Janina Oberholzer se naam sou eers Carla Nicolette gewees het, afgelei van die familienaam Carel Nicolaas. “Maar toe my ma my die eerste keer in haar arms hou, het sy my glo net een kyk gegee en besluit ek is nie ’n Carla Nicolette nie, maar ’n Janina,” verduidelik sy haar ongewone naam.
Die vrolike donkerkop se ongekunsteldheid is verrassend en opvallend. Geen airs and graces nie, al is sy al ’n paar jaar lank mede-aanbieder van Toks en Tjops op kykNET, en voor dit reeds ’n bekende radiopersoonlikheid. Sy geniet die kollig, maar is ewe bereid om agter die skerms te werk, soos sy deesdae ook doen as produksiebestuurder by Afrikaans is Groot.
“My huislening gaan homself nie betaal nie,” sê sy droogweg. Tussendeur gaan dié oud-Tukkie steeds vir al wat ’n TV-oudisie is, want sy het immers ’n graad in drama.
Janina was in 2011 naaswenner van SuperSport se Lady Rugga-kompetisie waarin daar landswyd na vroueaanbieders vir rugbyprogramme gesoek is. Hoewel sy van kleins af sportmal was, was sy nie van plan om in te skryf nie. “Ek het eintlik net saam met ’n vriendin wat wou deelneem Ellispark toe gegaan vir morele ondersteuning. Ons moes ’n filmtoets doen en ’n klomp vrae van ’n paneel rugbykenners beantwoord.” Sy was verbaas toe sy die oudisie slaag, en stomverbaas toe sy as een van die top-vyftien en uiteindelik as een van die drie finaliste aangewys word. Elma Smit is as Lady Rugga aangewys, met Janina in die tweede plek en Motshidisi Mohona (ook steeds te sien op SuperSport) in die derde plek.
Lees ook: Elma Smit leef vreesloos vooruit
Liebie Opperman, die vervaardiger van Toks en Tjops, was baie beïndruk deur wat hy gesien het, en het Janina ’n paar dae later gebel en gevra om die vroulike mede-aanbieder op ’n nuwe rugbygeselsprogram te wees. Sy lag lekker as sy onthou hoe sy haarself daaruit probeer praat het. “Ek het vir Liebie gesê ek dink daar is baie ander mense wat baie meer van rugby weet as ek.” Maar ’n week of wat later het Liebie weer gebel, en gesê die werk is hare en klaar.
Sy sal daardie heel eerste Toks en Tjops-opname saam met Toks, Breyton Paulse en die sangers Bok van Blerk, Robbie Wessels en Theuns Jordaan nie sommer vergeet nie. Gelukkig was daar dadelik ’n sinergie tussen almal. “Ons het een gulde reël op die program: geen ego’s nie. Ek dink dis wat ons program so real maak. Dis eintlik net ’n lekker geselsie om ’n braaivleisvuur. Die enigste verskil is dat daar ’n kamera is.” Dis duidelik dat sy dol is op haar werk. “Toks en Breyton is baie beskermend teenoor my.”
“Ek het vir Liebie gesê ek dink daar is baie ander mense wat baie meer van rugby weet as ek”
Maar sy moes maar vinnig ’n dik vel kry. “Die kykers se kommentaar op SMS’e en sosiale media is soms verskriklik. Opmerkings soos ‘kyk haar bakore’ of ‘Janina het ’n kalkoennek’ kan ’n mens seermaak. Kyk, ek is nie liggeraak oor kritiek nie – as jy dink ek het ’n rugbyfout gemaak, wys my gerus daarop dat ek daaruit kan leer. Maar om sulke persoonlike goed op ’n openbare forum te sê waar ek myself nie eens kan verdedig nie!”
Sy beklemtoon haar waardering vir almal wat agter die skerms werk om van Toks en Tjops ’n sukses te help maak. “Noudat ek by Afrikaans is Groot agter die skerms werk, waardeer ek hulle nóg meer. Dis hulle wat ons voor die kamera goed laat lyk.”
