Die Skaap
Phillip Groenewald sit op die stoep. Hy staan nie op as Amelie voor die deur stilhou nie. Hy kyk ook nie op as sy die trappe opklim nie. Eers as sy voor hom staan, sien sy die jaggeweer wat teen die stoel leun.
“Ek het vir jou gewag.” Sy stem is sag, byna onhoorbaar. Hy lyk moeg.
Sy kwesbaarheid vang haar onverhoeds. Sy was voorbereid om hom te konfronteer.
Sy baard is lank en sy kleure gekreukel. Dit lyk of hy al ’n leeftyd op die stoep sit.
“Ek weet wat jy gaan sê. Ek is jammer. Ek moes nie. Ek het te ver gegaan.”
Sy woorde neem die stoom uit haar beplande aanval. Die lyne op sy gesig lyk dieper. Hy lyk oud.
“Hoekom?” Dit is al wat sy oor haar droë lippe kan kry.
Sy regterhand voel na die geweer. Hy tel dit op en sit dit tussen sy bene. Sy ken rus op die punt van die loop.
“Ek is ’n lafaard. Nes my pa.”
Vrees kom lê vlak in haar. Sy wil nie by wees as hy homself skiet nie.
“Dis in ons bloed, sien. Dit volg ons geslag na geslag. Soos ’n stank.”
Hy kyk die eerste keer op. Sy oë is bloedbelope. Sy asem ruik na ou drank.
“My pa het my eenkeer vertel van ’n man wat met ’n skaap op reis was. Hulle moes ’n ver pad stap. Toe word die skaap siek. Die man wou nie die skaap agterlaat nie en het die siek skaap opgetel. Die skaap was swaar, maar hy het die skaap gedra. Toe vrek die skaap. Hy wou nie die skaap neersit nie. Hy het die karkas gedra tot dit opgeblaas het. Dit het later oopgebars en vrot stank het uit die skaap geloop. Steeds het die man die karkas nie neergesit nie. Die maaiers het uit die skaap begin peul en oor die man se vel en klere gekrioel. Die mans was later net so vrot soos die dooie skaap.”
Sy verstaan nie die storie nie, maar sy vra geen vrae nie. Hulle sit ’n rukkie in stilte. Haar oë is vasgenael op sy vinger wat onrustig om die sneller krul.
Speel hy dalk op haar gevoel? Hy het dit al voorheen reggekry om haar emosioneel te manipuleer. Is hierdie een van sy wrede emosionele speletjies?
Hy kyk verby haar kop oor die plaaswerf. Hy lyk na ’n gebroke man. Sy vinger bewe om die sneller en sy voel die koue sweet teen haar slape. Sy is bang.
Die laaste ding wat sy nou in haar lewe nodig het is dat Phillip sy kop voor haar wegblaas.
“Waar is jou ma?” Die werf en die huis is doodstil. Nie eens die honde is in sig nie. Daar hang ’n onheilspellende atmosfeer oor die huis.
“Ek en jy. Ons dra saam aan die vrot skaap. Jy het die skaap kom optel toe jy Sederfontein toe getrek het en in Amelia se lewe begin krap het. Jy moes dit nooit gedoen het nie. Ek het jou gewaarsku.”
Sy begin nou verstaan wat hy bedoel. Phil en Amelia se storie en die gevolge daarvan is die skaap. Dit het begin as ’n liefde tussen twee jong mense wat vasgevang was in ’n oorlog. Toe volg ’n reeks tragiese gebeure wat die vrotsel van die skaap in die Marceaux en Groenewald familie se wese laat intrek het. Sy en Phillip is die volgende geslag en die gevolge van die storie beïnvloed ook hulle lewens.
“Die maaiers loop al oor my lyf. My lewe is besmet. Ek het die vrotspul geërf, maar jy, jy moes die skaap lankal neergesit het.”
Sy weet hy is reg. Die vrot etter van Amelia se verhaal het vir haar as ’n avontuur begin, maar nou begin dit haar en haar kinders se lewens negatief beïnvloed. Sy weet dit is nou tyd om die karkas neer te sit en die vrot af te was. Maar dit is nie so eenvoudig soos dit klink nie.
“Hoekom haat jy my so, Phillip?”
