Jy sal maklik verby die fyn, kort vrou met die skewe glimlag, donker krulhare en minimale grimering loop, maar as jou oë hare ontmoet steek jy vas in jou spore. ʼn Vurige intelligensie brand in daardie oë wat jou vasnael. Jy weet dat as sy haar mond oopmaak sy iets belangriks gaan sê. Sy gee vinnige, kort antwoorde op my vrae asof sy haastig op pad is iewers heen. Haar antwoorde is gespikkel met sarkasme, en sy beloon jou met ʼn glimlag as jy dit vang. Tina Fey het naam vir haarself gemaak toe sy die eerste vroulike skrywer van die gewilde komedieskets Saturday Night Live geword het en daarna het flieks en nog ʼn TV-reeks gevolg. Saam met mede-komediant, Amy Poehler, het hulle nog ʼn geslaggrens oorgesteek toe hulle genooi was om die Golden Globes vir drie agtereenvolgende jare aan te bied. Sy verskyn in die dramatiese komedie, This is Where I Leave You, gebaseer op die skreeusnaakse en aangrypende roman deur Jonathan Tropper. Die rolverdeling sluit ander groot name in soos Jason Bateman, Jane Fonda en Connie Britton.
Vertel ons van jou ondervinding met die verfilming van This is Where I leave You.
Wanneer ons nie geskiet het nie, het almal bymekaargekom in die boonste slaapkamer van die huis wat ons gebruik het. Die arme huiseienaar het die toilet in die badkamer toegeplak, want hy wou nie hê vyftien mense moes elke dag sy toilet gebruik nie (lag)! Ons het baie woordspeletjies gespeel. Corey Stroll is baie slim en hy het ons elke keer met Scrabble gewen. Dit kan eensaam wees om ’n fliek te maak. Gewoonlik verdwyn elkeen in sy woonwa sodra hy geskiet het en praat met niemand nie. Dit was heerlik om saam te kuier.
Julle het baie geïmproviseer
Ja, ek hou daarvan om te improviseer wanneer dit gepas is. Ek dink altyd aan die arme draaiboekskrywer wat jare lank aan die draaiboek geskryf het. Jy wil nie die draaiboek verander net omdat jy kan nie. Daar was genoeg oomblikke waarmee ons kon speel en pret hê.
In die fliek het jou karakter ’n spesiale plek waarheen sy gaan wanneer sy alleen wil wees. Het jy so ’n plek?
Nee, ek wens ek kon deur so ’n lekker venster klim en op die dak gaan sit wanneer ek dit nodig het. Ek wil hê ons huis moet ’n plek wees waar vriende graag kuier. Daar moet altyd kos wees en die ouers moet vriendelik wees. Ek hoop my kinders voel so.
Kan jy ’n geheim hou?
Hoekom? Het jy iets wat jy vir my wil sê? Ek het nie baie geheime nie, maar ek is baie betroubaar.
Dink jy ’n mens word snaaks gebore, of kan jy dit aanleer?
Ek dink albei. Mense word met ’n sin vir humor gebore en wanneer jy grootword in ’n omgewing waar mense humoristies is, leer jy om humor te waardeer. Maar sommige mense is van geboorte af snaaks. Ek wens ek was een van hulle.
Het jy jou gesin as kind vermaak?
Ek was ’n bietjie skaam. Ek het probeer om sarkasties te wees en as jy dit regkry en mense reageer daarop, raak jy aan die reaksie verslaaf.
In die fliek het jy ’n goeie verhouding met jou broers. Het jy broers?
Ja, ek het ’n broer wat agt jaar ouer as ek is. Hy is warm en lieftallig en was amper soos ’n ekstra ouer. Ons het nooit baklei nie. Voor ons skooldans het hy stilletjies vir my gesê: “As jy in die moeilikheid is, bel my as jy my nodig het. Ek sal jou kom haal.” Ek was verbaas omdat ek nie eintlik ’n stout kind was nie. Ek het iets gesê soos: “Oukei, baie dankie, maar ek sal seker elfuur by die huis wees.” Maar dit was steeds goed om te weet hy is daar vir my.
Op Saturday Night Live het jy soveel aksente nagemaak. Het jy dit as kind aangeleer?
Ja, ek het sulke vreemde goed gedoen. Ek het heeltyd geoefen om met vreemde aksente te praat. Toe ek in die dramaskool was, kon ons ’n dialekkursus volg. Ek het volpunte vir die vak gekry. So, wanneer jy enige foute in my aksente hoor, is dit eintlik ’n reuse-verleentheid vir my onderwyser (lag)!
Danksy jou humorsin is jy ’n invloedryke vrou. Wat beteken dit vir die volgende geslag?
As ’n ma is jy bewus van die invloed wat jou werk op die volgende geslag het. Ek sal aanhou doen wat ek doen met die mense saam met wie ek dit wil doen totdat hulle my nie meer toelaat nie. Dis waarop ek fokus. Ek wil goed doen waarvoor ek omgee met die mense vir wie ek omgee. Wanneer dit nie meer gebeur nie, sal ek vir my ’n kantoorwerkie moet soek. Hopelik nie gou nie.
