Het my die week verkneukel aan ’n inskrywing op die gewilde sanger Heinz Winckler se Facebook-bladsy waar hy tong-in-die-kies “uit ’n plek van omgee” sy vriende en volgelinge ’n paar wenke gee oor taalgebruik. Behalwe dat sy inskrywing ook ’n taalglips of twee bevat – hei, niemand van ons is perfek nie – noem hy ’n paar flaters wat my ook dwars in die kuberkrop steek.
Hy verduidelik onder andere wanneer mens “sulke” gebruik en wanneer “so ’n” en gryp ook indirek ’n paar Afrikaanse liedjieskrywers aan die keel deur dit duidelik te stel dat daar nié iets in Afrikaans bestaan soos “Ek lief jou” nie.
Gaan lees Heinz se volledige inskrywing hier: www.facebook.com/HeinzWinckler
Sosiale netwerke wemel van die taalgoggas en ek lig ’n paar van my eie troetelgoggas uit.
Ek ken makabere mense. Hulle hou van verassings in plaas van partytjies wanneer hulle verjaar. Boonop word die verjaardag fier gevuur en nie net as hulle vier word nie. Die vuur het seker te doen met die verassingselement. Hoewel ek vermoed dat die meeste eerder ’n verrassing sou verkies.
Almal wat my ken, weet dat ek ’n vurige vegter is vir die regte spelling en taalgebruik. Ek het baie begrip vir kinders wat nog leer spel en vir diegene wat weens ’n leergeremdheid hulle bes probeer om reg te spel, maar die regte volgorde van letters net eenvoudig nie onder die knie kan kry nie. Sulke spel- en taalfoute sien ek maklik oor, want dit is nie weens luiheid of skryfslordigheid nie.
Ek verstaan ook dat almal verskillende talente het – party maak beter somme as sinne en ander kan weer ’n ses slaan. Maar, daar is tog ’n paar algemeen aanvaarbare riglyne wat spelling en taal betref, wat ons reeds op laerskool geleer het. En, een daarvan is die verskil tussen verassing en verrassing.
’n Kubervriend vertel my dat hy deesdae twee maal dink voor hy iets op sosiale media tik, want hy sien al in sy geestesoog hoe sit ek met die rooi pen teen my rekenaarskerm om al die spelfoute te korrigeer. Só erg is dit darem nie – na ’n paar probeerslae weet selfs dié blond dat mens nie tegnologiese taalfoute met rooi penne of Tippex op die skerm kan regtoor nie!
Maar, as doodgewone taalliefhebber, voel ek oor geskrewe taalgebruik, soos met die meeste ander goed: As jy dit doen, hoekom dit dan nie sommer rég doen nie?
Dus, as nie-amptelike pesbestryder, probeer ek om die taalgoggas in toom te hou as ek my hand aan ’n (kuber-)skrywe waag. Want die kuberruim wemel van dié klein ongediertetjies.
As mens op Worcester bly, kan jy maar verseker wees dat jy vier maande van die jaar minstens een maal per week in ’n “Shoe, dis warm!” sal vaskyk op sosiale media. Ons almal weet presies wat die skrywer bedoel, maar as ek so iets raaklees, help dit nie eers om die lugversorger nog ’n paar grade koeler te stel nie. Dit maak my warm onder die kraag.
Want, ek het in graad 1 geleer ’n “shoe” is iets wat ’n Ingelsman aantrek op ’n koue wintersoggend sodat sy voete nie verkluim nie. Dit het niks met die “Sjoe-sjoe”-hittewaarskuwing wat enige Afrikaanssprekende reeds as baba gehoor het, te doen nie. Dieselfde geld vir iets wat niks met die weer te make het nie: “Sjoe, dis mooi!”, “Sjoe, dis ’n verrassing!” – “Sjoe, dis nou ‘n nuttige spelwenk om te onthou…”
Hand-aan-hand met die vreemde verjaardagvieringe soos hierbo genoem, verskyn nog ’n paar taalgoggas. Mense weet nie waardeur my gemoed gaan as hulle my gelukwensing “waardeur” in plaas van “waardeer” nie. Ook as iemand antwoord: “Dus nou ’n verrassing om van jou te hoor!” Dus is eintlik “dis” en ’n samevoeging van “dit” en “is” – daar is dus geen “u” in “dis” nie. Maar, mens gaan nie iemand se kuberverjaardagviering bederf deur ’n taalles nie – dus hoop ek iemand lees hierdie en onthou dis hoe mens “dis” spel.
Ek vermoed die oorronding van klanke, selfs in die kuberruim, het te make met die hoop om meer vernaam te klink. En om dieselfde rede gebruik mense groot woorde – al is hulle dikwels nie heeltemal seker van die betekenis nie. So hoor ons gereeld die woord “huidiglik” as ’n belangrike spreker ’n groep mense toespreek. Daar bestaan egter nie so ’n woord in Afrikaans nie. As iemand dus wil praat oor die huidige toedrag van sake, sal dit hom veel meer vernaam laat klink as hy die suiwer Afrikaanse woord “tans” gebruik.
Nog ’n slaggat vol taalgoggas is Engelse woorde wat met ’n Afrikaanse kinkel gebruik word om fênsie te klink. Woorde soos “kompensasie” (vergoeding), “teken apologie aan” (verskoning maak), “besigheidskaartjie” (visitekaartjie) en “besigheid” (sake-onderneming) word só gereeld gebruik, dat mens nie meer seker is of dit reg of verkeerd is nie.
Volgens Wikipedia is ’n anglisisme “die taalvorm wat ontstaan wanneer die Engelse taalinvloed op ’n ander taal, soos Afrikaans, uitgeoefen word, wat laasgenoemde se taaleie in die gedrang bring”. “Anglisismes is indringers. Dit voorsien nie in ’n bestaande taalbehoefte nie; inteendeel, hulle verarm Afrikaans (en ander tale), omrede hulle die taaleie uitstoot om vir hulleself plek te maak. Wanneer daar dus ’n eie (Afrikaanse) woord, ’n eie uitdrukking of ’n eie idioom is om ’n persoon se gedagtes in uit te druk en daar nogtans van ’n Engelse vertaling gebruik gemaak word, dan word ongewenste anglisismes veroorsaak. Nogtans, wanneer die anglisisme algemeen genoeg gebruik word, vind taalverryking plaas veral in gevalle waar dit lomp strukture vervang en kan dit as deel van Afrikaans beskou word.”
Gaan loer gerus by http://af.wikipedia.org/wiki/Anglisisme vir ’n lys anglisismes wat daagliks mildelik en onwetend deur Jan Alleman gebruik word.
Nog ’n paar lukrake taalgedagtes (is “lukraak” nie soveel meer kraakvars as die Engelse woord “random” nie?):
* Wanneer mens praat van iemand wat “verongeluk” het, beteken dit daardie persoon is oorlede in die ongeluk. Iemand kan nié verongeluk en met slegs geringe beserings in die hospitaal opgeneem word nie. Só ’n persoon was bloot “in ’n ongeluk”.
* Die korrekte uitdrukkings is “in ’n stadium” en “op die oomblik”, nie “op ’n stadium nie” – ’n stadium duur langer as ’n oomblik.
* Die volgende woorde word as twee woorde geskryf: “weer eens”, “huis toe”, “op pad” en “al weer”.
En daarmee is ek dan weer eens op pad huis toe. Laat weet gerus as daar nog taalgoggas of dergelike gediertes is wat jou na ’n rooi pen of woordeboek laat gryp. Ek hoor graag van julle: [email protected]