Die feit dat hy ’n held geword het die oomblik toe sy repliek op President Jacob Zuma se staatsrede die Internet tref, het hom ’n bietjie onkant betrap, erken hy. “Ek het dit nie verwag nie, maar ja, ek het dit so ’n bietjie geniet. Dit is mos maar my werk om ’n blywende impak op Suid-Afrika te maak deur mense se lewe te help verander. Die toespraak was beslis nodig.”
Waaroor is jy passievol?
Ek is liewer vir die land en sy mense as vir enigiets anders. Ons het die potensiaal om die beste nasie te wees, maar kort die regte leierskap. Die deursettingsvermoë en krag van ons mense is inspirerend. Dis vir Suid-Afrikaners, veral die wat ly, dat ek soggens opstaan en aanhou druk en bou aan’n beter Suid-Afrika.
Wat maak jou kwaad?
Onreg en ongelykheid. Iets soos dat mense kos weggooi terwyl daar mense is wat nie kos het nie. Ons durf nie onregte as normaal afmaak nie – sodra ons dít doen, is ons naby daaraan om die geveg vir Suid-Afrika te verloor. Rassisme maak my ook kwaad. Dit maak my woedend dat daar steeds mense is wat ander verkleineer bloot op grond van hul velkleur.
Jy was ’n suksesvolle sake-konsultant en dosent voordat jy by die DA betrokke geraak het. Hoekom die skuif na politiek?
Ek wou ’n groter verskil maak. Ek het as konsultant ook baie werk vir nie-regeringsorganisasies gedoen en toe ek besef watter belangrike en direkte rol die regering daarin speel, het ek gevoel dis noodsaaklik dat ek in die politiek moet werk.
Hoekom het jy die DA gekies en nie die ANC nie?
Ek het dieselfde waardes as die DA: nasiebou, versoening, nie-rassigheid en nie-seksisme, asook hul passie om ’n gemeenskap te bou waar almal die geleentheid het om die mens te word wat hy of sy kan en wil wees.
Gaan ons ’n tweede Zimbabwe word?
Ek is nie hier om mense bang te praat nie – ek wil ’n beter Suid-Afrika bou. Ons krisisse is allermins uniek, maar as amptelike opposisie werk ons hard sodat ons land nie onregeerbaar sal word nie. Die krisisse skep ook geleenthede vir verandering, en al meer mense stem vir ons omdat hulle waarde vir hul geld soek.
Hoe kan ons van SA ’n beter plek maak?
Belê van jouself in jou land – hetsy deur jou tyd of jou geld. Ondernemings moet eerder plaaslik belê as oorsee. En sorg dat jy altyd ingelig bly oor wat in SA aangaan.
Die probleme … en die oplossing
“Ons het ’n onderwysstelsel nodig wat sal sorg dat elke kind in die land – of hy nou in Sandton of Alexandra woon – dieselfde gehalte onderrig sal kry en dieselfde geleenthede vir verdere studie. Ons moet onderwys weer ’n werk maak waarop mense trots is. Dit moenie iemand se laaste opsie vir ’n werk wees nie. Ons sit met twee verskillende wêrelde in een land en ons moet een nasie bou. Sodra ons onderwysin orde gekry het, glo ek dit sal makliker wees om die ander onregte en wanbalanse reg te stel.
Wie is Mmusi maimane?
Dié 33-jarige pa van twee het in Dobsonville, Soweto, grootgeword. Sy ma was ’n kassiere, sy pa ’n stoorman. “Soweto was wonderlik, danksy die gemeenskap en die samehorigheid.” Sy skoolhoof, Sis’ Christina, was sy inspirasie.
“Sy het my toegelaat om dinge te bevraagteken, maar my ook van maatskaplike bewussyn geleer. As jy in Soweto gebly het, weet jy dat daardie omstandighede nie normaal is nie. Ek werk om te verseker dat ons ’n beter land bou en dat die nalatenskap van apartheid uitgewis kan word – nie dat alle probleme in SA aan apartheid toegeskryf kan word nie.“
Mmusi het ’n graad in sielkunde en meestersgrade in teologie en publieke administrasie. Hy wou vroeër ’n priester word en werk steeds nou met sy kerk saam.
“Ek het publieke administrasie gekies omdat ek my land wou help bou. Dis ook hoekom ek ’n politikus geword het”. Hy is getroud met Natalie – “net één vrou”, skerts hy – en hulle het ’n dogter, Kgalaletso (5) en ’n seuntjie, Daniel (3). Hy voel mense maak te veel daarvan dat Natalie wit is.
“Ons het nie getrou om ’n stelling te maak nie, maar omdat ons vriende is.” Hy hou van gesinsvakansies, braai en boks graag. Hy glo die sport het baie met politiek gemeen. “In boks moet jy onthou om jou vuiste in die lug te hou wanneer jy getref word, nes in politiek. Jy mag nie gaan lê nie.”