TV-kykers is onlangs bederf met ’n paar gunstelinge uit die jare 80. M-Net, wat aan ons Twin Peaks, McGyver en Lethal Weapon gebring het, gaan kykers nou verras met ’n spesiale vertoning van Dirty Dancing.
In die spesiale weergawe sal aktrise Abigail Breslin (van Little Miss Sunshine-faam) die rol van Baby vertolk (in die oorspronklike fliek was dit Jennifer Grey).
Abigail het hierdie foto tydens verfilming op Instagram gedeel:
Dirty Dancing vertel die storie van ’n jong vrou in die vroeë sestigerjare wat saam met haar ouers gaan vakansie hou by ’n oord in die Catskill-Berge. Sy raak verlief op die oord se dansinstrukteur Johnny (gespeel deur Colt Prattes), wat in die oorspronklike fliek deur oorle Patrick Swayze gespeel is.
Hierdie kultusfilm sal in twee dele van 90 minute elk gesien kan word. M-Net (kanaal 101) sal Deel een op Vrydag, 26 Mei om 19:30 uitsaai en Deel twee op Vrydag, 2 Junie om 19:30.
Dit is ’n spesiale huldeblyk aan die 1987-rolprent en liefhebbers sal die ou klassieke tonele weer kan geniet.
Wie sal die ikoniese finale balsaaltoneel kan vergeet waarin Patrick Swayze vir Jennifer Gray bokant sy kop lig met die klanke van “The Time of My Life” in die agtergrond? Dit is een van die mees onvergeetlike tonele in die geskiedenis van die rolprent-teater en nou kan jy dit vanaf jou rusbank geniet!