Die antwoord is natuurlik: “Nog nét vyf minute …”
As jy nie genoeg slaap nie, weet almal dit omdat jy tydig en ontydig gaap. Ek is ‘n gewoontegaper en my ma het my geleer om blitsig ‘n hand voor die mond sit om te keer dat ander my kleintongetjie sien.
Dit skep glo ook die indruk dat jy verveeld is. Ek dink dis ‘n onregverdige afleiding, veral as jy by ‘n geliefde is wat jou so veilig laat voel dat jy jou skanse kan laat sak en letterlik die dag se spanning kan “uitasem”.
Slaap hou verband met ander interessante verskynsels, soos potensiële snorkaktiwiteit. Ek sal nooit vergeet met hoeveel ontsetting ‘n studentemaat my eendag vertel het dat sy ma, die toonbeeld van elegansie, begin snork het nie. Sy droombeeld van haar het op die plek verkrummel. Ek is waarskynlik nou op die ouderdom wat sy ma destyds was …
Veel erger is die voorkoms van onderbroke slaap, beter bekend as pajamadril. ‘n Australiese ouerskapkenner het ‘n keer gesê die beste dokters besef die ma’s van slapelose kinders kom spreek hulle nie om die kleingoed se onthalwe nie; wat die slaap-arm ma eintlik wil sê, is: ‘Forget about the fricken child, worry about the mother!’
Onder dié omstandighede kan ‘n dokter gerus ook simpatiek verneem na die betrokke pa se reaksie op ‘n middernagtelike skop teen die skeen. Navorsing wys die meeste pa’s het sekere tye van die nag, spesifiek wanneer babas blou moord skree, geen gevoel in hul bene nie.
Ek is mal oor slaap. Dis lieflik om weg te dryf na droomland. My enigste probleem is dat wakker bly ook fassinerend is. As jy gaan slaap, loop jy dalk net iets lekkers mis.
Dalk is gapery ‘n teken van lewenslus. Dit wys jy het die lewe so lief dat jy saans moeilik van die dag afskeid neem.
Ek pleit dus vir die respekvolle hantering van gewoontegapers. Veral in vergaderings. Ons doen moeite om nie te snork nie …