24 in Seepunt
Maak seker jy bly sentraal.
Radisson Blu Hotel in Granger Bay is sentraal geleë en binne loopafstand van ’n hele klomp lekker besienswaardighede. Die moderne hotel het ’n asemrowende uitsig oor Tafelbaai en jy kan die geruis van die golwe in jou kamer hoor.
Besigheidsklassuites en die 2-slaapkamersuites is ruim met ’n stoepie en sitkamer. Die kamers is luuks, lig en modern ingerig. Kamerbestellings is groot by Raddison Blue! Die spyskaart sal jou mond laat water – hier moet jy beslis ’n gourmet middernagfees of ontbyt-in-die-bed geniet.
Die Tabago-restaurantveranda is reg teen die see en hier kan jy ’n ontspanne uurtjie of twee verwyl. Met ’n lekker skemerkelkie in die hand kan jy die mees asemrowende sonsondergang oor die see beleef. Dit is ook hier waar jy soggens vir ’n luukse ontbyt kan aansit. Die restaurantspyskaart is omvattend en jy sal beslis iets kry waarvan jy hou. Vat ’n luilekker stappie op die privaatkaai na ete en sien Kaapstad se liggies uit ’n ander hoek.
Radisson Blu Hotel Waterfront
Beach Rd, Granger Bay
Tel: 021 441 3000
Besprekings: [email protected]
Webblad: Radissonblu.com/hotel-capetown
Gaan vir ’n luilekker middagete
The Grand Africa Café and Beach is ’n hanetreetjie van die Radisson Blue Hotel af en beslis ’n besoek werd. Dié unieke restaurant is redelik onlangs oorgedoen. Die tafeltjies en stoeltjies is sommer direk op die sand en as jy oor die baai uitkyk kan jy jou maklik verbeel dat jy op een of ander eksotiese eiland is. Hier moet jy eenvoudig seekos bestel, dis nie goedkoop nie, maar dit is van goeie kwaliteit en porsies is ruim. Of drink net ’n lekker skemerkelkie op die rusbanke met jou tone in die sand, jy stap mos sommer terug hotel toe.
Granger Bay rd, Granger Bay
(021) 425 0551
www.grandafrica.com
Doen inkopies
Ook binne loopafstand is die Victoria & Alfred Waterfront, waar jy by meer as 400 winkels luilekker inkopies kan doen. As dit by jou begroting pas, kan jy by bekende internasionale winkels soos Louis Vitton, Emporio Armani en Jo Molone koop of soos ek net lustig oor die handsakke en klere streel.
As snuisterrye, handgemaakte kosse en mooi ontwerp meer in jou smaak val, stel ek voor dat jy op die promenade in Seepunt by die nuwe MOJO-mark ’n draai gaan maak. Die mark is 7 dae ’n week oop, bevat 15 kosstalletjies, 40 ontwerpersstalletjies en 3 kroeë om jou dors te les.
Mojo-mark
34 Regent straat
Seepunt
mojomarket.co.za
Lekker bederf
Een van die lekkerste roomyse wat ek al ooit geëet het, was by The Creamery. Die oulike winkeltjie is ’n kort stappie weg van die hotel, af in Beach, Mouille Point. Die seesout-en-karamel-roomys asook die grondboontjiebotterroomys is iets om oor huis toe te skryf! Moet dit nie misloop nie. Hulle het elke maand nuwe unieke geure so gaan loer gerus by thecreamery.co.za vir die nuutste kombinasies.
Waar: Beach Rd, Mouilli Point
Lindt-sjokolade het ook nou ’n splinternuwe sjokoladeboetiek in die nuut geboude Silo-distrik van die Waterfront. Nie net kan jy hier na hartelus smul, proe en Lindt se uitgebreide reeks kwaliteit sjokolades koop nie, maar jy kan ook ’n vinnige klas bywoon en jou eie sjokolade maak.
Kies uit ’n sjokoladetruffel of makrolletjie klas of leer om die beste sjokoladekoek op aarde te bak.
Gaan loer by chocolatestudio.co.za vir ’n program en hoe om te bespreek.
Winkel no 2; Silo 2, Victoria & Alfred Waterfront
021 831 0360
Vir die aktiewe vakansieganger
Gaan vir ’n lekker oggenddraffie, die vars seebries sal jou sommer energiek laat voel. Daar is oral baie mense wat die promenade veilig maak en dit ook ’n feestelike atmosfeer gee. Mense gaan stap met hulle honde en kinders, party ry fiets en daar is selfs ’n paar skaatsplankryers wat verby jou gly. Net langs The Creamery is die Groenpuntpark; ingang is gratis en jy kan hier ook lekker draf of sommer net tussen die pragtige tuine deurstap (terwyl jy aan jou roomys smul!) As jy met kinders reis is dit die ideale plek om hulle te laat stoom afblaas. Daar is fantastiese klimrame en speelterreine wat hulle ure lank besig sal hou.
Besoek die webblad hier: capetown.gov.za