Van Witbank tot Mauritius. En tussen dié twee plekke het Anneline Kriel se pad wye en interessante draaie gegooi. En ’n gebrek aan opwinding was daar ook nie.
Die blondekop was net 19 toe sy as Mej. Wêreld gekroon is nadat die oorspronklike wenner, Helen Morgan, ná vier dae bedank het omdat dit aan die lig gekom het dat sy ’n kind het. Dit klink dalk na ’n sprokie, maar dit was allermins. Die bloedjong Anneline moes leer om fel kritiek en internasionale boikotte te hanteer. Sy is as die gesig van apartheid bestempel, en Amerika en Australië het onder meer geweier dat sy as deel van die Mej. Wêreldtoer daarheen gaan. Tog het sy gou die liefling van die media geword.
Hoe voel sy vandag oor skoonheidskompetisies?
“Ek dink dis ’n goeie leerskool, en een wat vir meisies baie deure kan oopmaak. As ek nie gewen het nie, sou ek waarskynlik met my eerste liefde getrou het en my lewe sou heel anders verloop het.”
Sy het toe nie met haar jeugliefde getrou nie, maar op 25 met die casino-magnaat Sol Kerzner. Sy en haar tweede man, wyle Philip Tucker, het twee dogters, Tayla en Witney. En sy en Peter Bacon is sowat 20 jaar getroud.
Anneline en Peter woon nou al byna ses jaar op Mauritius.
“Ons twee was nog altyd gek na die eiland en ek het eindelose herinneringe aan vakansies hier. Maar om op Mauritius vakansie te hou is heelwat anders as om hier te woon. Ons lewe is eenvoudig en goed. Ons is omring deur lieflike hartsmense en ons sewe honde.
“Ons handel soggens al ons sake en take af, want smiddae word dit ongelooflik warm. Later eet ons ’n rustige middagete wat Peter of ons huishoudster, Francois, voorberei. Francois is ’n lieflike Kreoolse vrou. Smiddae ontspan ons en vroegaand speel ons dikwels ’n potjie Scrabble. Ons hou van goeie flieks en kyk ook daagliks na die nuus sodat ons op die hoogte kan bly van wat buite die eiland gebeur.”
Dis die rustige deel van hul lewe. Hoewel Peter, voormalige hoofuitvoerende beampte van Sun International, amptelik afgetree is, dien hy nog as nie-uitvoerende raadslid in die direksies van Sun International en Woolworths en hy het ook verskeie sakebelange in Mauritius en Suid-Afrika. Peter het vir Sun International gewerk toe Anneline nog met Sol Kerzner getroud was. Min het sy toe geweet dat hy eendag haar man en geesgenoot sou word.
Sy sê Peter is haar beste vriend en hulle deel twintig jaar al dieselfde passies. “Ons het ook verskeie sakebelange, soos die die aftreeboetiekhotel, sorgsentrum en meenthuise wat ons naby Plettenbergbaai ontwikkel. Die plek se naam is Quartet. Ons het ook ’n ou boot, Gryphon, op ’n veiling in Mauritius gekoop en is besig om dié heeltemal oor te doen en op te knap sodat ons haar kan uithuur. Peter help ook baie met my en my dogter Witney se onderneming. Sy beste eienskap is dat hy ’n perfeksionis is – ek hou van orde!”
Oor die verloop van haar lewe is sy heel filosofies: “Ek was op 19 baie onskuldig en naïef, maar in dié bedryf leer jy vinnig – ook om nie te maklik te vertrou nie. Ek glo jou lewenspad is ’n leerskool. Daar is altyd die goed en die sleg, maar ek het geleer om aan te beweeg. Deesdae maak ek ’n deur toe as iets nie vir my goed is nie en sluit die hoofstuk finaal af. Ek moet bieg dat die besluit my ook al duur te staan gekom het! Die ander kant van die munt is dat as jy passievol is oor iets en jou passie volg, sal jy soete sukses smaak.
As ek terugkyk op my lewe, is daar soveel waarvoor ek dankbaar is. Groot en klein. Dit was heerlik om as aktrise te kon werk en ek sal dit altyd onthou. My modeldae het weer vir my die geleentheid gebied om baie te reis.
