Wanneer jy weer ekstaties op ’n glimlaggie van jou baba reageer, of hom paai sodra die bekkie begin skeeftrek, moet jy weet jy’s die slagoffer van ’n subtiele sameswering deur Moeder Natuur. Daar is ’n dans tussen jul breine aan die gang.
Die kleinding in die wiegie wat so onkundig lyk, is eintlik ’n sosiale wonderwerk. Babas is nie passiewe ontvangers van ons versorging nie, maar bekwame verhoudingsvennote wat gerat is om hul behoeftes vervul te kry.
Neuropsigologie bestudeer die struktuur en funksies van die brein in verhouding tot sielkundige prosesse en gedrag. Dit belig onsigbare prosesse waarmee ons sinvoller kan omgaan as ons weet hoe hulle werk.
Neuropsigoloë sien die brein as ’n sosiale orgaan wat deur ervaring gebou én herbou word, selfs tot op ’n hoë ouderdom. Ons dink maklik aan ’n brein as iets staties en afgesonder in een mens se skedel, terwyl dit voortdurend met ander breine “in gesprek” is.
Die wegspringplek
Het jy geweet die eerste lesse wat babas leer, is gemik op sosiale en emosionele aanpassing?
Babas is letterlik van hul versorgers se liefde en aanvaarding afhanklik om fisiek te kan oorleef. Die soort vaardighede wat babas nodig het, is dus om gesigte en gesigsuitdrukkings te kan herken sodat hulle op die regte tyd kan glimlag en oulik gevind kan word. In die eerste 18 maande val die ontwikkelings-fokus op die regterbrein. Dis ’n tyd van ongekende groei ten opsigte van sosiale verhoudings, die vorm van bande met ander, die regulering van emosies en die vind van liggaamlike balans. Dit gebeur onder meer deur die instelling van die regterbrein van die ouer en dié van die kind op mekaar, skryf die Amerikaanse kliniese sielkundige prof. Louis Cozolino in The Neuroscience of Human Relationships (Norton, 2006). Oogkontak, gesigsuitdrukkings, ’n kalmerende stemtoon, liefdevolle aanrakings en speletjies soos “Waar’s hy, waar’s hy? Daar’s hy!” speel hier ’n rol. Die verrassende is dat nie net die kleinding se brein nie, maar ook dié van die ouer deur hierdie kontak verander word.
Die fondament vir ’n kind se toekomstige verhoudings word in hierdie tyd gelê. Kleintyd ontwikkel ons twee soorte geheuestelsels: eksplisiete en implisiete geheue. Eksplisiete geheue dokumenteer enkelgebeure wat ons later kan herroep. So kan ons iemand se gesig herken, of stories en etiketreëls onthou.
Alles wat ons voel en doen sonder om daaroor te dink, word deur die implisiete geheue aangevuur. Van kleins af stoor ons patrone van emosionele en liggaamlike reaksie wat geaktiveer word deur subtiele leidrade waarvan ons dikwels nie eens bewus is nie.
“’n Sekere gesigsuitdrukking, gebaar, ondertoon of atmosfeer kan ’n sekere gevoel of optrede by jou ontlok sonder dat jy noodwendig weet hoekom,” sê Marita de Wet, voorligtingsielkundige van Boksburg. “Jy besluit byvoorbeeld om vriendelik te wees met ’n spesifieke persoon en tree dan koud en afstandelik op. Dis die gevolg van diep assosiasies rakende intimiteit, angstigheid, liefde en skaamte wat vroeg reeds vasgelê is en jou reaksies van oomblik tot oomblik rig. Dit hou natuurlik ook voordele in – jou vermoë om fiets te ry lê byvoorbeeld in jou implisiete geheue. Ons brei dié geheue lewenslank uit.”
Implisiete geheue is belangrik omdat dit die grondslag lê vir die manier waarop ons verhoudings vorm.
“Navorsingsresultate wys die serebrale kartering van interaksiepatrone is reeds ten volle ontwikkel by babas van drie tot vier maande. Hulle het klaar hul eie indrukke oor verhoudings gevorm. Hierdie patrone word later na ander sosiale omgewings oorgedra, of daardie situasies ooreenstem met die vroeë ervarings of nie.
“As ons in vroeë verhoudings leer om nie te vrees nie, sal ons later bande aanknoop met die verwagting dat ander vertrou kan word, vir ons omgee en ons nie in die steek sal laat nie. As ons vroeë verhoudings problematies was, sal ons weifelend bande vorm en teleurstelling of verwerping verwag. Ons sal voel dat die wêreld gevaarlik is en dat dit ’n risiko is om nuwe dinge te ondersoek.”
