Magriet het besluit om Erik te bederf met ’n trippie na die straatkarnaval in Rio. Sy wou dit nog altyd bywoon en sy weet hy sal dit geniet om na die lywe te kyk. Sy meen hy verdien dit na al die emosionele bystand na Stoffel se dood en sy voel ook skuldig dat sy nie op dieselfde vlak vir hom beskikbaar was toe Adri hom gelos het vir ’n Toyboy nie. Hy het dit nie verdien om seergemaak te word nie.
Erik, die groot wêreldreisiger, soos sy hom soms noem, is altyd kinderlik opgewonde oor enige reis. ’n Week voor hulle vertrek het hy reeds hul hele plan van aksie agtermekaar gehad. Hy het ook Samba-klasse gereël want hy wou voor in die koor gaan dans by die karnaval.
Magriet het laas dansklasse geneem toe sy sewe jaar oud was. Die ballet-juffrou het haar ma na ’n paar maande diskreet laat verstaan dat haar kind nooit die Dying Swan sal kan dans nie. Eerder The Dead Swan. In kort, Magriet is gebore sonder grasie en ritme.
Sy het wel al een keer op ’n bootreis vir Stoffel omgepraat om saam met haar in te skryf vir ’n Salsa-sessie, maar hy was so knorrig tydens die lesse dat hulle dit gestaak het.
Nog ’n keer, tydens ’n lawwe fase, het sy en Mariaan paaldansklasse bygewoon en elkeen ten duurste ’n paal op ’n staander aangekoop. Hulle wou Stoffel en Willem verras en natuurlik verlei. Magriet het later beken sy was weer eens nie die beste leerling in die klas nie, maar aan geesdrif het sy nie ontbreek nie. Sy was vasberade om Stoffel se tanende testosteroon te laat hande klap met haar sensuele danspassies. Sy het ’n sexy nagjurkie gaan koop en weke lank geoefen. Na haar mening het sy dit nogal goed reggekry, maar die aand van haar groot debuut in die slaapkamer het dinge nie so lekker uitgewerk nie. Sy het Stoffel aangesê om vroeg te gaan bad en in die bed vir haar te wag. Sy het die paal opgestel terwyl hy in die bad was. Toe hy uitkom, het sy die musiek aangeskakel. Hy het saamgespeel en was vir ’n paar minute ’n waarderende gehoor. Maar net toe sy dink die plan gaan werk, het die blessidse paal van sy staander losgedraai en het sy met ’n ongrasieuse slag neergeslaan. Die paal het dwars oor die bed geval en Stoffel teen die oogbank getref. Hy is die volgende oggend dikbek met ’n blou oog werk toe en die paal het ’n handige stut vir sy visvang-tent se afdak geword.
Die paal het dwars oor die bed geval en Stoffel teen die oogbank getref. Hy is die volgende oggend dikbek met ’n blou oog werk toe …
Stoffel het nie juis ’n goeie sin vir humor gehad nie.
Met Erik se aankondiging dat hulle hulle moet voorberei vir hul Rio-trippie, het sy besluit die Samba sal makliker wees as ballet en paaldans en dit sal heerlik wees as hulle dit in Rio kan gaan geniet.
Sy het voor die klasse ’n paar video’s op YouTube gekyk en geoefen sodat sy nie haar naam met ’n plank slaan by die klas nie. Dit het nogal maklik gelyk en sy het baie pret in haar sitkamer gehad. Sy het selfs ’n pyp gestop op haar sukses.
Op D-dag van die groot Samba-klas het sy vol selfvertroue saam met Erik in die kar geklim. Hy was op universiteit altyd haar dansmaat by sokkies. Met sy lang arms en bene lyk Erik taamlik lomp, maar hy is ’n goeie danser en sy weet hy sal die Samba vinnig kan bemeester. Hoe nader hulle aan die dansstudio gekom het, hoe groter het die knop op haar maag geword. Sy was van kleins af so oor enige soort les, en veral na die ballet-fiasko. Om sake te vererger was Guido, die instrukteur, ’n Latynse kloon van Johhny Depp en Antonio Banderas gekruis. Aantreklike mans het haar nog altyd met bewende kniekoppe en klam geswete hande gelaat.
Guido was sag op die oog, maar nie ’n vriendelike man nie. Geen Latynse warmte in sy omgang met mense nie. Hy het die instruksies in sy gebroke Engels afgerammel en Magriet het min verstaan. Die deel wat sy wel verstaan het, en wat haar maag ’n senudraai laat gee het, was sy woorde, “I am strict, yes? You listen and follow.”
Die laaste ding wat haar selfvertroue nodig gehad het was ’n “strict” Latynse eweknie van haar ballet-juffrou. Daar was ook drie jong paartjies by die klas. Hulle het met skewe glimlagte na haar en Erik geloer.
