Dit is ’n mooi, sonnige dag. Die reis terug Johannesburg toe is rustig en ons is vroeg in Roodepoort. My hospitaaltassie is reeds gepak en ons besluit om maar koers te kies hospitaal toe. Die voorafopname is gedoen voor ons vertrek na Bloemfontein, maar daar is steeds formaliteite. ’n Lêer moet geopen word, honderde plakkers moet gedruk word. Die woord ‘mastektomie’ word gereeld geopper en ek moet telkens bevestig dat ek toestemming gee dat die prosedure onmiddellik in teater uitgevoer kan word indien nodig. Hulle gebruik die woord asof dit niks is nie.
Jaun se spanning is tasbaar. Ek skerts met die personeel om sy aandag af te lei en hy speel saam. Hy was nog altyd ’n regte gentleman. In die stiller tye hou ons hande vas en ons gesels oor koeitjies en kalfies. Die narkotiseur kom maak ’n draai en weer moet ek bevestig dat ek toestemming gegee het vir ’n mastektomie indien nodig. Ook dat my man weet dat ek wel moontlik ’n mastektomie sal ondergaan. Die dokter vra om verskoning – daar het eenkeer ’n woedende eggenoot met ’n handwapen buite die teater gewag; sy vrou het hom nooit vertel dat daar moontlik so ’n prosedure sou wees nie. Hy moes dit van verpleegpersoneel hoor. Simpatiebetuigings. Dokters het dit nie altyd maklik nie. Ja, en ons vergeet so maklik van die eggenote se trauma.
My rit teater toe gebeur vinniger as wat ons verwag het. Meteens is ek in die verspotte blou teateruitrusting, ’n kalmeerpil in die maag. Jaun stap saam tot waar hy nie meer mag nie en hy soen my hand. Sien jou nou-nou, sê hy en ons glimlag vir mekaar.
Die personeel in die vertrekke buite die teater is flink, besige mense. Dit voel asof daar ’n honderdduisend dinge gebeur, alles op een slag. ’n Kwaai suster kom neem my polsslag en ek moet nog ’n vorm teken om te bevestig dat ek toestemming gee vir ’n mastektomie indien nodig. Haar gesig versag. Jammer, sê sy, maar hulle moet hulself ook maar beskerm.
En skielik is ek in die teater. Ek skuif oor op die operasietafel onder die helder ligte en ek is bewus van honderde koue, selfversekerde hande wat help, lig, regtrek, masker opsit.
Ek word wakker van die seer, sekondes later, voel dit vir my. My borsbeen pyn. My regteronderarm pyn verskriklik. Die suster is weer doenig met my polsslag. Ek vertel haar dat dit regtig, regtig seer is en sy verseker my dat hulle vir my pynmedikasie gaan gee sodra ek terug is in die saal. Hoeveel boobies het ek, vra ek haar. Haar gesig versag weer. Een, sê sy en sy druk my hand.
Ek word wakker van Jaun wat met ons mense praat. Sy het baie seer, hoor ek hom sê, maar die pyn is alreeds minder dáár. Die een of ander engel het ’n sakkie met die goddelikste pynstiller ooit in my drip gesit. Ek word nou en dan wakker van Jaun wat saggies met vriende, familie en kollegas praat. Gaan huis toe, sê ek vir hom. Gaan eet iets en gaan rus. Hy druk my hand en bly sit.
Later, toe meer van die newels weg is, vertel ek hom dat ek gedroom het die suster sê ek het net een boobie. Is dit so, vra ek. Hy skud sy kop. Hy is nie seker nie. Dan maar self voel. Daar sit ’n breë pleister waar my regterbors was. Dis niks seer nie. My bors voel so onskuldig soos dié van ’n klein dogtertjie aan die een kant.
Ek raak weer aan die slaap. Die dag van die mes is verby.