Die omgewing wat ons vir babas skep, is van die grootste belang. “Hulle verstaan nog nie taal nie, maar het ’n fyn aanvoeling vir stemtoon en atmosfeer. Sommige babas leer wanneer hulle huil, word hulle gehoor en kom hul versorger help. Hierdie kleintjies sal huil en ’n bietjie wag, en dan weer huil. As hulle ouer word, sal hulle hul mammas iets vra en vertrou dat hulle dit sal kry.
“Babas wie se gehuil geen reaksie ontlok nie, sal meer dikwels en langer en harder huil. Die oumense het gesê jy moet ’n kind los dat hy huil – hy sal wel ophou. Dis waar, maar die rede hoekom sulke babas ‘soet’ word, is tragies. In ’n stadium leer hulle dit help nie om te huil nie. Dan bly hulle stil.
“Sulke babas word volwassenes wat nie praat nie omdat hulle weet hulle gaan nie gehoor word nie. Hulle vra nie vir dit wat hulle emosioneel nodig het nie. Hulle kan wel in ander opsigte uiters veeleisend wees, maar die innerlike mens verarm. Hul maats moet hul behoeftes uit hulle probeer trek en vind dit baie moeilik om hulle gelukkig te maak.“
Moedeloos?
Natuurlik kan ouers skrik as hulle besef dat klein babas verhoudingsgewys so sensitief is, veral as hulle moeilik kind groot gemaak het. “Ouers kan mik vir good enough parenting. Dit hoef nie foutloos te wees nie. Babas fokus op die geheel; dit maak nie saak as dit dalk hier te kort en daar te lank is nie. Ouers se ‘foute’ is goed vir breinontwikkeling. Dit leer kinders om frustrasie en angs te hanteer.
“Kinders se vermoë om stres en hul eie emosies te reguleer, vereis individuele aandag van een konstante versorger oor ’n lang tydperk. Hulle leer dit nie as hul versorgers afwissel of as hulle in ’n groep is nie. Toe my kinders klein was, het ek dit nie besef nie. Vandag wéns ek ek het tuis gebly totdat hulle minstens drie was.
“Emosionele regulering is die vermoë om jou innerlike wêreld te bestuur, suksesvol met ander om te gaan en die daaglikse stressors baas te raak. Dit beteken jy kan wag. Jy kan die moontlike gevolge van jou optrede voorsien en jou impulse beheer. En jy kan self van ontsteltenis na kalmte beweeg. Aanvanklik help jou versorger, sê maar jou ma, jou om hierdie skuif te maak. Sy ‘hou’ jou emosies vir jou. Deur gereelde kontak met haar leer jy mettertyd om dit self te doen.”
Ondanks ouers se beste pogings, gebeur traumatiese dinge soms met kinders in die eerste drie jaar. “As sterfte, depressie of ’n ander probleem in die gesin sy merk op ’n kind gelaat het, kan ouers troos put daaruit dat ons brein ’n aanpasbare orgaan is wat lewenslank nuwe paadjies vorm. Jy kan altyd teruggaan om die drade van ’n kind se gedrag op te tel. Kinders sal jou die geleentheid gee om dit te doen. As ’n kind byvoorbeeld baie impulsief is, moet jy nie net kwaad word nie. Sien die situasie as ’n gedragswyse wat die kind nie aangeleer het nie, iets wat jy as ouer dalk nie aan hom kon oordra nie.“
Neuropsigologie wys dat verhoudings die vermoë het om die brein te verander en dat mense bewuste prosessering en besluitneming kan gebruik om interaksiepatrone en gedrag te verander.
Deur terapie kan jy vir jouself of jou kind ’n kans skep om as ’t ware herprogrammeer te word. “As ek ’n sosiale angstigheid het, sal ek sosiale situasies vermy. My implisiete geheue leer my dat sulke situasies pynlik is. Ek besef nie my genesing lê juis in interaksies wat my brein sal herbedraad nie. ’n Terapeut kan ’n veilige situasie skep waar ek nuwe ervarings kan hê. Mettertyd sal ek leer om hierdie ervarings na ander omgewings oor te dra. Dit gebeur nie oornag nie; die nuwe vaardigheid of emosionele reaksie moet ingeoefen word. Dis hoekom terapie soms so lank duur.”
Dis die moeite werd om ’n gunstige omgewing vir jou kleinding te skep. En dis nie moeilik nie. Jy hoef net met bewustheid en so liefdevol moontlik op die seine te reageer wat daardie slim breintjie uitstuur. Dit hou jou grootmensbrein verhoudingsfiks – én dis pret.