Om weer oukei te wees
Hy het sukses behaal, drooggemaak, by die dood omgedraai, gesond geword en weer by die dood omgedraai. Christo Gerlach se lewe het tot vroeg vanjaar soos ’n wipkarrit verloop. Maar nou het hy vrede. Deur Martie Swanepoel
Laatnag een Saterdag in Maart het ’n vriendin Christo Gerlach histeries gebel oor ’n storie wat sy geglo het die Sondagkoerante oor haar gaan skryf.
“Ek het besluit om na die naaste motorhawe te ry en ’n koerant te gaan koop om te sien of die storie verskyn het. My huismaat het nog gewaarsku ek moet my motordeure sluit.”
’n Man het iewers in Lynnwoodweg teen sy motorruit geklop. Toe hy opkyk, klim iemand anders langs hom in sy tweesitplek-sportmotor.
“Ek het kalm probeer bly en gery soos die man my beduie het. Sunnyside toe. Ons het voor ’n ou woonstelgebou stilgehou en ek moes saam met die vyf mans in die hyser klim. Dit het na urine geruik.”
Hy verstaan Sotho en kon hoor hoe die ander mense in die hyser bespiegel wat die wit ou hier maak.
“Hy kom koop seker dwelms,” het hulle besluit.
In ’n woonstel op die sestiende verdieping het twee van die mans uit Ghana styf teen hom kom sit en hom hardhandig rondgestamp.
“Ek het besef ek moet kalm bly en het hulle probeer kalm hou deur hulle oor hul klere te komplimenteer.
“Ná ’n ruk het hulle my bankkaarte se geheime kodes gevra. Ek het die verkeerde kodes gegee en saam met twee gewag terwyl die ander vier my geld gaan probeer trek het.
“Toe die vier terugkom, was hulle woedend. Hulle het my oor die balkon laat hang tot ek die regte kode gegee het.”
Sy hele lewe het by hom verbygeflits …
Hy is weer die klein seuntjie van Clocolan in die Vrystaat. Sy ma en pa maak weer rusie. Hy sien hoe sy pa sy ma slaan; hoe sy wasbleek word.
Hy onthou hoe sy ma hom altyd vertel het dat sy gou ná haar troue ’n seuntjie wou hê. “’n Pragtige seuntjie soos jy.” Hy kon dit as kind nie genoeg kere hoor nie. Sy liewe ma wat hom so deur haar stormagtige huwelik probeer koester het, moes hom gereeld laat voel hy is oukei. Die ma wat hom van kunswedstryd na kunswedstryd aangery het … en toe te gou dood is.
Hy kon onthou hoe sit hy as seuntjie op ’n spoorwegwerker se skoot, hy ruik sy naskeermiddel, hy onthou hoe hy agter sy rug gaan lê en snik het as sy pa hom weer genadeloos geslaan het; hoe die oom hom geleer en gewys het hoe babas gemaak word.
Hy sien die gebrandskilderde vensters in die Vrystaatse kerk en beleef weer die intense skuldgevoel omdat hy een gebod van die tien gebooie nie kan gehoorsaam nie. Hy kan sy pa nie eer nie … want sy pa aanvaar hom nie soos hy is nie, en sy pa slaan sy ma.
Die gevoel van hy was nooit goed genoeg nie, spoel weer oor hom. Jy is nie oukei nie, Christo. Sy pa wat nie wil hê hy moet drama gaan studeer nie en nooit gedink het sy werk as akteur is ’n “regte werk” nie.
Daar is beelde van die dag toe hy as vervaardiger in die Idols-ateljee sit en werk en hy die oproep kry dat sy pa dood is. Die seer, woede, spyt, trane.
En daardie eerste lyn kokaïen op sy vyftigste verjaar-dag net daarna waarmee hy alle herinneringe aan sy pa wou doodsnuif. En die lyne en lyne daarna wat hom in ’n doolhof van perversiteit en dwelms laat verval het.
Hy onthou hoe hy sy dae en lewe met ’n slaapmiddel verder in die niet laat verdwyn het.
Sy gedagtes flits na hoe hy in die hospitaal in die waakeen-heid om sy lewe lê en veg. Hoe sy lewensmaat van 17 jaar langs hom staan en hy weet die skeiding tussen hulle is reeds daar.
Hy sien hom langs sy suster in die motor sit. Sy neem hom na sy nuwe blyplek in Pretoria. Op sy skoot hou hy sy dooie hond vas. Hy onthou hoe hy daardie oggend met God baklei het omdat hy sy bejaarde hond saam met die res van sy lewe verloor het.
Daar is ook flitse van hom alleen in die beskuldigdebank van ’n hof. Herinneringe aan ’n saak van honderde duisende rande oor bewerings wat op sy geesteskind, die televisieprogram Tonge Los, gemaak is.
