Wat is die ketogeniese kankerdieet?
Die dieet bevat nie genoeg glukose in die vorm van suiker en koolhidrate om voldoende energie daaruit te put nie. Dan word vet (en soms spierweefsel) vir energie afgebreek. Wanneer vette afgebreek word vir energie, produseer die liggaam ketone wat dan as bron vir energie gebruik word. Dit moenie verwar word met die veel ernstiger toestand, keto-asidose wat by diabete (veral tipe 1) voorkom nie. Weens die afwesigheid van insulien kan glukose dan glad nie vir energie afgebreek word nie. Hier word soveel ketone afgebreek vir energie dat dit die suurheidsgraad van die bloed verander en dodelik kan wees. ’n Gesonde mens gaan steeds ’n bietjie glukose op ’n ketogeniese dieet inkry. ’n Dieet wat minder as 50-60 gram effektiewe koolhidraat bevat, word gewoonlik ’n ketogeniese dieet genoem.
Die storie in die media
In prof. Tim Noakes se boek The Real Meal Revolution skryf hy die volgende oor kanker en glukose: “Daar is toenemend bewyse dat ’n ketogeniese dieet ’n kragtige alternatiewe kankerbehandeling is. Hierdie proses sal kankerselle affekteer as koolhidrate deur gesonde vette en proteïene vervang word. Deur die “kos” (glukose en fruktose) van kankerselle te ontneem, sny jy hul lewensaar af en dwing die selle om te sterf. Wanneer selle nie energie uit glukose kry nie, moet hulle vir energie na ketone oorskakel. Normale selle kan hierdie verandering maak, maar kankerselle nie.”
Ander akademici is nie so oortuig nie. Prof. Wim de Villiers, dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad, en drie ander akademici sê in ’n brief aan die Cape Times dat ’n dieet laag in koolhidrate en hoog in vet tot voedingstekorte kan lei en ’n verhoogde risiko vir hartvatsiektes, diabetes, nierprobleme, hardlywigheid en sekere kankers kan hê.
’n Nuwe studie deur die Universiteit van Stellenbosch is in die internasionale wetenskaplike joernaal Plos One gepubliseer. Die studieleier, dr. Celeste Naudé, sê daar is onsekerheid oor die uitwerking van ’n laekoolhidraatdieet op die lange duur op siektes soos hartvatsiektes en diabetes omdat daar nie genoeg studies oor tydperke langer as twee jaar gedoen is nie. Hoewel oorgewig een van die snellers vir sekere kankers is, kon die studie ook nie ná twee jaar ’n verskil vind in gewigsverlies tussen die laekoolhidraatdieet en ’n gebalanseerde eetplan nie.
’n Dieetkundige se mening
Kankerpasiënte is soms desperaat en as iemand met ’n sterk argument kom dat ’n dieet kankergewasse kan laat krimp, gryp hulle na enige strooihalm. Zahn Otto, ’n geregistreerde dieetkundige by die Morningsidekliniek met ’n spesiale belangstelling in onkologie sê sy en die onkoloë saam met wie sy werk, is glad nie ten gunste van ’n ketogeniese dieet as behandeling vir kanker nie.
“Eerstens is daar is geen oortuigende literatuur of geloofwaardige studies wat bewys dat die dieet wel kanker kan stuit nie. Tweedens keer dit mense om eerder nutriëntryke, essensiële voedels in te neem omdat hulle versadig is van die hoë vet. Derdens kan die dieet kalsium aan jou skelet onttrek en in ondergewig pasiënte tot spierweefselverliese lei.
“Ons stem saam dat verfynde koolhidrate en suiker beperk moet word. Maar ’n dieet hoog in versadigde vette is nie die antwoord nie. Kos met ’n roomsous gaan jou versadig laat voel en dan kom jy nie by vars vrugte en groente uit nie. “Boonop word ’n dieet hoog in versadigde vet ook met ’n verhoogde pro-inflammatoriese respons geassosieer, ’n situasie wat met kanker verbind word.”
Daar is ook te min vesel in die dieet omdat sekere kossoorte uitgesny word. Kos is meer as net die lys vitamiene en minerale wat jy kan neerskryf. Al die elemente in kos werk as ’n “pakket” saam om optimale gesondheid te verseker.
“Wanneer kankergewasse reeds in die aktiewe groeifase is, word voeding nie as ’n primêre behandelingsmeganisme beskou nie. Wat navorsing wel bewys het, is dat 5 -7 porsies rou en gaar groente (primêr) en vars vrugte (sekondêr) per dag verreweg die grootste siekte-voorkomende uitwerking het en beskerming teen hartvatsiektes, beroerte en kanker bied.