Jy is ’n rolmodel. Neem jy dit ernstig op?
Ek ontmoet baie jong vroue wat sê hulle wil humorskrywers word. Ek probeer om vir hulle ’n goeie voorbeeld te stel. As ek ’n werk kry, probeer ek om dit goed te doen, want ongelukkig stel ’n swak uitkoms ons geslag steeds in ’n slegte lig. Wanneer ’n vrou onsuksesvol is en sy word afgedank, stel dit die ander vroue in die onderneming in ’n slegte lig.
Jy het al gesê jy hou nie van jou voorkoms nie. Voel jy steeds so?
Wanneer professionele mense my onder hande neem, voel ek goed oor my voorkoms. As jy my 18 uur later sien, lyk ek heeltemal anders. Maar eintlik is ek heeltemal tevrede met hoe ek lyk. Ek is baie vergewensgesind.
Hou jy van gesonde kos en oefen?
Ek eet die meeste van die tyd gesond. Dit raak al moeiliker om myself te motiveer om te oefen. Ek en my man maak beurte om soggens gim toe te gaan. Maar ek gaan eers weer volgende somer. Ek staak nou.
Wat is altyd in jou yskas wat gesond is?
Krulkool – ons kook daarmee.
Waar kry jy inspirasie?
Dit kan van enige plek af kom. Wat werk betref, hang dit van die projek af. Wanneer jy aan ’n TV-reeks skryf en jy het ’n stel karakters waarvoor jy lief is, inspireer hulle jou. Ek het ’n skrywer geword omdat een van my onderwysers vir my gesê: het “Jy moet ’n skrywer word.” Daar was reeds skrywers in ons familie en ek het boonop meer van optree as skryf gehou. Toe gebruik ek skryfwerk om ’n voet in die deur te kry.
Jy was verantwoordelik vir die treffer- TV-reeks 30 Rock. Waarmee hou jy jou deesdae besig?
Die afgelope ruk was alles heelwat rustiger! Ek het ’n paar flieks gemaak en aan ’n nuwe TV-reeks, Ellie, gewerk. Ek hervat my ou werkskedule stadig maar seker. Dis effens skrikwekkend, want 30 Rock was soos geboorte gee. Met die eerste reeks het ek nie geweet wat vir my voorlê nie maar nou weet ek. Ek werk weer saam met dieselfde span – ek is mal oor hulle. Ons het dadelik ons ou roetine hervat en skielik onthou ek weer hoe moeilik dit was om sulke lang ure te werk.
Is jy die regisseur?
Nee, ek is eerder die een op stel wat die regisseur irriteer (lag).
Is jy snaaks as jy by die huis is?
Ek is baie, baie vervelig.
Dis moeilik om te glo.
Regtig, ek sal iemand bel wat dit sal beaam (lag). Ek dink nooit juis oor my soort sin vir humor nie, maar daar is baie komediante wat ek bewonder. Chris Rock is my gunsteling. Hy kry dit reg om dingetjies uit te wys wat niemand nog opgemerk het nie en dit maak hom vir my besonders.
Wat gee betekenis aan jou lewe?
Die twee goed wat vir my die meeste betekenis inhou, is my gesin en werk. ’n Mens verwag dat jou gesin vir jou die belangrikste sal wees en toe kom ek tot my verbasing agter hoe belangrik my werk vir my is. Een van my onderwysers het altyd gesê: “Pret begin aan die anderkant van ‘ja’”. Ek probeer om vir soveel moontlik goed “ja” te sê – veral as dit interessant of soos pret klink.
Hoe het jy op skool gevaar?
Ek was in openbare skole en die Universiteit van Virginia. Ek was ’n verantwoordelike kind wat hard gewerk het. Ek het goeie ervarings ook gehad. Ek dink jou skoolervaring word beïnvloed deur die mate waarin jou ouers afstand kan doen van hul opvattings oor sukses. Die merkers wat skole en universiteite gebruik om jou te evalueer, is nie ’n aanduiding van wat jy eendag as volwassene gaan bereik nie. Nie almal is ten volle ontwikkel wanneer hulle 17 of 18 is nie. As jy misluk, is dit nie omdat jy dom is nie – jy moes net harder probeer het.
Jy is gereeld vir rolle afgekeur. Hoe hanteer jy die soort verwerping?
Jy moet dit nie sien as ’n weerspieëling van jou waarde as mens of jou vermoëns nie. Daar is so baie faktore wat buite jou beheer is. ’n Mens kan dit nie persoonlik opneem nie.
Motiveer dit jou nie om harder te probeer nie?
Jy kan besluit hoe dit jou gaan beïnvloed – dit kan jou heeltemal afskrik of jy kan die lesse gebruik wat jy daaruit geleer het en weer probeer. Doen dit net hierdie keer op ’n ander manier.
Vertaal deur Hannelie Diedericks