Danksy Jos se hulp is die opruimwerk by die salon binne twee dae afgehandel. Dit was met ’n heimlike plesier wat Arien gekyk het hoe die ou Jos weer in aksie is. Hy is in volle beheer van die situasie en sorteer dit met perfeksie uit. Hy gesels nie veel met haar nie, maar gee baie aandag aan die seuns. Soms, in siniese oomblikke, hou sy haar hart vas terwyl sy wonder hoe lank dit gaan duur voor hy weer uithaak en die kinders teleurstel?
Die kliënte wat geskenkbewyse ontvang het tydens die restourasiewerk aan die salon, staan behoorlik tou vir hul behandelings, maar wat Arien verras is die bosse blomme, kaartjies van bemoediging en bederfgoed wat hulle aandra. Deur die jare het haar kliënte soos familie geword. ’n Soort sisterhood. Sy ken baie van die vroue se wel en wee, maar sy het nog altyd haar eie lewe privaat gehou. Dit was nog altyd vir haar belangrik dat haar kliënte haar salon as ’n hawe kan beskou waar hul lywe en gees vertroetel word.
Teen teetyd kom sit Jana ’n lywige koevert op Arien se lessenaar neer. Dit kom van Hendri. Daarin is ’n lang brief van hoe spyt hy sedert hul jeugjare was dat hy haar deur sy vingers laat glip het. Hoe hy altyd na haar verlang het. Hy vertel ook van die lang pad wat hy saam met Lorna deur sielkundiges, psigiaters en klinieke gestap het. Hy sluit afskrifte van verslae van psigiaters in. Hy noem ook dat Lorna nou weer in ’n senu-kliniek opgeneem is en dat Arien nie bang hoef te wees dat sy haar weer sal terroriseer nie.
Arien sit en wonder wat Hendri dink sy met hierdie inligting moet doen? Probeer hy haar oortuig dat dit wat Lorna oor sy gereelde ontrouheid gesê het nie waar is nie? Sy skryf dit aan vroulike instink toe, maar iets in haar sê die vrou wat op haar masseertafel gelê het, het die waarheid gepraat. Dalk is dit omdat sy weet hoe dit voel as jou man jou gereeld verkul dat haar simpatie meer by Lorna as Hendri lê. Wat haar verras, is die dik pak note wat Hendri in die koevert insluit om vir die skade aan die salon te betaal.
Sedert die “aanval” voel Arien dat alle energie uit haar gedreineer is. Sy voel pap en lam. Koue sweet tap langs haar gesig af en sy is bewerig.
Jana is die een wat eerste opmerk dat daar fout is.
“Ek neem jou nou dokter toe. Jy lyk soos ’n spook. Ek het vir Cari en Jos gebel en hulle sal die seuns versorg. Vandag luister jy vir my. Dokter Jansen het gesê ek kan jou dadelik bring.”
Arien is te moeg om teen te stribbel. Sy stap gewillig saam met Jana.
Dok Jansen ondersoek haar deeglik en bel die Sandton-kliniek om vir haar ’n bed te bespreek. Totale uitbranding, is sy diagnose.
“Jy het jou energie te lank getap en nou is jou petroltenk leeg. Dit gaan ’n rukkie neem om jou op te bou. “
Arien ken die ouer man al jare. Hy is soos ’n Pa-figuur vir haar en hy ken haar geskiedenis met Jos.
Voor sy nog verder kan dink, lê sy in ’n hospitaalbed met ’n drup aan die arm. Sy moet ten minste vir tien dae vol medikasie gepomp word en bedrus kry voor Dok Jansen haar “vry gaan laat”, spot die ou man goedig. Hy reël ook dat Gerhard gereeld ’n draai maak “om jou koppie net weer reg te ruk.”
Cari daag op met ’n sak splinternuwe nagklere en ’n toiletsak met lekkerruikgoed, spuite en sepe wat haar kamer met ’n hemelse waas vul. Daar is ’n briefie van die seuns en ’n bossie blomme wat sy kan sien Jos sommer uit haar eie tuin gepluk het. Tipies Jos het hy sommer ’n bladsy uit ’n notaboek geskeur en ’n kort boodskappie geskryf (waarskynlik onder Cari se dwang). “Word gou beter. Als aan die tuisfront is ok. Jos.” Arien glimlag. Sy dink aan die pragtige ruiker waarmee Jos een keer by die huis opgedaag het. Sy was baie agterdogtig en het eers gedink hy het iets verkeerd gedoen. Maar hy het nie. Hy het sommer openlik erken die blomme is eintlik vir sy sekretaresse gestuur en dat sy die Vrydag afgeneem het en hy was bang die blomme vrek die naweek op kantoor. “Toe dog ek jy kan darem die blomme vir die naweek waardeer.”
Jana hou haar die volgende dae op hoogte van sake wat vlot verloop by die salon.
“Daai man bel aanhoudend, maar ek weier om vir hom te sê waar jy is.”
Die wyse Jana het die nuwe verwikkeling in die situasie met Hendri dus deeglik opgesom. Jana gee nie meer om of Hendri na Daniel Craig lyk nie. Sy wil die man nie weer naby haar baas hê nie. Arien het Jana se oordeel nog altyd vertrou en dit laat haar beter voel dat sy nie so simpatiek teenoor Hendri en sy dik koevert met verslae oor Lorna se geestessiekte voel nie.
Die week gaan verby in ’n waas van kalmeermiddels wat haar baie laat slaap en drups wat haar moeë lyf vol energie pomp. Sy weet Gerhard het ’n hele paar keer langs haar bed kom sit, maar sy kan nie onthou waaroor hulle gepraat het nie. Die kinders en Cari was ’n paar keer daar, maar Jos het net so nou en dan ’n briefie uit sy notaboek saamgestuur (Arien weet Cari sit agter die briefies. Jos is baie versigtig vir Cari). Die briefies is almal byna saaklik. “Hoop jy rus lekker, Jos”. “Die swembad is weer blou, Jos.”. “Ek het jou simpel hond laat skeer want sy was vol koeke, Jos.” en “Ek los ’n bak Hagen Daz-roomys en sjokoladesous in die yskas vir as jy uitkom. Die seuns het belowe hulle sal nie daaraan raak nie, groete, Jos.”
Teen die Vrydag word sy wakker na haar oggendslapie met die geur van wit rose wat die kamer vul. Sy weet dadelik dit kom van Hendri. Hy het haar in die hospitaal opgespoor. Sy wil nie die kaartjie lees nie. Ondanks al die drups en rus het sy steeds nie krag vir Hendri en sy verduidelikings nie. Sy voel steeds hy moes van die begin af met haar eerlik gewees het.
Na nog ’n paar uur se slaap is sy bewus van iemand langs haar bed. Dis Lorna. Arien voel hoe die paniek deur haar are vloei.
Lorna neem haar hand.
“Moenie vir my bang wees nie, Arien. Ek het net kom kyk of jy ok is. Ek weet nie, maar jy is anders as die ander. Jy verdien nie iemand soos Hendri nie. Ek voel ek moet jou beskerm teen hom.”
Arien sluk die droogheid in haar keel weg.
“Jy het my salon vernietig.”
Sy ruik Lorna se Michael Kors-parfuum hier naby haar gesig.
“Ek weet wat by jou salon gebeur het en ek weet Hendri probeer jou oortuig dit is ek wat dit gedoen het. Het hy onlangs vir jou ’n pak sielkundige verslae oor my gestuur? Ek het so gedink. Dis wat hy altyd doen. Ek ken al sy modus operandi. Ek wil jou net waarsku, moenie vir sy emosionele manipulasie val nie. Jy is vir hom ’n onweerstaanbare speelding omdat jy teenstand bied. Die feit dat jy nog nie ten volle aan hom oorgegee het nie, maak jou vir hom’n prooi wat hy obsessief gaan jag. Ek moet jou waarsku, hy gee nie maklik op nie. Hy sal eers tevrede wees as jy in sy mag is. Hy maak so met ons almal. Met my en met sal sy ‘prinsesse’. Hy soek ons met die hand uit. Hy kyk uit vir kwesbare vroue soos ek en jy. Dan begin hy met sy spel. Hy trek jou stadig in sy web.”
