong om te sê dat die baadjie hom inderdaad jonger laat lyk. Soos ’n tienerseun wat uit sy klere gegroei het.
“Pragtig. Jy lyk opvreetbaar. Die meisies sal jou nie kan weerstaan nie.”
Erik het geweet sy spot met hom.
Nadat hulle hul bagasie ingeboek het en deur die doeane is, was daar ten minste nog twee uur oor voor die vlug sou vertrek. Tipies Erik het hy die vakansie-atmosfeer opgewarm deur die belastingvrye winkels in te vaar.
“Kom, ons wees spandabel. Ek stiek jou vir die lekkerste parfuum wat jy hier kan kry. Maak nie saak wat dit kos nie.”
Hy het goed geweet dat Magriet ’n paar weke gelede saam met Mariaan deur elke winkel in die stad is op soek na ’n spesifieke Michael Kors-parfuum. Hy het nie eens ’n oog geknip toe hy vir die parfuum moes betaal nie.
“Spuit mildelik aan, Grieta. Dis om dankie te sê dat jy my saamvat op die trip.”
Met die eerste van etlike koppies koffie het Erik gevoel hulle moet ’n heildronk instel op die vakansie.
“Op Stoffel, wat so gaaf was om hierdie trippie te borg!”
“Erik! Die arme man is dood! En, dit is baie onsensitief van jou. Jy weet mos ek rou eintlik ook nog oor Stoffel!”
Erik het ter verskoning ’n tweede heildronk ingestel.
“Op die bedroefde grasweduwee wat haar gevoellose pel op ’n trippie Rio toe neem. En nog een op al die mooi meisies wat ek by die karnaval gaan sien.”
Toe hulle uiteindelik hul sit gekry het in die vliegtuig, was Magriet spyt dat sy suinig was met die bespreking van die kaartjies. Erik het gesukkel om sy lang bene ingepas te kry en sy kniekoppe het byna verby sy ore gevou.
“Bleddie, Stoffel,” het hy gemor. “As hy vir jou meer geld gelos het, kon ons eersteklas gevlieg het. Nou moet ons soos sardiens ingeryg sit!”
Magriet het lekker saam met haar vriend gelag en geweet dit gaan ’n onvergeetlike vakansie wees.
Na aandete het hulle nog ’n paar heildronke ingestel. Een op die mooiste lugwaardin, een op die aantreklikste manlike passasier binne sig, een op die onaantreklikste vroulike passasier. Sommer een op als waaraan hulle kon dink. Die passasiers weerskante van hulle het bekommerd vir mekaar begin fluister oor die luidrugtige middeljarige paartjie wat oor alles giggel.
Die ramp het toegeslaan toe hulle regmaak vir die lang nag op die vlug. Die vliegtuig se lugversorging was effe koud en Erik het hul baadjies uit die bagasierak gehaal en ’n ekstra kombers en kussing vir Grieta gevra. Hy het haar gehelp om so gemaklik moontlik te sit-lê voor hy sy lang bene en arms in verskeie posisies probeer rangskik het. Hy het gevroetel en nesgeskop en toe onverwags weer ’n draai by die toilet gaan maak.
Met sy terugkoms het hy Magriet benoud uit haar sluimerende slaap geskud.
“Ons het groot moeilikheid!”
“Wat? Het jy met ’n lugwaardin geflirt?”
“Ons het ’n moerse probleem, Grieta. Kom gou saam met my toilet toe!”
“Toilet toe? Jy is seker nie ernstig nie?”
Sy kon selfs in die skemerlig sien dat Erik wasbleek is.
By die toilet het die lugwaardinne gegiggel toe Erik en Magriet saam ingaan.
Erik het ’n stewige pakkie uit die binnesak van Jaco se baadjie gehaal.
“Wat is dit?”
“Kan jy nie sien nie? Aaptwak! Hier is dagga in jou kind se baadjiesak en ek is op ’n vlug Brasilië toe met dagga in my besit! Weet jy wat doen hulle met mense wat met dwelms smokkel in Brasilië? Ek gaan in die tronk sit en hulle gaan my as prokureur skrap.”
