Vir ’n vrou soos ek, een wat hou van lieflike, vroulike bra’s met kant en frilletjies, is ’n mastektomie-bra effens aan die aardige kant. ’n Noodsaaklike euwel. Ek het net een keer ’n poging aangewend om my prostese by my pragtige pienk frilletjies-bra in te druk. Dis nou in die hoop dat die prostese in plek sal bly terwyl ek ten volle aangetrek voel in vroulikheid. Dis op daardie dag, by ’n skrywersgeleentheid, waar Fiona the Fake Boob amper uitgeklim en tussen die kuierkos op die tafel voor my beland het. In die openbaar. Tussen mense wat my boeke lees. Ek moes toe maar vrede maak met die onmooi swart en vleeskleurige mastektomie-bra’s wat ’n fortuin kos, maar sukkel om mens goed te laat voel.
In 2015, ongeveer twee maande na die mastektomie, het ek my mooi bra’s in ’n krat gepak. Tóé het rekonstruksie en die gepaardgaande kant, frilletjies en blink goetertjies heeltemal te vêr in die toekoms gelê. Ek wou nie daardie lieflike kledingstukkies in my onderklerelaai sien lê nie. My hoofdoel tussen 2015 en 2017 was mos om teen kanker te baklei en te wen.
Vir twee jaar lank het ek draaie geloop om die onderklere-afdeling in elke winkel, my oë afgewend as die verdomde slaapklere reg langs die bra’s hang. Dis soos om vir ’n sjokolus ’n boks van die heerlikste sjokolade te wys en dit dan weg te vat. Nee, man, sjoe. Dis net wreed.
Ek het die tyd tot Maart 2017 afgetel. Kanker se alie is in 2016 reeds geskop, maar ten minste tien maande moet verloop ná die laaste bestralingsessie voor mens kan begin dink aan rekonstruksie.
Nou, met rekonstruksie agter die rug, kan ek nuwe bra’s gaan koop. ’n Triomftog. Ja, die ou bra’s is nog in die krat, maar die aankoop van splinternuwes is simbolies van die nuwe ek.
Ek maak my mooi vir my afspraak met die onderklere-afdeling in een van ons groot winkels. Gespit en gepolish dié moet ek wees wanneer ek die langverwagte heerlikheid van bra koop ervaar. Jaun gaan saam, natuurlik, soos dit ’n man betaam wat met meelewing deel in sy vrou se slegte én goeie tye.
Hoe wonderlik is dit om reguit na die onderklere-afdeling te stap. Doelgerig. Sommige mense glimlag onseker vir my. Hulle wonder seker hoekom ek vir hulle glimlag. Want ek glimlag vir al wat leef en beef. Bra-dag is ’n rooiletterdag vir hierdie vrou.
En is daar mooies! Dis net kant en frilletjies en blink goetertjies waar jy kyk. Satyn. Wonderwerkbra’s. Wittes en swartes en rooies en pienkes en bloues. Grotes en kleintjies. Soveel om van te kies. Té veel om van te kies. Jaun probeer help. Goeie smaak wat die man het. Ek herinner hom aan die noodsaaklikheid van die regte grootte. Dit was twee jaar vir hom ook. ’n Winkelassistent bespeur ons frantiese soektog en kom lewer bystand. Sy meet my so met die oog en dra ’n verskeidenheid aan. Sy verstaan duidelik die ding van kant en frille.
Later by die betaalpunt hou ek die mooiste, fynste goeters in my hande. Netnou, wanneer ek by die huis kom, gaan ek foto’s van my nuwe onderklere vir my familie stuur.
En dan gaan ek die lelike swart mastektomie-bra uittrek en een van my lieflike bra’s aanglip. Miskien die wit ene.