Nee wat, sê pa Schalk, hy het nie toekomsplanne vir sy seun nie. “Solank hy net gelukkig is.” En as hy ’n pianis wil word? Dis ook reg. Hy moet net voluit leef. Maar dit sou darem lekker wees as hy en sy seun eendag ’n paar balle kan slaan, maar hy gaan nie verwagtinge skep nie, sê die besadigde pa. “Ek leef van dag tot dag.”
Dis sagte woorde uit die mond van ’n Springbok-losvoorspeler wat nie besadigde rugby speel nie. “Bring it on,” sê sy houding. (En sy opponente sal daarvan kan getuig.) Boonop is Skalla, soos hy alombekend is, ook reusagtig groot; baie groter as wat hy op televisie lyk. “Dis omdat hulle my altyd langs Victor Matfield laat staan,” sê hierdie liefling van Suid-Afrika se rugbyondersteuners skaterend.
In hul huis net ’n klipgooi weg van die Westelike Provinsie se rugbyvesting, Nuwe-land, gee die Burgers toe dat die kroonprins hul lewe ingrypend verander het. Hulle is “party animals, wat by ’n troue of ’n braai altyd laaste huis toe gaan,” vertel Michele laggend. Maar ná die koms van Schalk Junior is hul sosiale lewe tot middagete-afsprake ingekort.
Schalk se roem was nooit ’n faktor in haar lewe nie, sê Michele. Hulle het mekaar nege jaar gelede, in haar matriekjaar al, by ’n kuierplek ontmoet, en toe was hy net ’n onbekende Matie-speler. Hulle het so ’n jaar en ’n half gelede verloof geraak en is op 3 Desember verlede jaar getroud. En nes hulle voorspel het, lê die wittebroodsbaba nou in sy wiegie.
Michele is ’n entrepreneur uit eie reg. Ná matriek het sy haar by Design Town in Kaapstad as ’n binnenshuise ontwerper gekwalifiseer. Sy onthou dat Schalk se blyplek haar nie beïndruk het nie. “Dit was ’n regte bachelor’s pad. Daar was net ’n leerbank, televisie en ’n vol yskas.”
“Ja, en nou is daar hartjies en kruisies oral,” sê Schalk terloops.
Michele bedryf haar eie onderneming, Inspace Interiors. Sy het eers vir argitekte en ’n klein ontwerpmaatskappy gewerk, maar het sowat 18 maande gelede besluit om haar eie onderneming te begin. Dis suiwer stres, sê sy, en groot projekte hou haar maande lank besig. Vier projekte kan ’n jaar duur om af te handel.
Mense vra Michele dikwels uit na Schalk die mens. “Presies nes jy hom sien,” is haar opsomming. En nee, by die huis is hy nie so ’n willewragtig soos op die rugbyveld nie. Ondanks vyf geelkaarte in internasionale rugby, is hy ’n sagte man wat homself nie as belangrik ag nie en empatie met ander het, verseker sy my. Rustig, gasvry, ’n ongekunstelde boerseun. In hul nege jaar saam het sy hom nog selde kwaad gesien.
“Ek is eerder die een wat sal baklei,” bieg sy. “Hy bekommer hom nie sommer oor goed nie. Hy is elke dag dieselfde met dieselfde positiewe energie, wat vir my ook goed is. En hy is baie lojaal teenoor sy vriende en familie.”
Mevrou Burger kla wel so ’n bietjie oor haar man se obsessie met Supersport! “Soms kry ons tyd om saam te kuier, maar dan sukkel ek om hom voor die kassie weg te kry. As hy nie gholf kyk nie, is dit rugby, krieket of motorwedrenne. Dit frustreer my nogal. Sport is sy lewe.”
Michele het op haar dag provinsiale hokkie gespeel en hou baie van sport. Aan die begin van hul verhouding was dit ’n lekker aanknopingspunt, maar nou sou sy darem soms ’n kans wou hê om na haar sepies te loer, eerder as om ure lank na sport te kyk!”
