Hierdie artikel het in die Augustus 2014-uitgawe van rooi rose verskyn.
Reuse-eikebome, al in hul herfsdrag geklee, waak stil om die ou plaasopstal. Toe ’n ligte windjie opsteek, dwarrel die geel en goue blare grond toe. Tog skyn die son vanoggend helder en warm hier op Sémoér in Noordwes. Die winter is laat vanjaar.
Van die stoep se kant af stap doktor PG du Plessis ons tegemoet. “Ek het griep,” keer hy voor ons te na aan hom kom. “Ek hoop ek gee julle griep,” sê hy skertsend terwyl ons na die pragtige klipgebou, sy heiligdom, sy studeerkamer, aanstap.
Jy weet van die studeerkamer wat met gekapte kaiingklip gebou is, want hier gesels hy met al wat joernalis is. Jy weet ook dat PG al die houtwerk hier binne gedoen het. Op ’n klavier eenkant teen ’n muur staan verskeie beeldjies, alles pryse. PG du Plessis is immers ’n veelbekroonde skrywer. Baie mense meen sy enigste Afrikaanse roman, Fees van die Ongenooides, is dié Groot Afrikaanse Roman. Teen ’n ander muur hang ’n geborduurde Bybelteks: “Tot hiertoe heeft de Here ons geholpe.” Dis die einste een wat bokant sy oupa se bed gehang het toe hy kleintyd twee jaar lank ’n kamer met sy oupa moes deel, vertel hy. “Wat gaan daarvan word? Niemand anders gaan mos enige erg daaraan hê nie, maar vir my is dit ’n groot stuk sentiment.”
Die gerekende storiesmous gaan sit by die ronde tafel waar hy altyd sy vergaderings hou. Sy jong, uitgelate Ierse wolfhond kom vriendelik nader gestap, kussing in die bek.
“O hemel, hierdie hond het al meer kussings geruïneer as wat jy brekfis geëet het!” PG vat die kussing af en stoot die hond by die deur uit. “Jy is ’n k@k-droogmaker van faam,” sê hy kwaai. Die hond swaai sy stert met die geesdrif van die jeug en loer vir ons deur die glasdeur.
PG kry kans om oor sy naam te gesels. Sy ma het hom “Pieter” genoem en sy sussies “Outie”. Op laerskool het almal hom “ou Piet” genoem. Hy was ook Doep en toe weer Pieter. Terwyl die produksie van Nag van Legio op die planke was, het een van die akteurs na hom as PG verwys, die naam wat onderaan die teks geskryf gestaan het. Toe die SAUK net daarna vir hom ’n geselsprogram op televisie aanbied, het PG gesels met … gou ’n huishoudelike naam geword.
“Pieter Georg is ’n familienaam. Moet tog net nie ‘George’ skryf soos wat Wikipedia doen nie. Dis Georg. Ons Du Plessis’s is oral. Op ’n keer het hulle ’n opname gemaak en toe was daar 19 Du Plessis’s in die parlement en veertig in die tronk. Ons skaam ons ’n bietjie oor daardie 19 wat in die parlement was,” korswel hy.
“Ons skaam ons ’n bietjie oor daardie 19 wat in die parlement was”
PG vier op 14 Julie sy tagtigste verjaarsdag en ons loop saam met hom op sy skrywerspad terug. Hy vertel hoe hy as ’n arm onderwyser met Tom Smith, een van sy kollegas, kragte saamgespan het. Albei se vroue was swanger en daar was geld nodig vir die ekstra uitgawes. PG het ’n ou Remington-tikmasjien gekoop wat Hoërskool Fakkel verkoop het om plek vir nuwe tikmasjiene te maak. In kamer 30 van die skool het hy en Tom twee boeke per week geskryf. Tom het die raamwerk uitgedink en PG het dit met ’n verbysterende spoed ingekleur. Moet hom net nie vra onder watter skuilnaam daardie skop-skiet-en-donder-boekies geskryf is nie. Hy verklap wel dat Treffer Uitgewers die boeke uitgegee het. Hy sou vandag so graag een van die boekies wou hê, maar kan glad nie een opspoor nie.
