Cari kom laai Arien vroeg op by die huis.
“Kom, kom, dis tyd dat jy ophou om ’n drama Queen te wees en uit die huis kom. Volgende week is jy terug by die salon en dan kan ons nie gaan kuier nie. Ek neem jou vandag uit.”
Arien is gewoond aan Cari se “ontvoerings”. Sy gaan gewoonlik gewillig saam. Cari is soos ’n oorweldigende tsoenami.
“Vandag gaan ons Parys toe. Ons gaan deur al die winkeltjies loop, gemorsies koop en groot stukke koek eet. Trek plat skoentjies aan.”
Arien voel nie regtig of sy al die fisieke krag het om saam met Cari op ’n inkopietog te gaan nie. Cari het nie einde nie. Sy warrel van winkel na winkel en koop alles wat vir haar oulik is. Sy het al gespot dat Cari se huis al so vol kaggelkakkies is, dat haar erfgename ’n winkel sal kan oopmaak na haar dood.
Cari plak ’n verkoelsakkie tussen hulle sitplekke neer.
“Vir as ons dors word langs die pad.”
Arien rits dit oop. Daar is ’n paar vrugtesappe in, maar ook ’n paar van die ‘on-the-go’ skemerkelkies wat drankwinkels deesdae verkoop. Arien weet al uit ondervinding die drankies mag verleidelike geure soos aarbeie en room en sjokolade en karamel hê, maar die inhoud kan jou bene binne minute lam maak.
“Jy kan my nie soveel drankies voer nie! Onthou ek is op pille!”
Cari se rooi Dior-lippe lag en sy babbel Arien se weerstand weg.
“Ons begin met die vrugtesappies. Dan vorm dit ’n gesonde lagie in ons mae. Dan gaan ons oor na die sappies wat die gemoed ’n bietjie lig. Net een of twee voor ons Parys tref. Ons wil darem al die mooi goed in die winkels sien. En ek hoor by my inkopiespioene Kiki’s se nuwe koffiewinkel het die beste wortelkoek in die heelal.”
Die 150 km na Parys blits verby en na die tweede opkikkerdrankie voel Arien ontspanne en lus vir die avontuur.
Hulle eet eers ’n stewige ontbyt by Plum Tree en gaan neem lawwe foto’s in outydse rokke en hoede by die vintage fotografie-studio by Kiki’s. Daarna eet hulle elk ’n stuk dekadente wortelkoek.
“Ek wil vandag met jou praat, Meisie. Ons moet jou lewe probeer uitsorteer. Jy kan nie so aangaan nie. Hierdie Hendri-drama. Ek voel ek het skuld daaraan. Dis ek met my Italiaanse warmbloedigheid wat jou aangemoedig het om ’n minnaar te kry. Maar sjoe, ek het nie gedink dit gaan so ’n drama veroorsaak nie. Minnaars is nie ’n ongewone ding in my familie nie, maar nie een van my familielede en tantes in Italië se minnaars was so gekompliseerd soos jou Hendri nie. Jy sien, die geheim van hulle minnaars is dat hulle nie emosioneel betrokke raak by mekaar se lewe nie. Maar dit is ’n Europese ding. Jy, my Liewe Arientjie, is ’n Afrikanermeisie. Ek weet nou die minnaar-ding gaan nooit vir jou werk nie.”
Arien val haar in die rede.
“Hendri was nog nooit my minnaar nie. Ons het nog skaars hande vasgehou.”
“…. ja, ja, ek weet. Nie eens ’n behoorlike vry ingekry nie. Ai, Meisie. Tog so jammer dat so ’n mooie man soveel komplikasies het. Hy is sag op die oog en ek sou … Wag, kom ons dink nie nou aan wat ek met die Daniel Craig-kloon sou aanvang nie. Maar jy, my liewe vriendin, is nie emosioneel in staat om ’n affair te hanteer nie. Jy is nie ’n goeie protégé vir ’n vrou met sulke warm bloed soos ek nie. Ek het gefaal as jou leermeester. Jy is ’n wonderlike mens, Arien, maar jou hartjie is te broos vir die soort speletjie. Jy is in jou inbors ’n goeie Afrikaanse meisie en dit is jammer jy het nie ’n lojale, goeie man gekry nie. Dis wat jy verdien. Ja, ou Jos gedra hom darem deesdae en ek moet sê ek sien karaktertrekke in hom wat my laat verstaan hoekom jy al die jare by hom gestaan het. Iewers binne hom is die ou Jos besig om homself reg te ruk. Ek en hy het ’n paar aande terwyl jy in die hospitaal was nogal lekker diep gesels. Jos aanvaar hy het jou verloor as sy lewensmaat. Hy weet nou hy het drooggemaak en ek glo hy is regtig nou op die herstelpad. Ek kan nou sien wat jou al die jare by hom gehou het.”