Die belangrikheid van respek is iets wat sy vroeg in haar loopbaan al geleer het. “Maar dis eintlik logies, of hoe? ’n Mens moet jou medemens respekteer, maar jy moet ook mense se vaardighede respekteer. Of dit nou die kameraman of die grimeerkunstenaar is. Jy moet ook jou plek ken – ek kan nie vir ’n kameraman sy werk probeer leer nie.”
Haar pad het met ’n ompad geloop tot by haar huidige loopbaan. “Ek was klaar ingeskryf vir verpleegkunde aan die PUK, maar die dag toe die deposito betaal moet word, het ek van plan verander.” Drama het gewen, iets wat heel logies klink toe jy hoor albei haar ouers was in die Alabama-studentegeselskap. “My pa, Pieter, was die voorsitter van Alabama, en my ma, Isobet, was die eerste vrouekomediant in die geselskap.” Janina se suster Lianne was ook lid van Alabama. “So, die PUK is maar in my bloed. Maar ongelukkig het hulle nie ’n dramadepartement nie, en moes ek Tukkies toe.”
Sy skerts dat haar ma “so effens gesug het” toe Janina die voltooide aansoekvorm vir Tukkies bring om te teken. “Maar sy kon my nie eintlik keer nie. Drama is ook in my bloed.”
“’n Mens moet jou medemens respekteer, maar jy moet ook mense se vaardighede respekteer”
Haar kinderdae was allesbehalwe vervelig.
“My ma was Marike de Klerk se persoonlike assistent, en my pa was Magnus Malan se privaatsekretaris. Ek en my sussie het lekker rondgehol in die gange van Libertas, die destydse eerste minister se ampswoning in Pretoria, en Groote Schuur, die ampswoning in Kaapstad.” Haar ouers is deesdae albei onderwysers.
Op haar eerste dag op Tuks het sy ’n Tuks FM-banier gesien wat gesê het “Wil jy op radio wees”? Sy het op die ingewing van die oomblik aansoek gedoen en ondanks die “héél aakligste onderhoud van my lewe” die werk gekry. Sy skaterlag toe sy verduidelik hoe ’n gesukkel dit was om die ateljeekontroles te leer bemeester. “Ek het daai toets seker vier keer gedop, en was dalk die mens wat die heel langste gevat het om op lug te kom.” Maar die saadjie vir uitsaai is vir ewig geplant.
Aan die einde van haar eerste jaar het sy gedink dis klaar met radio, maar toe nooi die bekende Tim Zunckel haar om saam met hom die ontbytprogram op die stasie aan te bied. Sy het ook programme saam met Robbie Kruse (deesdae by 5FM) en Andre Kunz (OFM) aangebied. “In my derde jaar was ek gelukkig genoeg om die verkeersverslae vir Jacaranda saam te stel. Ek was nou wel nog nie op lug nie, maar dit was ’n voet in die deur.” Hierna het die geleenthede vinnig gekom: binne drie maande ’n eie program op Jacaranda, nuusleser op e.TV, vyf jaar lank die verkeersverslaggewer op Martin Bester se program en, les bes, sportverslaggewer op Jacaranda.
Wat het radio haar geleer?
“Dissipline, en dat niemand onvervangbaar is nie. Die bedryf is piepklein, en mense praat met mekaar. Jy kan nie ’n slegte reputasie bekostig nie.” En, herhaal sy: “Respek vir jou medewerkers se vaardighede. Dis iets wat ek eintlik al as dramastudent geleer het.”
Janina is al twee jaar gelukkig getroud met Ryno van Niekerk. Hy werk by ’n sitrusuitvoermaatskappy. Hulle het mekaar op ’n vriend se partytjie ontmoet, maar Janina het eers agterna gehoor dit was nie ’n terloopse ontmoeting nie. “Hy het my op Lady Rugga gesien en gesê hy wens hy kan my ontmoet.” Toe reël haar vriendin dit. Maar Janina het dinge glad nie maklik gemaak vir die arme Ryno nie. “Ek het vreeslik hard to get gespeel, en elke keer wanneer hy my uitgevra het ’n verskoning gehad. Vyf weke lank. Toe besluit hy eendag hy gaan my nog één keer bel. En as ek weer weier, dan’s dit verby.” Maar daardie aand het Janina dadelik ingestem om iets te gaan drink, en die res is geskiedenis. Hulle woon in die ooste van Pretoria saam met hul twee honde. “Cody is Mamma se oudste en Django Mamma se mooiste, maar nie noodwendig Mamma se slimste nie,” skerts sy oor haar hondekinders.