“Ek was op 19 baie onskuldig en naïef, maar in dié bedryf leer jy vinnig – ook om nie te maklik te vertrou nie”
“Ek sal nooit in my kinders se pad staan in hul soeke na hul eie drome nie. Ek en Peter het vir finansiële ondersteuning gesorg sodat hulle hul studie kon voltooi. Dié keuses is nie altyd permanent nie en ek glo aan ’n plan B!
“My oudste, Tayla, woon in Kaapstad en die jongste, Witney, besit ’n swemreeks genaamd Laya Swim. Sy reis voortdurend. Hulle is jong volwassenes wat hul voete in ’n mededingende beroepswêreld probeer vind. Ek het ook drie stiefdogters wat almal reeds ma’s is. Hulle is vir my ’n groot bron van vreugde. By hulle het ek geleer dat ’n mens liefde en vertroue moet troetel omdat dit nie vanself gebeur nie. Naomi woon op ’n plaas naby Stellenbosch, Olivia is in Los Angeles en Claudia in Engeland.”
Anneline is ingestel op haar familie. “As jong meisie was ek glad nie familievas nie. Toe wou ek die lewe geniet. Maar dinge verander as jy ouer word en jou waardes verander ook.”
Sy is gemaklik oor ouer word. “Dit is interessant om ouer te word. Ek benut en geniet die kennis wat ek deur die jare bymekaargemaak het. Natuurlike skoonheid was nog altyd my voorkeur. Ek probeer ook gesond eet en leef, oefen matig – swem is my gunsteling – en tuinmaak is my lekkerste tydverdryf. Ek is ’n regte huishen!
“Om die leënessindroom vry te spring het ons ’n paar straathonde aangeneem,” vertel Anneline laggend. “Ons het ook ons twee honde van Suid-Afrika af saamgebring. Diere lê my na aan die hart. Hoe kan diere wat op die mens aangewese is, so mishandel word? Dit is skokkend en hartseer dat soveel mense die vermoë verloor het om menslik en barmhartig teenoor weerlose wesens te wees. Ek sien daagliks hoe mense respek vir lewe verloor het. My hart bloei ook vir Suid-Afrikaanse boere, vlugtelinge en mense wat van honger omkom.”
“As jong meisie was ek glad nie familievas nie. Toe wou ek die lewe geniet. Maar dinge verander as jy ouer word en jou waardes verander ook”
Die plaasmoorde veral, ontstel haar. “Ek het ’n stem en ek gaan hom gebruik. Ek voel verplig om ’n bewusmakingsveldtog van stapel te stuur omdat ek omgee vir die mense wat hul lewe op so ’n sinlose en wrede manier verloor. Daar is boere in my familie ook. Ek is baie teleurgesteld dat president Jacob Zuma nog nie die plaasmoorde openlik veroordeel het nie. Dit is onaanvaarbaar. Hoekom is hy so onaangeraak deur iets wat ons hele land raak? Ons leef in ’n verligte era waar die welstand van almal vir die president van die hoogste belang moet wees. Met ’n ondersteunende leier kan ons ’n wonderlike land hê, maar nou voel dit asof almal stroomop swem.”
En nee, sy mis nie al die negatiwiteit waardeur sy elke dag in Suid-Afrika gebombardeer was nie. Maar sy kom kuier gereeld by haar familie en vriende in Suid-Afrika.
Maar wanneer die Bacons op hul katamaran, Kili, klim en op die blou water van Mauritius seil, vervaag die wêreld daarbuite.
“Wanneer ek tussen die visse snorkel, onthou ek elke keer hoe bevoorreg ek is. Ek is so dankbaar vir my lewe, my dogters, familie en my gesondheid. Sonder gesondheid is jou genot so beperk. As ek terugkyk op my lewe, kan ek eerlik sê dat selfs die slegte tye goed was. Ek dank die Here vir ’n beeldskone lewe.”
In ’n neutedop
• Anneline is op 28 Julie 1955 op Witbank (Emalahleni) gebore.
• Sy het aan die Universiteit van Pretoria studeer.
• Sy het ’n broer, Ernst, en sussie, Renette.
• In 1974 het sy die Mej. Suid-Afrika-kroon gedra voordat sy die Mej. Wêreld-titel verower het.
• Anneline het buiten haar modelwerk ook in verskeie flieks, verhoogproduksies en televisiereekse opgetree.