Met Jos uit die hospitaal en terug by die werk, kan Arien vir die eerste keer in ’n lang tyd haar volle aandag aan die salon gee. Sy wil al haar sake uitsorteer want sy oorweeg dit steeds om die salon te verkoop en aan die einde van die jaar Kaap toe te trek sodat sy en die seuns ’n nuwe begin kan maak.
Jos het ’n ruk probeer om haar emosioneel af te pers oor die egskeiding, maar sy gaan nie weer die proses stop of op ys sit nie. Sy het sy verwyte verwag.
“Noudat ek weer op die been is, wil jy my weer laat struikel. Jy plaas nou soveel druk op my terwyl ek nog broos is. Dit sal jou skuld wees as ek weer struikel.”
Arien het ’n hele paar studies oor ko-afhanklikes gelees sedert Gerhard haar die eerste keer die titel om die nek gehang het. