Brunette wil blondines wees, blondines wil vurige rooikoppe wees. Rondborstige meisies wil borsverkleinings laat doen, terwyl ons meer petite susters borsvergrotings wil laat doen. Ons wil langer of korter hare hê, dikker of dunner hare, gladder of krulleriger, ons wil meer lyf of minder hê, langer of korter wees.
Ons is, onbedoeld, ondankbare wesens, altyd aan die streef na ’n mooier, beter weergawe van onsself.
In die afgelope week was ek by ’n paar geleenthede in die geselskap van vroue wat allerhande veranderinge aan hul voorkomste sou wou aanbring. Borste wat gelig moet word, neuse wat verklein moet word, haarverlengstukke, kunsnaels, borsvergrotings, en, en, en.
Ek bly stil en dink aan die tyd toe ek nie hare gehad het nie. Daardie tyd, onlangs nog, toe ek net een bors gehad het. Ek weet vandag ’n mens moet eers deur so iets gaan voor jy dankbaar is vir elke haar op jou kop, voor jy waardering het vir daardie oorblywende bors, maak nou nie saak of swaartekrag al sy ding gedoen het nie.
Die pre-diagnose Madelein het gereeld haarverlengstukke gedra. En kunsnaels. Ek sou dikker en gladde hare wou hê en beslis so vyf kilogram ligter wou wees. Ek het drome gedroom van keisersnee littekens wat weg is en borste wat fermer en hoër is. Ek was ’n doodnormale vrou met doodnormale drome.
Snaaks hoe dít wat eens so normaal was skielik verspot lyk. Verspot en sommer net ondankbaar.
In die wagkamer by die bestalingseenheid het ek ’n man met een oog gesien, sy ander oog verwyder omdat kanker sy ding gedoen het. Daar was ’n vrou wat die ander pasiënte kalm in die oog gekyk het, die een helfte van haar gesig donkerbruin gevlek deur bestraling. ’n Man wie se gesig verwoes is deur velkanker. Mense sonder naels, mense wat kruppel-kruppel aansukkel. En oral om my mense met kaal koppe, pruike, kopdoeke. Mense wat glimlag en grap en mekaar bemoedig.
Snaaks hoe dít wat eens so normaal was skielik verspot lyk. Verspot en sommer net ondankbaar.
Vir hulle is dit genoeg om te leef, oorgenoeg rede om te glimlag.
Ek beleef weer deesdae bad hair days. Het vandag weer een. Dis wonderlik. My hare is nie dikker of gladder nie, korter as enige tyd voor die diagnose. Ek weeg min of meer vyftien kilogram meer as voor die tyd. My linkerbors ly nog steeds onder die nagevolge van swaartekrag plus ouderdom en my nuwe bors is die ene littekens. Dis so fantasties, so ongehoord genadig dat ek weer twee borste het.
Ek leef. Ek is nog hier om my mense te oorlaai met liefde, want dis wat werklik belangrik is. Ek kan die blote feit van my oorlewing gebruik om mense te bemoedig, want dit is wat werklik broodnodig is.
Ons is geseënd, ons oorlewendes. Instrumente in God se hand. Ons is lewende bewyse van Sy genade. Van daardie ongelooflike manier wat Hy het om elke tragedie te verander in triomf. As ons maar net kies om te luister na die stil stem van ons Skepper wat ons aanmoedig om op ons beurt liefde en genade en vreugde uit te deel.
Dit sou bitter onregverdig wees om ons susters te verkwalik vir hulle doodnormale drome. Maar so nou en dan kan ons vertel van ons dankbaarheid vir elke haar op ons koppe en ons druipende, belittekende borste.
Dis genade onbeskryflik groot.