Arien voel skielik helder wakker. Sy voel sy moet na elke woord luister wat Lorna uiter.
“Hy het my altyd vertel jy was sy eerste prinses. Daarom was ek verras toe ek agterkom daar is iets aan die gang tussen julle. Ek dink hy het altyd gehoop jy kom terug na sy web.”
Lorna vertel hoe sy in Hendri se web vasgevang geraak het.
“Ek was ’n vaal, mollige meisietjie. Maar Hendri het die potensiaal in my gesien. Hy het my begin oortuig ek is sy prinses. Hy het my trouens in sy prinses verander. Hy het saam met my gedraf en ons was saam op ’n gesonde eetprogram. Toe begin sy ‘geskenke’. Vir een verjaarsdag is my neus reggemaak. Vir ons eerste huweliksherdenking is my borste vergroot. Gaandeweg het Hendri my lewe begin regeer. Ek was nie meer sy prinses nie. Ek was soos sy gevangene. Ek moes elke dag ure in die gimnasium oefen. Ek het van proteïenskommels geleef. Elke oggend het hy my klere en grimering vir die dag uitgepak.”
Arien weet elke woord wat Lorna uiter, is waar. Sy kry koue rillings as sy ou gedragspatrone van Hendri uit hulle jeug onthou. Hy het graag vir haar voorgeskryf wat om aan te trek. Hy het vir haar naellak en grimering aangedra. En lyfklewende toppies wat haar ma ontstel het. Hendri het haar hart destyds gebreek, maar nou weet sy dit was haar redding. Sy het ’n lewe van hel ontsnap. Sy kon dieselfde pad as Lorna geloop het. Sy weet nou sy het so reg in Hendri se hand gespeel toe sy hom weer gekontak het.
“Jy was vir Hendri ’n onafgehandelde projek. Hy het my dikwels van jou vertel. Hy het gesê jy is die een meisie wat hy nie ten volle in sy mag kon kry nie.”
Lorna vertel hoe Hendri mettertyd nie meer tevrede was met net een “slaaf” nie.
“Hy het die een na die ander vrou uitgesoek en haar begin manipuleer en verander. Hy vertel hulle eers hoe onweerstaanbaar hulle is, dan begin sy ‘geskenke’ aan sy nuwe prinses. Hy laat jou borste vergroot, maak jou tande en neus perfek, hy laat jou ure oefen. Ek het foto’s van al sy slagoffers?”
Arien knik haar kop gewillig en skuif reg terwyl Lorna die foto’s een vir een vir haar aangee. Haar hele lyf begin bewe as die pak van tien vroue se foto’s op haar bed uitgesprei lê. Hulle lyk almal soos klone van Lorna. Dis asof Hendri ’n dr. Frankenstein-sindroom het. Hy wil die perfekte vrou skep.
Trane loop vryelik oor Lorna se wange.
“Al daardie sielkundige verslae wat Hendri vir jou oor my gestuur het. Dis alles waar. Ek het by tye heeltemal in duie gestort en by tye stapelgek opgetree. Maar glo my, dis hy wat my daarheen gedryf het. Al hierdie vroue wat jy hier sien. Hulle was elkeen al een of ander tyd in ’n senu-kliniek. Dis deel van Hendri se spel. Hy speel met jou kop en oortuig jou en ander om jou dat jy mal is. Maar eintlik … en Arien jy moet nou baie mooi na my luister, eintlik is dit Hendri wat mal is. Hy is ’n narssis. Hy wil jou beheer en omvorm. Hy wil hê ek en jy en al hierdie vroue moet hom aanbid. Maar jy, ek het daardie dag in jou salon geweet jy is anders. Ek het gevoel ek moet jou help om nie ’n kloon van my en die ander te word nie.”
Dit neem Arien ’n rukkie om al die inligting na die regte kanale in haar gemoed te stuur.
“En my salon? Hoekom het jy my salon vernietig?”
Lorna neem beide Arien se hande in hare.
“Dink jy regtig dit is ek wat al daardie skade aangerig het? Het Hendri vir jou ’n pak note gestuur om die skade te herstel? Ja? Dis hoe hy werk. Dit maak hom die held wat jou kom red uit die kloue van sy mal vrou.”