Cari bestel nog ’n groot Bodum koffie. Arien kan sommer sien haar vriendin het ’n lang preek voorberei.
“Ek het gedink oor jou planne vir die Kaap. Dit gaan my hartjie breek om nie meer ’n rook-maatjie by die skoonheidslaunches te hê nie. En ons gin en tonic-aande by die Newscafé … Maar ek dink jy is reg, jy moet jou kinders vat en uit hierdie toksiese situasie wegbreek. Ek het ’n bietjie rondgebel. Jy weet mos ek kan nie help om ’n beheervraat te wees nie? Daar is ’n salon in die Paarl te koop. Die eienares is onlangs oorlede en haar dogters sien nie meer kans om die groot salon te bestuur nie. Die voordeel is, die salon is op dieselfde eiendom as die vrou se woonhuis en die hele eiendom is saam te koop. Jy sal ’n goeie prys vir jou salon in Sandton kry. Dit is gesog en het ’n goeie reputasie.”
Tipies Cari het sy ’n pak foto’s gereed van die salon en huis. Die huis is naby die Paarl Gimnasium en dit is ’n uitstekende skool vir die seuns. Hulle rugbyloopbane sal daar floreer.
“Kom ons vlieg af en gaan kyk. Toe, Meisie? ’n Bietjie opwinding terwyl jy nog afgeboek is.”
Arien voel positief oor die foto’s en inligting, maar na die afgelope ruk se trauma en teleurstellings is sy te bang om oor enigiets opgewonde te raak.
“Toe, spreek net die woord en ek bespreek die vlugte en maak afsprake.”
Arien gooi haar hande in die lug. Sy gee oor aan Cari se entoesiasme. In hierdie stadium van haar lewe is enigiets wat ’n positiewe nadraai kan hê, welkom.
Sy verstom haar altyd aan die maniere waarop Cari beheer kan oorneem in ’n situasie. Binne ’n paar oproepe is vlugte en die afsprake met die agent en verkopers in die Paarl gereël. Hulle vlieg sommer al môreoggend.
Met ’n effense opgewondenheid op die krop van haar maag, geniet Arien die dag in Parys. Hulle koop klere en drink potte tee. Hulle neem lawwe selfies en Arien begin al meer uitsien na die besoek aan die Paarl. Vir die eerste keer in jare voel sy gerus om die kinders in Jos se sorg te laat.
Laatmiddag ry hulle moeg, maar vrolik terug stad toe.
Jos wag hulle by die voordeur in. Arien kan sien hy is ontsteld.
“Daar was weer probleme by die salon. Ek wou nie jou dag bederf nie want ek het geweet jy het dit nodig. Jana wou vroeg ingaan en het die vreemde motor voor die deur gesien. Die voordeur was oopgebreek en sy het die polisie dadelik gebel. Hulle was vinnig daar voor te veel skade aangerig is.”
Arien voel hoe sy begin bewe. Nie nou nie. Sy wil so graag weer net ’n normale lewe hê.
“Het hulle die persoon gevang?”
Jos knik sy kop.
“Dis als oukei, Arien. Alles is nou weer onder beheer. Die deur en skade is klaar reggemaak. Kom sit eers. Die speurders sal netnou hier wees om met jou te gesels.”
Arien voel hoe haar bene onder haar begin wankel. Sy voel of haar kop in die wolke sweef. Sy is bewus van Jos en Cari wat besorgd oor haar buk, maar sy wil nie haar oë oophou nie. Sy wil wegsweef waar daar geen drama meer in haar lewe is nie.
– Moenie die laaste hoofstuk volgende Vrydag misloop nie!