Nadat hy sy graad aan die Universiteit van Pretoria en sy onderwysdiploma aan die Normaalkollege voltooi het, het hy ’n telegram ontvang: “U dienste word gebesig aan die Hoërskool Fakkel, Johannesburg.”
“Ek het die hoof gebel en gesê: ‘Meneer, ek is die nuwe geskiedenisonderwyser.’ Hy sê toe: ‘Nee, Meneer du Plessis, jy is die nuwe Afrikaansonderwyser.’ Deesdae is ek heilig oor Afrikaans, maar dit het maar op my gegroei. My ma was ’n ongeleerde vrou, maar sy het Afrikaans beter gepraat as enigeen wat ek ooit weer teëgekom het. Dit was ’n natuurlike, pragtige Afrikaans. Ek kan nie verstaan dat elke mens nie probeer om sy taal so goed moontlik te praat nie. Gelukkig sien ek deesdae dit is nie meer so withit om amazing te gebruik nie,” skerts hy.
“Ek kan nie verstaan dat elke mens nie probeer om sy taal so goed moontlik te praat nie”
“My pa het een keer vir my gesê: ‘Boet, jy gooi alles in Afrikaans. Wat gaan jy maak as die taal verdwyn?’ Dan moet ek maar saam met die taal verdwyn, was my antwoord. My pa was ’n Engelsonderwyser en hy het die geskiedenis geken van tale soos Gallies en ander wat verdwyn het. Tog het ek ’n snaakse gevoel dat Afrikaans nog vir ’n lang ruk gaan oorleef, en vir my is die letterkunde een van die grootste redes waarom Afrikaans die moeite werd is.”
Op ’n vraag oor die pryse wat hy in die laaste paar jaar ontvang het in erkenning vir sy reuse-bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, wys hy in die rigting van die klavier.
“Vir my is die letterkunde een van die grootste redes waarom Afrikaans die moeite werd is”
Ek het so ’n paar toekennings gekry by die Woordfees, Innibos, en daar is die South African Literature Awards. Daar staan die spul goed. Dis lekker om erkenning te kry, dit help nie om daaroor te kla nie. Ek hou van erkenning, maar dis nie wat jou op die ou end laat skryf nie. Skryf is eintlik maar ’n dobbelspel, want jy weet nooit nie. Elke ding wat jy doen kan flop, en elke ding wat jy doen, kan ’n sukses wees. Ek het suksesse gehad en ek het flops gehad. Toe ek jonk was, het ek vreeslik baie literêre teorieë gehad, maar ek het nie meer een nie.”
In Julie begin PG se splinternuwe televisiereeks, Pandjieswinkelstories, met Elize Cawood, Deon Lotz en Frank Opperman as die drie hoofstorievertellers. Die reeks is geskryf op dieselfde patroon as die baie gewilde Koöperasiestories en gaan heerlike kykstof wees. Die storielyn van elke aflewering is fyn uitgewerk, soos net PG kan, en dan kleur die knap dialoog die prentjie baie mooi en presies in. Die mens is ’n pratende wese, so basta met diegene wat wil hê hy moet liggewig, niksseggende dialoog skryf, sê hy.
Moenie vir een oomblik dink PG het sy rekenaar afgeskakel nie. Hy werk aan drie projekte wat hom nog ’n rukkie gaan besig hou. Die Engelse vertaling van Fees van die Ongenooides is afgehandel, maar PG wil nog net sy eie ritme aan die vertaling gee. Dan werk hy aan ’n musiekblyspel wat Matthys Maree gaan vervaardig. Hy wil nie veel verklap van die roman wat hy besig is om te ontwikkel nie. PG is bekend daarvoor dat hy nooit sy eie stories vooruitloop nie.
