Elizabeth Taylor het deur mans gedraf. Een na die ander het sy hulle met haar unieke skoonheid oorrompel, met hulle getrou en dan weggegooi. Daar was Conrad Hilton van hotelmagnaatfaam, Michael Wilding, Eddie Fisher. Net een het buite dié patroon geval. Mike Todd, haar derde man, het almal geglo, was haar groot liefde en toe hy ’n jaar ná hul huwelik in ’n vliegongeluk dood is, was Elizabeth ontroosbaar. Maar in die vleuels het ’n Wallieser gewag, aantreklik, robuus, drinkend, swetsend, met ’n persoonlikheid sterk genoeg om dié van me. Liz Taylor, gepamperlangde ster van die silwerdoek, te ewenaar.
Twee keer sou sy met dié Wallieser, Richard Burton, trou en twee keer skei, maar die band tussen hulle was groots en ewig. In 1984, agt jaar nadat hulle finaal geskei is, en met Burton pas ’n jaar getroud met sy derde vrou, Sally Hay, het Burton een aand by hul huis in Switserland gekla van ’n erge hoofpyn en verskoning by sy vrou en hul gas gemaak. Alleen in sy studeerkamer tussen sy magdom geliefde boeke het hy weer eens na die roepstem van sy hart geluister. Hy het ’n brief aan Elizabeth Taylor geskryf en dit op 2 Augustus na haar huis in Bel Air, Los Angeles, gepos. Teen die tyd dat sy die brief ontvang het, was Burton reeds dood, die gevolg van ’n massiewe breinbloeding die nag van 5 Augustus 1984.
Hierdie brief, ’n herbevestiging van sy liefde vir haar, sou Elizabeth die volgende 27 jaar, tot met haar sterwe op 23 Maart 2011, naby haar bewaar. Toe sy in 2010 liefdesbriewe van haar en Richard vir publikasie vrygestel het, was dié brief nie een daarvan nie. Dit was te privaat en het te veel vir haar beteken om dit aan die openbare oog bloot te stel. Sy het dit net voorgelees aan die twee joernaliste wat ’n boek oor haar vurige romanse met Burton wou skryf.
’n Ware Hollywood-ster
Op die kruin van haar loopbaan, in die jare vyftig, sestig en sewentig, het Elizabeth die essensie van ’n Hollywood-ster beliggaam: beeldskoon, uitgesproke, passievol, uitdagend het sy die wêreld aan haar voete gehad. Haar bekende viooltjieblou oë met die dubbele ry swart wimpers het deur die silwerdoek gebrand, haar aansienlike kurwes is sensueel deur lae halse tentoongestel en haar stem het vermurwend hees en onskuldig in teaters opgeklink. Toe die tydskrif Life ’n foto van haar op die voorblad plaas, is die uitgawe uitverkoop. Sy het selfs die bekende eerste maanreisigers van die voorblaaie af gedwing.
Richard Burton het haar die eerste keer gesien toe sy 19 was, op haar heel mooiste. Sy eerste blik van haar het hom poëties laat sê: “Sy was so buitengewoon beeldskoon dat ek hardop wou lag. Sy was hongersnood, vuur, verwoesting en die pes. Haar borste was apokalipties … haar liggaam ’n konstruksiewonderwerk … Sy was ongetwyfeld pragtig, weelderig. Sy was vervlaks net te veel. Daardie groot violet oë het ’n vreemde glans gehad. Eone het verbygegaan, beskawings het gekom en gegaan terwyl daardie twee kosmiese ligte my gebrekkige persoonlikheid ondersoek het.”
Maar die twee sou mekaar eers in 1961 op die stel van die rolprent Cleopatra ontmoet. Elizabeth was reeds as aktrise beroemd en gevestig met ’n Oscar-toekenning agter haar naam. Richard het nog nie as silwerdoekster ’n deurbraak gemaak nie, maar met sy intelligensie, dramatiese talent en gevoelvolle stem was hy ’n bekende en gerekende Shakespeare-verhoogakteur, in dieselfde klas as Laurence Olivier. Hy was natuurlik ook reeds daarvoor bekend dat hy graag vroue bed toe geneem het, veral dié teenoor wie hy toneelgespeel het.
Die fliek Cleopatra het in die grootse, epiese styl van daardie jare gepas. Dit sou die grootste en duurste rolprent tot in daardie stadium wees en in die naamrol van die Egiptiese koningin was Elizabeth die eerste aktrise wat ’n miljoen dollar vir haar rol sou kry – ’n allemintige bedrag vir daardie tyd.
Van die eerste dag af het die romantiese vonke tussen haar en Burton gespat. Richard se eerste woorde aan haar was die floue: “Het iemand al ooit vir jou gesê hoe ’n mooi meisiekind jy is?”