“Ek wou jou afskrik. Te veel mense het al seergekry. Ek wou nie hê jy moet Amelia se geskiedenis in Mon Abri kom herhaal nie.”
“Maar jy haat vroue?”
Hy lag saggies.
“Ek haat die lewe. My lewe. Ek haat die gevoel wat jy my van die eerste oomblik gegee het. Dit is ’n gevoel wat ek nog nooit toegelaat het nie. Ek het grootgeword in ? situasie waar liefde nie bestaan nie. Waar dit net pyn bring.”
“Maar jy lok mens nader en val dan aan?”
Sy oë rus sag op haar. Sy kry hom byna jammer.
“Ek wou jou so graag liefhê. Ek kon jou nie weerstaan nie. Daardie paar oomblikke met jou in my arms … Maar dan weet ek dit kan nie. Ons deel ’n bloedlyn en ek dra te lank aan die vrot skaap. Ek is al van binne verrot. Dit hoekom ek jou wou wegskrik.”
“Jy is ’n wrede mens, Phillip. Dis onaanvaarbaar …”
Hy onderbreek haar.
“Ek het wreed groot geword. ’n Afwesige, lamsakkige pa wat nie tussen twee vroue kon kies nie. En ’n ma wat altyd gehuil het en so bitter soos gal oud geword het. Tussen dit alles was daar geen liefde vir my nie. Ek is die produk van ’n liefdelose huwelik. Ek is wat my pa en pa en Amelia my gemaak het. Ek dra die liefdelose bloedlyn voort.”
Sy sien hoe die kneukels wit om die sneller begin krul.
“Dink jy dit is die oplossing?”
“Om myself te skiet? Nee dit sal niks oplos nie, maar dit sal my verlos. My seun sal nou die skaap moet dra. Hy is ook uit ’n liefdelose verhouding gebore. Sy ma het selfmoord gepleeg. Het jy geweet? Ek het haar daarheen gedryf. Hy weet dit. My kind is wat ek en sy bitter ouma hom gemaak het. Dis wat ons Groenewalds doen. Ons mors mekaar se lewens op.”
Amelie voel dit is haar kans om die raaisel om Phil se dood te ontrafel.
“Jou pa … Wat het by die krans gebeur?”
“Jy is ’n slim vrou. Jy was mos by die klipstapel?”
Amelie verkies steeds om haar eie weergawe van die storie te glo. Dat Phil self gespring het omdat hy skuldig gevoel het oor hy twee vroue se harte gebreek het.
“Sy het hom gestamp.”
“Hoe weet jy?”
“My ma was daar. Sy het my pa daardie aand na Mon Abri gevolg. Sy het gestaan en kyk hoe my pa en Amelia dans. My pa het vir Amelia gesê dit is die laaste keer. Hy het weer gedreig om selfmoord te pleeg. Sy het geweet hy is op pad krans toe. Amelia het saam met hom krans toe gegaan. My ma het hulle gevolg. My pa wou hê Amelia moet saam met hom spring. My ma wou keer dat my pa spring. Sy het hom gesmeek om nie te spring nie. Toe stamp Amelia hom.”
Amelie probeer haar voorstel wat daardie nag op die krans gebeur het. Dit was die tragiese einde van ? man wat twee vroue emosioneel verniel het.
“My ma het die hele nag by die krans gesit. Amelia het na onder geklim en by my pa se lyk gaan sit.”
“Maar die koerantberigte?”
“My ma se familie is invloedryk in die distrik. Mense het geskinder, maar niemand het regtig ooit geweet wat met my pa gebeur het nie.”
“Hoekom het jou ma Amelia nie van moord laat aankla nie?”
“Jy ken my ma nie. Sy het haar eie geregtigheid deur die jare laat geskied. Sy wou hê Amelia moet haar dood treur.”
“En Mon Abri? Hoekom wou julle niemand toelaat om die plek te koop nie?”
“Daardie huis is ’n monument vir wat my pa aan my ma gedoen het. Dis asof my ma haarself wou kasty deur te keer dat niemand na Amelia daar bly nie.”
“Hoekom vertel jy my dit alles? Jy weet mos ek wil die boek skryf?”
Phillip staan op. Hy rig die geweer op haar.
“Nee, jy gaan nie.”