“Baie pasiënte doen aanvullende behandeling saam met konvensionele chemoterapie en bestraling, maar dis belangrik dat hulle dit met hul onkoloog en dieetkundige bespreek. Mense sien kruie en aanvullings as ‘natuurlike’ middels, maar dit het alles ’n uitwerking op die liggaam en kan ook ’n uitwerking op die werking van chemoterapie en bestraling hê.”
Navorsing wat in Julie 2014 in die British Medical Journal gepubliseer is, toon dat ’n dieet wat 5 -7 porsies groente en vrugte bevat, besliste gesondheidsvoordele inhou. Vrugte en groente bevat ook verbindings wat fitochemikalieë genoem word. Dit stimuleer komplementerende meganismes in die gesonde menslike liggaam wat ensieme stuit wat kankerselle sou kon aktiveer. In kankerlyers help dit om medikasie, gifstowwe en karsinogene te metaboliseer. Dus ondersteun dit die liggaam tydens kankerbehandeling. Tog het aanvullings nie noodwendig dieselfde uitwerking as die ware Jakob nie. “Die liggaam reageer op kos as ’n geheel. Dus, die vitamien C in ’n nartjie het meer voordele as wanneer die vitamien C geïsoleer en as ’n pil gedrink word. Natuurlike vars vrugte en groente is steeds die beste bron van voedingstowwe en daarom is dit belangrik om ’n verskeidenheid te eet.
“Baie pasiënte doen aanvullende behandeling saam met chemoterapie en radiobestraling, maar dis belangrik dat hulle dit met hul onkoloog en dieetkundige bespreek. Mense sien kruie en aanvullings as ‘natuurlike’ middels, maar dit het alles ’n uitwerking op die liggaam en kan ook ’n uitwerking op die werking van behandeling hê. ’n Kankerlyer wat radiobestraling en/of chemo kry se liggaam is reeds onder geweldige stres en groot dosisse vitamiene plaas ’n verdere las op die metabolisme. Vars vrugte en groente is vir die liggaam meer hanteerbaar.
“Ons glo dat alternatiewe terapieë nie bedoel word as ’n vervanging van hoofstroombehandeling nie. Hierdie ingrypings behoort as aanvullend gesien te word.”
Die wetenskap
David Gorski, bekende Amerikaanse chirurgiese onkoloog, akademikus en kampvegter vir mediese praktyke wat op die wetenskap gegrond is, sê voorstanders van die ketogeniese dieet maak aansprake dat kanker net ’n metaboliese siekte is en dat ’n ketogeniese dieet vir alle kankers beter as chemo werk.
“Ongelukkig doen dit desperate kankerlyers geen guns nie. Kanker is ’n baie ingewikkelde siekte met ’n groot verskeidenheid invloede op die liggaam. Dis ’n metaboliese en genetiese siekte en as daar ’n eenvoudige oplossing soos ’n dieet was, sou dit wonderlike nuus wees. Tog is dit naïef om te dink dat iemand skielik iets oor kanker uitvind waaraan niemand nog gedink of ondersoek het nie.”
Sy kritiek is veral gemik op dr. Thomas Seyfried wat sê dat kankerselle glukose nodig het om te oorleef en dat ’n dieet sonder glukose kankerselle kan laat sterf. Dr. Seyfried voer ook aan dat chemo en bestraling pasiënte sieker as gesonder maak en dit bloot ’n instrument vir maatskappye, hospitale en dokters is om hulself te verryk.
Seyfried haal die Duitse fisioloog Otto Warburg aan wat in 1931 vasgestel het dat kankerselle op suiker (glukose) gedy. Hoewel daar heelwat studies hieroor gedoen is, kon dit nog nie bewys word dat dit op dieselfde manier in die liggaam as in die laboratorium reageer nie.
Die Borschirurg en akademikus
Prof. Justus Apffelstaedt is professor in chirurgie aan die Universiteit van Stellenbosch en hoof van die Tygerberg Borskliniek. Hy sê uit ’n onlangse wetenskaplike oorsig het dit geblyk dat alle sogenaamde “kankerdiëte” ten beste geen waarde het nie en waarskynlik nadelig is. “Ek sien pasiënte wat weens hierdie diëte verswak en dan vinniger agteruitgaan. Die eensydigheid van die meeste ‘kankerdiëte’ weerhou noodsaaklike voedingstowwe van normale selle wat mense weerloos maak teen die toksiese uitwerking van behandeling en om weerstand teen die kankergewas te bied. Die menslike liggaam is ’n baie fyn gebalanseerde en komplekse masjien wat normale glukosevlakke oor ’n wye veld van hoë en lae inname sal handhaaf. Om enige effek van ’n dieet in hierdie omstandighede te verwag is kortsigtig.”