Sy het ook kompeterend perd gery en het ’n passie vir dié diere. Maar, en sy lag lekker, Schalk is vrek bang vir ’n perd. “Jy sal hom nooit op ’n perd kry nie! Dit is waarlik die enigste ding waarvoor hierdie groot man bang is.”
Oor haar eie ”tekortkominge” bieg sy gemaklik. “In teenstelling met sy emmers vol geduld, kan ek nogal ongeduldig wees. Dalk is dit juis omdat hy so rustig is.“
En sy swymelende vroulike aanghangers pla haar min. “Ek is glad nie jaloers nie. Ek is seker van Schalk se lojaliteit. Hy steur hom in elk geval nie veel aan roem en status nie.”
Vir sy Chelie, soos hy haar noem, het hy net lof. “Sy is ’n baie nice girl – ’n bietjie ongeduldig, soos die meeste vroue. En sy het road rage!”
Michele stem heelhartig saam. Swak bestuurders frustreer hom ook, maar hy reageer op sy tipiese kalm manier. Hy lê nie soos sy op die toeter nie!
Die een ding wat Schalk wel onderkry, is ondersteuners met slimfone. “Ek gee glad nie om om met ondersteuners te gesels en dat hulle ‘n foto neem nie. Dit is deel van die pakket. Maar dikwels weet hulle nie hoe om ’n foto met die foon te neem nie, en word die storie ’n bietjie lank – en ek lekker gefrustreerd.”
Wat vir Michele sleg is, is wanneer Schalk op die veld bly lê. “Hy is taai. Hy gaan lê nie sommer nie. Hy het sowat vyf jaar gelede sy nek in ’n wedstryd gebreek en aanhou speel. Ná hierdie voorval bekommer ek my nou maklik.”
Oor 2012 wat op sy rug lê, lag Schalk lekker. “Ek is seker die hoogs betaalde rugbyspeler per minuut, want vanjaar was ek nog net twaalf minute op die veld.”
Hy het ’n jaar van slegte beserings agter die rug. Twee knieoperasies later, is hy nog nie reg om terug te keer nie.
“Maar as ek nie beseer was nie, sou ek net ná klein Schalk se geboorte agt weke op toer gewees het, en nou is ek Pa van die Jaar! As ek die gereedskap gehad het, sou ek hom seker kon voed ook,” sê hy met ‘n skaterlag.
“Ek is die nuwe generasie van hands on. My pa was nou die dag hier en toe ek ’n doek omruil, het hy het my redelik snaaks aangekyk.”
Oor sy bydrae tot rugby is Schalk beskeie. Hy het op twintig al sy buiging in internasionale rugby gemaak en toe sommer ’n drie ook gedruk. Hy was ook in die span wat die Wêreldbeker in 2003 gewen het. Maar deesdae klassifiseer hy homself eerder as “Pa”.
En dit lyk asof hy beoog om vader van vele te word. Hulle het ’n vakansiehuis op Yzerfontein heeltemal oorgedoen (na Michele se smaak) en trek in April na ’n nuwe huis in Claremont, met genoeg speelplek vir kinders.
“Ons grootste droom is om eendag ’n huis vol kinderstemmetjies te hê. Ons kan nie wag vir ’n maatjie vir klein Schalk nie.“
En Michele se troetelnaam vir Groot Schalk?
“Skalla as ek oulik is, anders eenvoudig net Schálk,” antwoord hy skalks namens haar.
So vier hulle Kersfees
Michele het grootgeword met Kersfees op die skihange van Italië. Deesdae word Kersfees verdeel tussen hulle ouers. Een jaar kuier hulle saam met Schalk se mense op Kleinmond, en die volgende jaar by haar ouers op Stellenbosch. Vanjaar is dit Schalk se ouers se beurt en vir hulle ’n baie spesiale geleentheid met drie Schalk Burgers onder een dak. Gewoonlik is die Kersmaal vars kreef op die kole.
Schalk onthou sy Kersfeesdae by die huis as ’n lekker kuier met volop kos en baie maats en familie. Deur die jare is daar al verskillende geregte op die spit gebraai om die kuier ekstra lank uit te rek. “Jy skei nie ’n man maklik van sy vuur nie,” skerts hy.