Kan ek weer bloed skenk, wonder ek. Interessant hoe iets wat voor kanker net ’n amperse nagedagte was skielik belangrik word. Mens begin meer gefokus dink aan die bydrae wat jy kan lewer om lewens te red. Want iewers daar buite is iemand wat bloed nodig het om te kan oorleef. En jy? Jy het ’n onuitputbare voorraad daarvan.
Maar as die versekeringsmense nie ’n kans wil neem dat ek vir die volgende vyf jaar gaan oorleef nie, hoe veilig is my bloed nou eintlik? Die laaste ding wat mens wil doen, is om ’n onskuldige persoon siek te maak, al is jou bedoelings hóé goed.
Google is mos my beste vriendin. Vroegoggend, tydens die gewone Saterdag-skryfsessie, begin ek oor die ding van my bloed wonder. Die karakters in my volgende boek is veronderstel om allerhande onheilighede aan te vang toe ek en Google die pad vat. Eers sukkel ek om inligting oor kanker en bloedskenk op te diep. Groot verligting toe ek uiteindelik lees van ’n studie wat gedoen is op die gesondheid van pasiënte wat bloed ontvang het van dié wat kort ná ’n bloedskenksessie gediagnoseer is met kanker. Geen teken van kanker nie. Kanker kan beslis nie deur die bloed van borskanker-oorlewendes oorgedra nie.
Dis ’n heeltemal ander storie as jy aan leukemie, limfoom as volwassene (insluitend Hodgkin’s) en Kaposi sarkoom gely het. Ek sê mos altyd: as mens dan nou kanker móét kry, is borskanker die een om te kry.
Uit die aard van die saak mag mens nie bloed skenk terwyl jy behandeling ontvang nie, maar dis oukei. Die behandeling gaan tog verby.
Goed. Bloed dié kan ek skenk. Maar wat van my organe? My familie was nog nooit baie opgewonde oor die gedagte aan Madelein-sonder-organe nie, maar vir my maak dit sin. Ek het sterk, gesonde boere-organe wat presies doen wat gedoen moet word, terwyl dit nutteloos in die graf sal lê wanneer ek die dag die tydelike met die ewige verwissel. Ek en Google duik weer die internet in.
Dinge lyk rooskleurig. Sou jy kanker hê wat reeds versprei het, sal jy net jou kornea’s kan skenk – dis nou behalwe mense wat enige vorm van bloed of-oogkanker gehad het. Dis beter as niks. Aan die ander kant, as jy vir ’n lang ruk kankervry was, kan jou organe nog gebruik word. Jou vel en beendere, sowel as jou kornea’s kan ook gebruik word. Die mediese mense is baie deeglik as dit kom by orgaanskenkers wat kanker gehad het. Ten tyde van dood word daar ’n behoorlike evaluasie gedoen, inlsuitende biopsies, om seker te maak alles is kosher.
Volgens een bron is daar studies uitgevoer waarin bepaal is dat daar ’n onbeduidende kans is dat sekere soorte kanker deur orgaanskenking oorgedra kan word. Daar is egter gevalle opgeteken waarin dit wel gebeur het. Daar word bespiegel dat dit deels is omdat die ontvanger medikasie ontvang om hulle immuunstelsels te onderdruk om verwerping van die oorgeplante orgaan te verhoed. Dit mag gebeur dat die onderdrukte immuunstelsel sukkel om kankerselle wat in die oorgeplante orgaan was te identifiseer en aan te val.
Ek dink ek sal dit aan die mediese mense oorlaat. Ek sal vandag die orgaanskenkervereniging skakel en vra hulle moet my kaartjie aanpas.
En vir kanker sal ek weereens tong uitsteek en vra: waar is jou angel? Jy kan nie eens keer dat ek ander lewens red nie.