Rondom 20% van mense neem te veel kalsium. Hoewel ons almal osteoporose wil vermy – die hoofrede waarom veral vroue kalsiumpille gebruik – is te veel net so nadelig as te min. Kyk net wat kan ’n te hoë kalsiumvlak alles veroorsaak:
- By sommige mense is ’n oormaat kalsium die rede vir hul hardlywigheid.
- Dit kan lei tot nierstene.
- Dit meng in met die opname van yster en sink, sodat jy te min van hierdie ewe noodsaaklike minerale kry.
- Dit kan jou niere ooreis as hulle voortdurend ’n oormaat kalsium moet afskei. Oormatige kalsium kan selfs in jou niere neerslaan en hulle geleidelik kalsifiseer, selfs al is jou niere gesond.
- Enkele onlangse ondersoeke dui daarop dat kalsiumaanvullers moontlik in die hartare kan neerslaan en verkalking kan veroorsaak. Dit word tans verder ondersoek.
- Dit kan ook potensieel aan prostaatkanker gekoppel word, maar net soos met aarverkalking is daar nog nie absolute duidelikheid hieroor nie. Die beste is dus om versigtiger met kalsiumaanvullers te wees.
Is kalsium dus onnodig?
Glad nie. Kalsium is nie net vir jou skelet nodig nie, dit reguleer van jou hartklop tot jou bloeddruk en selfs hittegloede. Daarom is dit nie sommer net ’n opsionele voedingstof nie. Dit is absoluut noodsaaklik. Daarsonder kan jou liggaam ook nie funksioneer nie. Die kuns is om die regte hoeveelheid kalsium vir jou eie gesondheid in te neem – beslis nie te veel of te min nie.
Lees ook: Wat is die reëls vir die veilige gebruik van aanvullings?
Is jy een van die mense wat kalsiumpille moet vermy?
Buiten dat te veel kalsium nadelig is, is daar ook mense wat liewer kalsiumaanvullers moet vermy. Maar jou persoonlike gesondheidsprofiel kan beteken dat jy die uitsondering is. As jy onseker is, vra jou dokter of dieetkundige.
In die reël moet die volgende mense seker maak dat hulle die regte kandidaat vir ekstra kalsium is:
- Jy sukkel met hardlywigheid: Toets en kyk of jou hardlywigheid verlig as jy jou kalsiumpille staak.
- Jy het ’n chroniese nierkwaal: Volg jou dokter se aanbevelings.
- Mense wat neig na nierstene: Dit gaan deels afhang van jou dieet en jou geneigdheid tot nierstene. Volg jou dokter of dieetkundige se raad.
- Mense op sekere medikasies: Kalsiumaanvullers kan inmeng met die manier waarop sekere medikasies werk, spesifiek vir bloeddruk, osteoporose, skildklierprobleme en sommige antibiotikas. As jy kalsiumpille daagliks gebruik en ’n nuwe chroniese medikasie begin, vra jou apteker of jou kalsiumaanvuller daarmee kan inmeng of nie,
- Mense met hartsiektes: ’n Paar ondersoeke wys dat kalsium moontlik in die hartare neerslaan en tot verkalking kan lei. Daar is nog heelwat onsekerheid hieroor. Daarom is die aanbeveling op die oomblik dat jy liewer kalsium vermy, tot daar meer duidelikheid is.
- Mans met prostaatkanker of ’n verhoogde risiko daarop: Dit kan ook potensieel aan prostaatkanker gekoppel word. Net soos met die risiko vir aarverkalking is daar onduidelikheid. Derhalwe is die aanbeveling op die oomblik dat hierdie groep mense ook liewer kalsiumaanvullers vermy, tot daar meer duidelikheid is.
Of is jy een van die mense wat juis ekstra kalsium nodig het?
Daar is ook mense wat kalsiumpille móét neem, aangesien hulle meer benodig as wat hulle uit hul dieet kry. Mense wat beslis ekstra kalsium nodig het is:
- Veganiste: omdat hulle alle suiwel uitsluit.
- Mense met laktose-intoleransie: ook omdat hulle melk, kaas en jogurt uitsluit. Baie mense wat laktose-intolerant is kan wel jogurt en/of kaas eet, en het dus minder of geen ekstra kalsium nodig nie.
- Mense met ’n melk-allergie: Hoewel sommige wel kaas of jogurt kan eet, kan die meeste nie.
- Mense met siektes en toestande wat die spysverteringskanaal aantas:en meebring dat hulle nie voedingstowwe goed opneem nie, soos mense met seliaksiekte en Crohn se siekte.
- Diëters: Mense met ’n lewenstyl wat melk, kaas en jogurt beperk of uitsluit, soos mense wat om gewigsredes suiwel uitsny.
Lees ook: Die beste melk vir kalsium
Die veiligste kalsiumbronne
Die jongste benadering is dat jy die veiligste is as jy die meeste van jou voedingstowwe uit kos kry. Trouens, die algemene benadering is dat kalsium nie beenbreuke of osteoporose by ouer mense voorkom nie, omdat jou liggaam nie werklik hierdie kalsium opneem nie. Alle oortollige kalsium wat nie uitgeskei word nie, slaan iewers in jou sagte weefsel neer – waar dit potensieel skade aanrig.
As jy nogtans nie genoeg uit jou kos kan kry nie, is ’n kalsiumaanvuller ’n handige bykomende opsie. Gebruik altyd die laagste moontlike dosis – en verdeel jou kalsium in twee, sodat jou liggaam langer tyd kry om dit op te neem.
Gelukkig is kos altyd ’n veilige bron van kalsium. Volgens die Universiteit van Stellenbosch se voedingseenheid, Nicus, kan jy nooit ’n fout maak met melk, kaas, jogurt, sardientjies (eet juis die fyn graatjies) en kalsiumryke groente soos broccoli en spinasie nie. Gebruik ook kalsium-verrykte margarien en ontbytpappe.
Bronne wat geraadpleeg is, sluit in:
NIH Fact Sheets for Health Professionals