Sommige dinge wat jy ná die diagnose doen is strategies. Jy besluit dalk om ’n pruikpartytjie te hou wanneer dit tyd raak om jou gladde kopvel te verberg, jy belê in mooi kopdoeke of jy lê ’n groot voorraad gemmer in omdat jy iewers gelees het dit help teen naarheid.
Maar sommige dinge word aan jou uitgedeel saam met die siekte en jy moet maar net leer om dit te doen. Een van die universele dinge wat mens aanleer, vermoed ek, is die vermoë om te wag.
Die eerste is daardie senutergende wag vir die uitslag van die mammogram en biopsie. Moontlik die moeilikste van alle wagsessies, want in hierdie stadium moet jy nog baie geduld aanleer. Daarna wag jy vir die operasie waarin jou bors(te) verwyder gaan word – as jy een van die ongelukkiges is. Jy wag vir die tyd om verby te gaan sodat chemoterapie kan begin. Jou liggaam moet eers herstel van die operasie, maar jy raak haastig, want dié is ’n ding wat verby moet kom.
In die chemokamer wag jy vir jou beurt om die naald in die aar te kry, jy begin wag vir die simptome om jou te tref, vir jou hare om uit te val en jy tel die dae af tot die volgende sessie en die volgende en die volgende. Jy leer ken die ritme van wag. Wanneer jy die laaste chemosessies op jou een hand kan tel, begin jy solank wag vir bestraling om te begin. Jy vind uit jou liggaam moet eers ’n rukkie aanhang om darem effens te herstel van die gif wat daarin gepomp is voor die bestralingsmasjien jou kan bykom. Die wag in die benouende kamertjie voor bestraling is soms nogal erg. Jy sien swak mense met hol oë, mense wat sieker is as jy omdat hulle nie so gelukkig was om maar net borskanker te kry nie. Jy sien mense in rolstoele, mense met donker bestralingsvlekke, maer mense, mense wat geskend is. Vir my was daardie wag die ergste.
Ná bestraling begin jy die maande, weke, dae, ure en uiteindelik minute aftel totdat jy onder die mes kan gaan om jou liggaam weer mooi te maak. Daar moet ten minste tien maande verbygaan voor jy aan borsrekonstruksie kan dink. Dis ’n lang tien maande. Jy bid die wagtyd ná die rekonstruksieoperasie om, want die pyn is erger as enige iets wat kanker nog ooit aan jou gedoen het. Wanneer daardie vier tot ses weke verby is, begin die wagtyd vir die tweede en (hopelik laaste) onder-die-mes-ganery. In daardie operasie kry jy die kersie op die koek, ’n tepel.
Die laaste wag is amper so erg soos die eerste. Jy probeer addisionele lewensversekering kry, maar jy vind uit dat geen versekeraar jou wil oorweeg vir so ’n polis nie. Nie voor ten minste vyf jaar verby is nie. Dis nogal erg, want jy is pas deur ’n ding wat jou aan die vlietenheid van die lewe herinner het en jy wil darem seker maak jou mense is versorg wanneer jy jou kop die dag neerlê. Maar die versekeringsmense gaan nie ’n kans vat met jou nie.
Die mortaliteitsyfer in die eerste vyf jaar ná borskanker is heelwat hoër as daarná. Veral as die kanker reeds versprei het en jy nie meer vandag se kind is nie. Mens kan verstaan. Daarom wag jy maar vir die vyf jaar om verby te gaan. Jy wag vir die uitslag van elke tumormerkertelling en jy wonder of jy een van die duisende gaan wees wat weer kanker gaan kry.
Jy wag.
Maar terwyl jy wag, weet jy met die allergrootste sekerheid – dis nie wat met jou gebeur wat belangrik is nie. Dis wat jy doen met wat met jou gebeur. En jy wag, want jy is goed daarmee. Jy weet presies hoe om dit te doen.