Erik was effe histeries en Magriet het hom probeer kalmeer.
“Sjjjj! Wil jy hê die hele vliegtuig moet hoor jy het onwettige dwelms in jou besit?”
“Dis nie myne nie! Dis daai wille loot van ’n seun van jou se baadjie! Wat gaan ons maak Grieta?”
Op daardie oomblik het ’n lugwaardin hard aan die deur geklop. “Is everything all right in there?” Hulle kon hoor hoe sy en die ander lugwaardinne proes en lag.
“Hulle dink sweerlik …” Magriet het onbedaarlik begin lag. Die lugwaardinne moes seker dink sy en Erik het saam toilet toe gekom om te karfoefel! Maar Erik het die situasie nie snaaks gevind nie.
“Hulle gaan vir my toesluit! Hulle sal nie die storie glo dat dit jou seun se baadjie is nie!”
Magriet het moedswillig gevoel.
“Kom ons rook dit! Ek sal gou my pyp gaan haal! Ek het nog nooit dagga gerook nie!”
“Is jy mal! Hulle sal ons vang! Mens kan aaptwak op ’n myl ruik!”
Magriet het voorgestel hulle spoel die dagga in die toilet af en het sommer die daad by die woord gevoeg en die pakkie by Erik gevat en in die toilet gegooi. Met die wegspoelslag was die pakkie te groot om by die toilet se uitlaatklap uit te gaan. Magriet en Erik het verbysterd staan en kyk hoe die pakkie dagga in die toilet vassit.
Erik het daaraan probeer trek, en dis toe dat die pakkie losruk en oopbars en die inhoud saam met toiletwater oor die hele toiletkamertjie versprei.
“O hel, hulle gaan ons altwee beslis toesluit!”
Erik was na aan trane en ’n moedswillige streep het Magriet beetgekry.
“Ek sal jou help skoonmaak.”
Hulle het elkeen ’n bol nat toiletpapier geneem en die dagga probeer bymekaar vee. Kort-kort het hulle die toilet getrek. Van die ander passasiers het ongeduldig begin raak en ook aan die deur begin klop.
“What is going on? Are you going to be long?”
Die klein vertrekkie het na die soet geur van dagga begin ruik. Of altans dit is wat Erik Magriet wysgemaak het.
“Gaan haal jou parfuum! Ons moet die plek uitspuit. Bring sommer ’n naelborseltjie of iets saam. Ons moet elke gleufie in die plekkie skoonmaak. Netnou ruik iemand dit.”
Magriet is giggelend by die toiletdeur uit en moes vir die ry passasiers en lugwaardinne verskoning maak.
“We will be finished soon. I just need to fetch something.”
Teen daardie tyd het die meeste passasiers begin agterkom daar is iets aan die gebeur by die toilet. Party het sommer kliphard gelag en Erik en Magriet het presies geweet wat hulle dink. Hulle het koorsagtig begin vee met ’n klein naelborseltjie en ’n haarborsel. Die geluide uit die toilet het die ander passasiers histeries gehad. Veral omdat die toilet kort-kort getrek is.
Toe hulle elke milli-milligram dagga opgevee en weggespoel het, is die toilet met Michael Kors bespuit. Met hulle uiteindelike verskyning uit die toilet, het die passasiers spontaan hande geklap.
Erik het bloedrooi gebloos en Magriet het gegiggel. Dit het die situasie nog meer verdag laat lyk!
Toe hulle uiteindelik hul sit kry, het ’n lugwaardin met ’n skinkbord verskyn.
“Champagne, with compliments of the crew and passengers. Are you two on honeymoon?”
Dis Erik wat eerste besef het dit is beter om as ’n karfoefelende, middeljarige wittebroodspaartjie bekend te wees, as om uitgevang te word as daggasmokkelaars.
Oor die breedte van die Atlantiese oseaan is daardie nag met vonkelwyn feesgevier.