Hy onthou ook wrang hoe mense hom langs die pad alleen gelaat het en sommiges hom verraai het. Vriende wat minder geword het.
Kaalgestroop.
Heling op sy suster se plaas.
“Dit het soos ’n ewigheid gevoel toe ek daar hang. Ek het gedink die einde van my warboel van ’n lewe het uiteindelik aangebreek. Ek het tuberkulose in my jong dae oorwin, septisemie nadat ek een nag ná te veel kokaïen en ’n slaapmiddel verstik het en my keelpyp gebars het. Ek het langs vriende soos Irene van Wyk se graf gestaan … en hier was nou my einde.”
Wintersoggend
Christo Gerlach sit een wintersoggend in ’n koffiewinkel in die Brooklyn Mall. Hy eet ’n stuk koek behaaglik vurkie vir vurkie. Tussen die flitse van sy lewe deur is sy oë ’n byna pikswart kontras met sy witgrys hare. Soms swem hulle in die trane.
Ja, hy het baie beleef, sukses gehad, in ’n spoghuis gebly … en drooggemaak, beken hy.
Ná sy dramastudie aan die Universiteit van die Vrystaat het ’n goeie verhoogloopbaan gevolg. En voor die TV-kameras het hy sukses gehad in reekse soos Transkaroo en Vyfster. Agter die kameras was daar seges as vervaardiger van Fear Factor, Zing, Apprentice SA, SEX etc en Footprints.
“Toe kom die skinderprogram Glitterati en as uitvloeisel daarvan Tonge Los.”
Dis waar alles in duie gestort het.
Tonge Los is vroeg verlede jaar van die lug gehaal ná lastereise deur onder andere rolprentmaker FC Hamman en sy vrou, Annie.
“Ek is as vervaardiger verantwoordelik gehou.”
Die saak was vir hom traumaties. Hy het een oggend alleen in die hof gaan staan omdat hy toe nie meer ’n prokureur kon bekostig nie.
“Ek was daar om vir hulle te sê ek het buitendien niks meer wat hulle kan vat nie. Ek het eers later gehoor die saak is buite die hof geskik.”
Verskeie kere het alles vir hom te veel geword. Depressie het selfmoordgedagtes by hom laat opkom; iets wat in sy familie nie onbekend is nie. Hy het gewroeg en geworstel oor die gemors waarin sy lewe ontaard het.
“Deur dit alles het my familie en vriende soos Magda Beukes by my gestaan. Daar het nie veel ander oorgebly nie.”
Hy weier om soos ’n dweper te klink, maar vertel van die berusting wat hy in sy geloof gevind het. In die wete dat hy vir God oukei is soos hy is.
“Dis so lekker om dit te weet.”
Genesing
Hy is deesdae onder meer betrokke by ’n vriendin, Antoinette Snyman, se marionette-produksies by die Pierneef-teater in Pretoria en koester vir eers die heling van sy gemoed.
“Ek speel in ’n paar TV-advertensies en sal graag weer voor die kameras en op die verhoog wil speel. Ná Tonge Los se drama gebruik kykNET my nie meer as vervaardiger nie.”
Hy het al baie gedink aan die traumatiese aand in die hande van die Ghanese in Sunnyside.
“Ek is nog nie seker wat ek daaruit geleer het nie, miskien is dit net nog ’n keerpunt in my lewe.”
Nadat die mans hom op die balkon teruggetrek het, het hy onbedaarlik bewend gewag dat hulle sy bankrekening gaan leegtrek.
“Ek het gewonder of hulle my daarna gaan doodmaak. Die mans het teruggekom en verstommend het hulle my kar se sleutels vir my gegee en gesê ek kan maar gaan. Dit het soos ’n ewigheid gevoel toe ons met die hysbak afry. My bewende voete kon byna nie tot by my kar loop nie. Ek het soos in angsflieks gesukkel om die deur oop te sluit en met horte daar weggery.”
Dit het ’n ruk geneem voor hy besef het hy word nie agtervolg nie en is vry.
“Ek het my sussie huilend gebel.”
’n Deel van sy genesing ná sy verslawing was sy boek Agter die skerms waarin hy openlik oor sy kinderjare en die losbandigheid ná die kokaïen en slaapmiddel gepraat het.
“Toe kom die hofsaak en nou die kaping.”
Enigeen sou kwetsbaar gevoel het, maar sy depressie is met medikasie nou onder beheer.
“Ek is darem van een ding seker: Ek het vrede gemaak met so baie dinge: my pa, verraaiers, rugstekers … en ook met myself.”
Hy vertel hoe hy ná die kaping weer die moed gehad het om nie bang te wees nie.
“Ek het mettertyd besef ek is regtig oukei.”