“Ons sal hulle wys, Grieta. Ons gaan dans dat die stof staan. Ek weet jy kan.”
Die laaste ding wat haar selfvertroue nodig gehad het was ’n “strict” Latynse eweknie van haar ballet-juffrou
Vir ’n oomblik het Magriet de javu gehad van haar en haar ma voor die balletklas. Haar ma was vasberade dat haar dogtertjie eendag ’n balletdanser gaan word en sy wou nie aanvaar dat haar kind die fisieke bewegings van ’n kameel het nie. “Jy kan, my kind, Mamma weet.” Mamma kan maklik praat, het sy altyd gedink. Juffrou Marietha was ’n kwaai vrou wat altyd met haar geraas het oor sy nie regop staan nie.
“Kom Grieta. Kom ons gaan wys hulle.” Erik het haar hand bemoedigend gedruk. Hy het immers sy vriendin se beperkinge as danser geken.
“Miskien moes ek ’n dubbel whisky voor die tyd gedrink het. Jy weet hoe los ek raak as ek whisky drink.”
“Dis jou mond wat los raak van whisky, Grieta, nie jou ledemate nie, maar ek belowe jou hierna vat ek jou vir ’n drink.”
“Ek wil ’n dubbele chocolate milkshake hê. Van daai van Mugg and Bean met die karamel popcorn op.”
Erik het gelag en haar aan die hand tot voor in die klas gesleep.
“Ek wens ek het my pyp hier gehad. Ek is gespanne.”
Erik het berispend vir haar gefluister, “Los jou nonsens. Dit gaan lekker wees. Pret. Of het jy al vergeet hoe om pret te hê? Kom nou. Ontspan net.”
Maar Magriet se lyf was styf soos ’n snaar. Asof sy ’n stok ingesluk het. Haar gewrigte het gestol en sy het gevoel sy sal nie een ritmiese beweging kan uitvoer nie.
“Los jou nonsens. Dit gaan lekker wees. Pret. Of het jy al vergeet hoe om pret te hê? Kom nou. Ontspan net.”
Die doodslag was toe sy hoor die jong paartjies het al ’n paar lesse agter die blad gehad en is heel ervare. Toe die polsende musiek begin, was dit asof die meisies se heupe in stadige aksie soos rinkelende slange begin wriemel. Smeulend, sensueel. Sy het afgunstig na die klewende lyfkouse aan hul jong liggame gekyk en selfbewus oor haar ou sweetpakbroek se los agterstewe gevryf. Selfs die jong manne het sulke klewende pakkies aangehad wat alles beklemtoon. Erik het net so uit plek soos sy gelyk met sy kort PT-broekie uit sy army dae en sy uitgerekte T-hemp.
Asof hy haar gedagtes kon lees, het Erik gefluister:
“Ek moes vir die dress code gevra het, maar ek kou liewer glas voor ek so ’n klewende outfit aan my lyf trek.”
Sy het gegiggel aan die gedagte van Erik met so ’n kleefpakkie aan.
“Ek wil nou niks oor jou lyf sê nie. Maar mens moet actually spiere aan jou bobene en arms hê om goed te lyk in so ’n pakkie.
Die Latyn het hulle aangegluur oor die gefluister en hard berispe.
“You concentrate! Yes?”
Magriet se maag het weer op ’n knop getrek. Sy was bang vir kwaai onnies op skool. Sy het senuwee-bulte op haar hande uitgeslaan omdat die Duitse juffrou haar verskreeu het. Outomaties, en altyd gretig om almal tevrede te stel, het sy vir die kwaai Latyn gekopknik en ge- “Yes, sorrie. I am nervous.”
Die jonges het gegiggel en die Latyn het weer gebulder, “You concentrate! Yes? No wasting time. Class just an hour.”
“Ou suurknol,” Het Erik gefluister. “Shuttup!” het die Latyn gegil. “Last warning and you out!” Dit het Erik en Magriet natuurlik in giggel-modus geplaas en binne vyf minute het die Latyn geskree, “You two, out! Out! Wasting my time! No refund! Out!”
Soos twee stout kinders het Magriet en Erik histeries begin lag. Die Latyn het hulle elkeen aan ’n arm geneem en hulle al laggend by die deur uitgeboender met die jonges wat waarderend hande klap.
“Bleddie cheek,” was al wat Erik kon uitkry tussen die gelag.
By Mugg and Bean het hulle dubbel melkskommels bestel. “Extra trimmings,” het Erik die kelnerin probeer omkoop. Sy sjarme het gewerk en die melkskommels het oorgeloop van sout-soet karamel-springmielies.
“Cheers,” het Erik gesê.
“Môreaand probeer ons liewer ’n YouTube-video. Ek sal whisky bring.”