“Ek moet eers my Internet regkry voor ek hom regtig kan skryf. Ek het ’n mooi naam vir die ding. Die bitter van olyf … Ek weet nie of ek gaan tyd kry om hom klaar te maak nie. Die tyd word kort.”
Dis moeilik om te glo die sjarmante gespreksleier, die man wat die volk kan laat skaterlag, die koerantredakteur, die dramaturg, die formidabele woordsmid is tagtig jaar oud. PG sê so half fatalisties dat hy nie eintlik meer vorentoe kyk nie.
“Op tagtig kyk jy net terug. Vorentoe is kort, jy kyk teen ’n muur vas. Dis eintlik lekker om op jou lewe terug te kyk, want daar is altyd balans. Daar is altyd dinge waaroor jy jammer is, foute wat jy gemaak het. Maar daar is ook oomblikke wat nogal oulik was, maar waarvan die oulikheid ook maar bleddie vinnig vervaal het. Vir ander mense bly die oomblikke amper meer bestaan as vir jou. Nou dink ek aan iets soos die Hertzogprys.
“Al wat vir my voorlê, is kortstondigheid, waarskynlik pyn, en ’n oormatige gevoel van trots op my kleinkinders.”
“Op 80 kyk jy net terug. Vorentoe is kort, jy kyk teen ’n muur vas”
Wanneer hy vertel van sy studentemaats wat nou almal langs die pad geval het, merk jy ’n weerloosheid by hom op. Hy vertel van die diep seerkry toe een van sy beste maats, Koos Prinsloo wat ook sy strooijonker was, nie te lank gelede nie skielik in sy slaap oorlede is. En tog is daar by hom wat PG is, ’n groot mate van dankbaarheid. Sy lewe is deurtrek met dankbaarheid.
“Ek is dankbaar dat ek die tyd gegun is om my laaste stuk werk te doen, om Fees van die Ongenooides klaar te maak. Ek is dankbaar ek kon my swanesang vir die TV, Pandjieswinkelstories, op ’n lighartige wyse ná Fees se smarte aanpak en klaarmaak. Die dankbaarste van alles is dat ek my vrou nog by my het. Deur die genade het ek hierdie vrou gekry, deur die genade was ons kinders gesond. Ek is dankbaar ek kan op die plaas bly waarvoor ek so lief is. Daar sal ’n tyd kom dat ek goodbye moet sê. Daarvoor is ek nie dankbaar nie, maar dit sal nie al die ander dinge waaroor ek dankbaar is, kan wegneem nie.”
“Daar sal ’n tyd kom dat ek goodbye moet sê. Daarvoor is ek nie dankbaar nie, maar dit sal nie al die ander dinge waaroor ek dankbaar is, kan wegneem nie”
Ek ry laatmiddag met ’n wete van verganklikheid terug huis toe. Fienatjie, PG en Marie se worshondjie wat na die karaktertjie in Fees van die Ongenooides vernoem is, het die einde van haar lewenspad bereik en genadedood is die enigste uitweg. Haar ounooi neem haar nou veearts toe. Ek dink aan PG wat vertel het hy is nie bang om dood te gaan nie, maar hy is bang vir hoe die dood na hom toe gaan kom.
“Jy weet, die bliksem lê jou voor en vang jou onverwags,” het hy verduidelik. Onvermydelik het die gesprek toe gegaan oor dit wat ná sy dood met hom moet gebeur. Hy hoop dat hy veras sal word en dat sy as hier op Sémoér gestrooi sal word. Iemand moet dan op ’n plat klip, dieselfde waarvan sy studeerkamer gebou is, die volgende woorde uitbeitel: Pieter Georg du Plessis, 14 Julie 1934 tot so en so. Hy is hier in die wind gestrooi, want hy was vir ’n rukkie pagter hier …
“Pieter Georg du Plessis, 14 Julie 1934 tot so en so. Hy is hier in die wind gestrooi, want hy was vir ’n rukkie pagter hier …”