Elizabeth het skepties na hom gekyk en toe gewaar dat sy hande bewe, die gevolg van die drank wat sy lewe lank ’n verwoestende metgesel sou wees. Dit het ’n broosheid by hom verklap waarop sy dadelik positief gereageer het. Sy vertel: “Hy wou ’n koppie tee drink, maar sy hande het gebewe, daarom het ek die koppie vir hom vasgehou. Ons oë het mekaar gevind en hy het die hele koppie gedrink terwyl ons woordeloos net vir mekaar gekyk het.”
Daarna was die koeël deur die kerk. Hulle het skaamteloos op die stel geflankeer. Richard se ryk, buigsame stem het haar vooroordele laat wegsmelt, sy deurdringende groen oë het haar gefassineer en sy kop was vir haar soos dié van ’n Romeinse ridder. Vir Richard was Elizabeth ’n lopende stukkie erotiek. Dit was gou vir almal duidelik dat hulle nie net speel-speel soen nie, maar regtig. Die regisseur, Joe Mankiewich, moes hulle aansê om hul groot rolprentsoen te stop, want selfs nadat die kameras al ophou verfilm het, het die twee nog aangehou.
Die media was dadelik soos aasvoëls op hul spoor. Elizabeth was nog getroud met Eddie Fisher en het juis drie jaar vantevore die skinderkoerante gehaal toe sy hom van sy vrou, Debbie Reynolds, ’n goeie vriendin van haar, afgerokkel het. Maar Liz het verklaar: “Ek breek nie huwelike op nie. Buitendien kan jy nie ’n gelukkige huwelik opbreek nie. Eddie en Debbie s’n was nie gelukkig nie.”
“Ek breek nie huwelike op nie. Buitendien kan jy nie ’n gelukkige huwelik opbreek nie. Eddie en Debbie s’n was nie gelukkig nie.”
Tog het sy nou willens en wetens in die owerspelige verhouding met Richard ingestap. Hy was ook nog met Sybil Williams getroud, toe reeds elf jaar sy vrou – nie dat hy ooit die toonbeeld van ’n getroue eggenoot was nie. Die aktrise Joan Collins het op ’n keer vir hom gesê: “Richard, ek dink jy sal ’n slang ook bed toe vat,” waarop hy geantwoord het: “Ja, my skat, maar die slang sal ’n rok moet dra en vroulik moet wees.”
“Richard, ek dink jy sal ’n slang ook bed toe vat”
“Hy was my lotsbestemming,” het Elizabeth jare later van hom gesê en die waarheid daarvan blyk ook uit Eddie Fisher se vertelling. Hy het saam met die grimeerkunstenaars en kostuumontwerpers agter die stel van Cleopatra gestaan en wag. Toe Elizabeth uitstap, geklee in die goue rok van Cleopatra en met die swaar, dramatiese grimering, het hy ’n voorgevoel gekry wat hom hartseer gemaak het. “Ek het haar verloor. Sy het my nie langer nodig gehad nie … Ek het gehuil,” het hy vertel.
’n Stormagtige verhouding
Die Taylor-Burton-verhouding was uit die staanspoor passievol, stormagtig en dekadent. Skatryk en wêreldberoemd het hulle nie omgegee wat mense van hulle dink nie. Elizabeth was gewoond daaraan om haar sin te kry. Sedert sy die twaalfjarige kinderster in MGM se rolprent National Velvet was, was sy ’n godinnetjie by die rolprentateljee. Dit was haar huis, sy het daar skoolopleiding gekry en normale kinderjare het sy nie geken nie. Sy was van vroeg af bederf met volwassenes wat spring om elke wens van haar te gehoorsaam, en dit is nie vreemd dat sy later vere vir die openbare mening sou voel nie.
Net haar verhouding met haar pa was swak. Hy het haar dikwels verskree en selfs soms aangerand as hy te veel alkohol ingehad het. Dit sou haar vir altyd emosioneel knou en elke liefdesverhouding in gevaar stel.
Ondanks haar bedorwenheid het Elizabeth tog ’n aardse warmte en uitbundige lewenslus gehad. Daarteenoor was Richard ’n donker, komplekse persoonlikheid; intelligent en met ’n groot liefde vir woorde wou hy eerder ’n skrywer wees. Akteur-wees was vir hom ’n ligsinnige beroep en het nie by ’n regte man gepas nie. Hy het later teenoor Elizabeth erken dat hy dit net vir die geld doen, nie omdat hy soos sy van die werk hou nie.
