Moenie hierdie 5 mites oor olyfolie glo nie:
- Ingevoerde olyfolie is beter as Suid-Afrikaanse olyfolie
- Olyfolie verbeter met ouderdom
- Die kleur van olyfolie bepaal die gehalte daarvan
- Jy kan nie met olyfolie kook nie
- “Ligte” olyfolie bevat minder kalorieë
Hoekom is Suid-Afrikaanse olyfolie so goed?
In Italië is net 40% van die olieproduksie van gehalte, terwyl 95% van die olyfolie van eie bodem kwalifiseer as ekstra suiwer olyfolie. Dit kan toegeskryf word aan moderne, plaaslike boerderymetodes en olywe wat met die hand gepluk word.
“Die Suid-Afrikaanse olyfoliebedryf is baie jonk en ons het geen slegte gewoontes van ’n vorige geslag geërf soos wat in Europa die geval is nie,” verduidelik Michael Meredith, ’n olyfolie-produsent op Riebeek-Kasteel.
“Ons is ook in die gelukkige posisie om genoeg arbeid te hê om olywe met die hand te pluk.
“Die tyd tussen pluk en pars bepaal in ’n groot mate die gehalte van die olie en vier en twintig uur verseker optimum gehalte.”
In Europa word nette onder olyfbome gesprei sodat die olywe daarop val. Dit kan ’n week duur voor die olywe versamel word, en teen daardie tyd het insekte al toegeslaan en van die olywe begin vrot.
Hoekom is Suid-Afrikaanse olyfolie soms duurder as buitelandse olies?
Europese boerderye word swaar gesubsidieer wat dit moeilik maak vir ons olies om prysgewys mee te ding. Maar die plaaslike gehalte is baie hoog en jy weet dat dit vars is. Lees die etikette! Sommige buitelandse olies lyk soos ’n Italiaan-se olie, maar as jy mooi kyk, is dit net in Italië gebottel. Dit kan olie uit Turkye wees wat net in Italië gebottel is.
Dit gebeur ook dat buitelandse olies met ’n onaangename geur of reuk met chemikalieë behandel word om daarvan ontslae te raak. Só word defekte uitgesuiwer, maar dit hoef nie op die bottel aangedui te word nie en kan steeds as ekstra suiwer olyfolie verkoop word. Michael sê die standaard van Suid-Afrikaanse olies is so hoog dat dit nie hier gebeur nie.
Hoekom is olyfolie so gesond?
Olyfolie is ryk aan antioksidante wat veroudering teëwerk, en hoog in poli-onversadigde vette wat cholesterolvlakke kan verbeter. Onthou net, dit geld net vars, ekstra suiwer olyfolies. Ná agttien maande het die olie soveel geoksideer dat dit die standaard van 0,8 persent vetsure oorskrei. Hoewel die olie steeds bruikbaar is, is die gesondheidsvoordele minder. Maak seker dat daar ’n datum op die bottel is as jy buitelandse olies koop.
“In Europa is daar regulasies wat dit verpligtend maak dat ekstra suiwer olyfolie ná ’n tydperk van die rak gehaal word en nuwe etikette kry om aan te toon dat dit nie meer ekstra suiwer is nie. Die probleem is dat dié olies soms op ons Suid-Afrikaanse rakke beland, maar steeds met die oorspronklike ekstra suiwer-etikette”, sê Michael Meredith, ’n olyfolie-produsent op Riebeek-Kasteel. “Die meerderheid Suid-Afrikaanse olies het ’n datum op, maar omdat ons produksie so klein is en die vraag so groot is, is daar nooit ‘ou’ olies hier op die rak nie.”
Hoe kies jy ’n olyfolie?
Moenie dat kleur jou om die bos lei nie. Gesertifiseerde olyfolieproewers proe olyfolie in donker, kobaltblou glase om seker te maak dat die kleur en helderheid van die olie geen rol speel nie. Dit het geen effek op die gehalte nie. Sommige olies is meer troebel as ander. Dit beteken dat die olie nie gefiltreer is nie en dit gee gewoonlik ’n meer intense, lekker smaak.
Hierdie olie moet so vars moontlik gebruik word, want die troebelheid is eintlik klein deeltjies van die olyf wat sal maak dat die olie vinniger agteruit gaan. As jy ’n jaar aan ’n bottel olie gebruik, is dit nie ’n olie vir jou nie. Elke goeie olyfolie het ’n karakteristieke smaak en dít is wat enkellandgoed olies so gesog en besonders maak. Kyk na die datum op die bottel en koop altyd die varsste olyfolie.
Die smaak bestaan uit drie elemente. Die eerste smaak wat jy proe, is effe vrugtig en kan soos groen tamatie, artisjokke, groen gras of groen appel smaak. Die tweede komponent is ’n bitter smaak wat jy in die middel van jou tong proe. Dit het te doen met die hoeveelheid groen olywe wat gebruik is. Die laaste smaak is ’n pikante geur wat jy agter in jou keel proe. Dis ’n aanduiding van die varsheid van die olie. Die geur van die olie moet jou kos komplementeer; as jy vis gaarmaak, het jy ’n delikate olie nodig wat nie die vis se smaak oordonder nie. In ’n slaaisous kompeteer die geur met die sterk smake van soetrissie en uie en het jy ’n geuriger olie nodig.
Hoe bêre jy jou olie?
’n Donker glasbottel is die beste. Mark-navorsing toon dat Suid-Afrikaners olie in helder glasbottels verkies, maar die lig laat dit gouer oksideer en dit moet vinniger opgebruik word. Bêre dit in ’n koel, donker plek, maar nie in die yskas nie.
Geblikte olie is op kort termyn aanvaarbaar, maar dit kan die smaak van die olie affekteer en dit ’n komkommeragtige smaak gee. Gebruik dit maar kwistig, want ná agttien maande is jou duur ekstra suiwer olie nie meer so gesond en maagdelik nie.