Janina het onlangs hierdie foto op Instagram gedeel:
Hulle het nog nie planne vir kinders nie, maar dit pla Janina dat vroue van haar ouderdom so dikwels die vraag gevra word, soms sommer deur wildvreemdelinge. “Ek het ’n vriendin wat al twee miskrame gehad het en regtig sukkel om swanger te raak. Maar mense bly haar vra wanneer gaan sy kinders hê? Hoekom moet ’n mens nou eintlik so iets vir vreemdes verduidelik? In elk geval dink ons generasie anders. Ons fokus op ons loopbane, en daarna wil ons reis. Eers daarna kom kinders. En as iemand nie wil kinders hê nie, moet ’n mens dit aanvaar en respekteer.”
Al is sy hoe dol op haar televisiewerk, bly teater haar eerste liefde. “Man, ek mis teater, ek mis radio. Maar ek gaan vir oudisies – ons sal maar sien wat gebeur.”
Daar is nie baie dinge wat haar kwaad maak nie, verklap sy. “Maar ek kan verkeer nie hanteer nie! Ek bars sommer in trane uit. En ek háát rassisme – ek stap maklik uit ’n geselskap as mense rassisties raak.”
Maar soos dit iemand met so ’n sonnige geaardheid betaam, is haar lysie vreugdes veel langer as die dinge wat haar kwaad maak. “My hartsmense maak my verskriklik gelukkig. En fliek – ek sal selfs alleen gaan fliek. Ek is mal oor romantiese komedies – ek is eintlik ’n hopeless romantic. ’n Weersiens maak my hart baie bly – om sommer net vinnig saam met iemand koffie of ’n bier te gaan drink en net ’n bietjie in te haal op mekaar se lewe. En reis: ek wil nog die hele wêreld sien! Ek was in my kinderdae darem in Europa en Amerika, en ek en Ryno was al in Mauritius en Tanzanië, maar daar is nog soveel plekke om
te sien.”
En het sy ’n bucket list wat sport betref? “Om Roger Federer op Wimbledon te sien speel. En die Bokke teen Engeland op Twickenham. Ag, en om ’n hele Olimpiese Spele te kan bywoon. Ek sal na álles wil gaan kyk.”
Waar kom haar liefde vir rugby vandaan?
“Ek weet nie regtig nie. My pa het my kleintyd Nuweland toe gevat om van my ’n Stormer te probeer maak, maar ongelukkig vir hom word ek toe die grootste Bul-ondersteuner wat daar is!” sê sy laggend. Sy was haar lewe deur versot op sport. “Daar is nie ’n beter tennisspeler as Roger Federer nie!” beduie sy geesdriftig. Kleintyd al het sy vasgenael die Olimpiese Spele op televisie gekyk, ewe met ’n notaboekie byderhand. Sy het selfs die Russiese en Roemeense gimnaste se name geken. Sy rits die vreemdklinkende name af: “Svetlana Khorkina, Andreea Raducan … die kommentators het haar ‘The queen of the bars’ genoem.
Daar is nie ’n beter tennisspeler as Roger Federer nie!
In st. 5 het ek snot en trane gehuil toe Andreea se medalje van haar weggeneem is nadat ’n verbode middel in haar urien-monsters gevind is. En dit omdat haar afrigter vir haar ’n bietjie hoesstroop gegee het!” Sy beduie so geesdriftig dat jy jou maklik die sportbehepte meisietjie voor die TV kan verbeel. “Ek kyk tot vandag toe die hele Olimpiese Spele van begin tot einde: boogskiet, swem, gimnastiek, maak nie saak nie. Ek stel my PVR dat ek niks misloop nie.”