Hy was ook lief vir die bottel en was waarskynlik reeds ’n alkoholis toe hul verhouding begin het. Elizabeth kon net so lekker weglê. Groter as die lewe kon sy enige man onder die tafel indrink. Sy het gedrink om haar emosies vrye teuels te gee; hy om syne te onderdruk, want hy kon nie met al die wroeging saamleef nie. Uiteindelik was drank ’n derde vennoot in hul huwelik. Dit was die skans teen die druk van hul beroemdheid, maar sou ook die afgrond word waaroor hul huwelik sou stort.
Vurig en intens het die twee met volle oorgawe in die liefdesverhouding ingeloop. Burton sou op ’n dag met ’n skok besef hoe hartstogtelik Elizabeth werklik is. Hy het om een of ander rede besluit om hul affair te beëindig, en wou haar nie glo toe sy sê sy sal dan selfmoord pleeg nie. Hy het gelag en weggestap, maar Elizabeth het ’n oordosis Seconal-pille gedrink en moes inderhaas hospitaal toe geneem word om haar maag leeg te pomp.
Eddie Fisher het besef die skrif was aan die muur en het Richard se vrou, Sybil, gewaarsku: “Jy ken nie vir Elizabeth nie. Hierdie keer sal hy nie na jou toe terugkom nie.” Sybil was in trane, maar dit was die waarheid. Op 15 Maart 1964, kort nadat albei se skeisake afgehandel is, het Elizabeth en Richard die eerste keer getrou.
“Jy ken nie vir Elizabeth nie. Hierdie keer sal hy nie na jou toe terugkom nie.”
Tipies van haar het sy met die troue almal op haar aankoms laat wag. Richard het geïrriteerd gemompel: “Sy sal vervlaks laat wees vir die laaste oordeel.” Maar sy hart het versag toe hy haar sien. Sy was oorrompelend mooi in haar affodilgeel chiffonrok, gegrond op die rok in haar eerste toneel met Richard in Cleopatra. Spierwit lelies-van-die-dale en Romeinse hiasinte was deur haar hare gevleg. Haar trougeskenk was ’n diamanthalssnoer en bypassende diamant-en-smarag-oorbelle.
In teenstelling met die sensasie wat dit voorafgegaan het, was die troue ’n private en intieme geleentheid waarheen net nege gaste genooi is. Elizabeth het gesê: “Hierdie huwelik sal vir ewig hou,” en Richard het bygevoeg: “Ek en Elizabeth is baie, baie gelukkig.”
As hulle hul lewe in privaatheid kon lei, sou dit dalk gehou het, maar hul beroemdheid, veral dié van die beeldskone Elizabeth, het ’n onkeerbare sensasielus by die media en publiek opgewek. ’n Maand ná die troue het Richard in ’n verhoogstuk in New York opgetree en op die openingsaand moes die polisie die straat waarin die teater was, afkordon om die derduisende mense weg te keer wat ingestroom het om die Burtons te sien. Daarna was veiligheidsreëlings vir hulle altyd gelykstaande aan dié van ’n staatshoof. Die tien jaar wat hul huwelik sou duur, was hulle die beroemdste en gesogste Hollywood-glanspaar.
Hul leefstyl het mense gefassineer. Ja, hulle was goeie akteurs, maar ’n groot rede vir hul roem was dat hulle in alles ’n bietjie groter as lewensgroot voorgekom het. Meer geld, groter juweliersware, groter skoonheid, meer drank, hewiger rusies, groter liefdesbetuigings as dié van ander het hul lewe gekenmerk.
Skatryk het hulle die wêreld vol gereis met ’n hele entourage en tasse vol bagasie. Toe ’n aktrise een aand teenoor Elizabeth opmerk dat sy nie ’n rok byderhand het vir ’n onverwagte geselligheid nie, het Liz geantwoord: “Toe maar, ek het vier en sewentig tasse vol klere saamgebring,” en vir haar ’n rok as geskenk gegee. Die Burtons se seiljag was versier met ’n hele versameling Picasso-skilderye en Richard se geliefde versameling van meer as duisend boeke. Kamerdiens in hotelle is nie net van die hotel af bestel nie, maar sommer van ander lande en selfs ander vastelande af. Hul vriendekring het die heel beroemdstes ingesluit, soos Grace Kelly, Prinses Margaret, Ari Onassis, Robert Kennedy en Marlon Brando.
“Toe maar, ek het vier en sewentig tasse vol klere saamgebring”
Aangrypende liefdesbriewe
Hoewel Richard dalk aanvanklik vir Elizabeth gesien het as ’n gerieflike trappie na eie roem en geld, het hy gou baie lief vir die hartstogtelike vrou geword. Vir hom was dit ’n spesiale gawe as ’n man ’n vrou kon kry wat met passie op sy eie passie reageer en sy liefde met ’n groot liefde beantwoord. In Elizabeth het hy volgens eie erkenning so ’n vrou gehad. Sy was die somtotaal van al die vroue wat hy ooit geken het.
