Vertel ons van jou karakter?
Barbara is Drikus, ’n jong seun met ’n ernstige siekte, se ma. Soos enige ma wat in die strik kan val van ’n kokon en oorbeskermend lewe nadat jou kind gediagnoseer is, het Barbara hierdie pad begin stap. Haar liefde vir haar kind en die behoefte om hom gesond te maak en aan die lewe te hou, weerhou haar om saam met Drikus en Dennis, haar man, voluit te lewe. Sy en Drikus stamp telkemale koppe hieroor en dit vat haar ’n ruk voordat sy werklik kan sien wat haar kind eintlik van haar nodig het.
Wat van die teks het jou aangegryp?
Ek is ’n ma en ek het ook ’n passie vir kanker, kankerpasiënte, kanker-navorsing en die bewusmaking van hierdie vreeslike siekte. Die teks het ’n mate van deernis en eerlikheid, nie net aan die karakters en hul doen en late nie, maar ook die werklikheid waarmee soveel mense op ’n daaglikse basis gekonfronteer word. Nie net oor siekte en dood nie, nie net oor rou en treur nie, maar oor liefde en hoop en glo en wees. Lizé Vosloo het ’n wonderlike tapyt geweef waarop ons kon sweef met die verfilming.
Wat was die lekkerste en die moeilikste van jou rol?
Dit was ’n absolute fees om saam met die jong talent op stel te kon werk. Te sien hoe die tieners van vandag funksioneer. Ek het soveel bewondering vir hul deursettingsvermoë en begrip van die oorkoepelende onderwerp van die film. Selfs deur die stout op stel, want ’n kind bly ’n kind. So ook die dorpsmense van Waterval Boven. Gestroop het hulle gekom, vervul is ons huis toe. Ek het self al naastes aan kanker moes afstaan en het ’n goeie begrip van wat dit aan liggaam en gees doen. So ook is ek jaarliks bertrokke by fondsinsamelingsprojekte vir kinders met kanker. In my voorbereiding en vertolking vir my rol het ek uit dié raamwerk gewerk. Daar was ’n toneel, waarmee ek net voor die verfilming daarvan, emosioneel gesukkel het. Om emosies te beheer. Daar was soveel egtheid daaraan. Dit was ’n voorreg om daardeur te kon werk.
Die tema is aangrypend. Dink jy kinders moet die fliek sien?
Nul is die somtotaal van HOOP. Kinders en tieners word vandag gekonfronteer met soveel meer as waarmee ons grootgeword het, ’n streep word telkemale daardeur (0) getrek wat dit nie ’n volmaakte sirkel van hoop maak nie. Hulle beleef en sien soveel saam met ons as volwassenes en begryp soms meer as wat ons verstaan. Behalwe vir die boodskap van hoop is daar soveel pret en lag in die film en ’n kommunikasie op kind- en tienervlak. ’n Moet sien vir die hele familie.
Hoekom sal jy sê moet veral ouers die fliek gaan kyk?
Om te sien hoe vandag se kinders voel en dink oor die wêreld. Dit wat hulle direk affekteer, dit wat rondom hulle gebeur. Maar ook om vir hulle ’n biejtie voelgoed hoop te gee.
Op ons radar: Nul is Nie Niks Nie
Wat is vir jou die somtotaal van hoop?
’n Familie of gesin wat saam vorentoe kan kyk, wat lig sien, mekaar waardeer, saam trek waar dit swaar gaan. Familie is vir my baie belangrik en my gebede en hoop lê altyd eerste by hulle.
Hoe was dit om saam met Dania, Jaden en Pieter te werk?
Die drietjies was genotvol om te aanskou en so talentvol. Elkeen is verskillend en pas perfek in hul rolle. Hulle het diep in my hart gekruip.
Lees ook: Marisa Drummond & André Lötter gesels oor Eintlik Nogal Baie
Is vriendskap vir jou belangrik?
Wat is die lewe sonder ’n vriend? Ek het elkeen van my vriende broodnodig. Die mens sukkel om alleen deur die wêreld te gaan, en soms is ’n vriend al wat jy nodig het. Iemand wat onbaatsugtig liefhet, verstaan en jou vat met al jou geite.
Wat sal jy nooit van die film vergeet nie?
Ek is so lief vir Morné du Toit, regisseur van die film. Ek het dit nog altyd geniet om saam met hom te werk en my respek vir hom word elke dag meer. Hy verstaan elkeen van sy karakters so goed en dit was vir my heerlik om al Barbara se fyn snare te ontdek. So ook was dit vir my ’n groot droom om saam met Morné Visser en Antoinette Louw te kon speel. Maar om uit te sonder is moeilik.
Nul is Nie Niks Nie begin op 7 Julie 2017 in fliekteaters landwyd wys.