In gesprekke en briewe het hy dikwels sy liefde vir haar verklaar. In een brief skryf hy selfs: “As jy my verlaat, sal ek my om die lewe moet bring. Daar is geen lewe sonder jou nie.” In ’n ander brief filosofeer hy: “Een van die dae sal ek seker wakker skrik, ek dink trouens ek het reeds, en besef dat ek werklik liefhet. Dis vir my moeilik om toe te laat dat my hele lewe op die bestaan van ’n ander wese moet berus. Dis vir my moeilik vanweë my ingeskape arrogansie om aan die idee van liefde te glo … Daar is lus, en gebruik, en jaloesie, en begeerte, maar tog nie iets idioties soos liefde nie …”
En tog, moet hy dan toegee, teen alle logika in, het hy dié keer werklik lief. Agterop ’n foto skryf hy liries: “Sy is soos die seegety, sy kom en gaan … In my armsalige en gepynigde jeug het ek altyd van hierdie vrou gedroom … As jy haar nie ontmoet of geken het nie, het jy baie gemis.”
“Sy is soos die seegety, sy kom en gaan … In my armsalige en gepynigde jeug het ek altyd van hierdie vrou gedroom … As jy haar nie ontmoet of geken het nie, het jy baie gemis.”
Elizabeth het deur die jare ’n hele rits siektetoestande gehad. Daar was longontsteking wat byna haar lewe geëis het en ’n lugpypinsnyding genoodsaak het, daar was ’n pynlike rugbesering wat verskeie rugoperasies tot gevolg gehad het, haar verslawing aan pynstillers, senu-instortings. Sy was bewus van die broosheid van haar liggaam en was bang dat sy uiteindelik ’n kreupele sou word en Richard sou verloor. Hy het haar verseker: “Al sou jou bene en jou hande en jou borste afval, al sou jou tande geel word, ek sal jou altyd liefhê.”
Op haar beurt het Elizabeth in ’n onderhoud met Vanity Fair-tydskrif van hom gesê: “Richard was in elke opsig manjifiek. Van daardie eerste oomblikke in Rome op die stel van Cleopatra het ons ’n algehele en kragtige liefde vir mekaar gehad.”
Maar hul lewenstyl en baie rusies, asook Richard se verslegtende afhanklikheid van alkohol, het sy tol geëis en geleidelik het die huwelik verbrokkel. Richard het nie geskroom om medeverantwoordelikheid daarvoor te aanvaar nie. In een van sy mooiste briewe skryf hy aan haar: “Ek word vir altyd deur die gode gestraf omdat ek die vuur gesteel het en dit probeer uitblus het. Die vuur is natuurlik jy.”
In 1974 was die sprokie verby en op 26 Junie is hulle geskei. Van die magnetiese aantrekkingskrag, die uitspattige lewensgenot, die oorgrote passies het net ontnugtering en hartseer oorgebly.
’n Jaar later, op 10 Oktober 1975, is hulle onverwags weer getroud terwyl hulle in Chobe, Botswana, vakansie gehou het, maar in Burton se eie woorde was die huwelik eintlik oor nog voor dit begin het. Net ’n paar maande later is hulle die tweede keer geskei en daarmee was een van die mees ikoniese liefdesverhoudings tot nog toe tot niet.
Maar hul liefde vir mekaar sou voortduur. Dit sou uitloop op daardie laaste brief wat die 58-jarige Richard pas voor sy dood vir Elizabeth geskryf het. Sy het die brief ontvang die dag toe sy van sy roudiens teruggekeer het. Met bewende hande het sy op die bed gaan sit en die koevert oopgeskeur. In sy brief skryf Richard dat hy nie ongelukkig is nie, maar dat hy op sy gelukkigste saam met haar was. Hy skryf dat hy wil huis toe kom, en “huis” is waar Elizabeth is. Sou daar dalk weer ’n kans vir hulle twee kon wees?
Die volgende 27 jaar, deur twee verdere huwelike heen, het Elizabeth Taylor dié brief altyd naby haar gehou. Toe sy in Maart 2011 sterf, is die brief op haar versoek saam met haar begrawe.
Bronne
Elizabeth Taylor 1932-2011, Daily Mirror-tydskrifpublikasie; Ellis Amburn, The most beautiful woman in the world, E-boek; rachttlg.wordpress.com; www.avclub.com/articles; www.bbc.co.uk; www.cbsnews.com/stories; www.dailymail.co.uk/tvshowbiz/article; www.huffingtonpost.com; www.seraphicpress.com; www.vanityfair.com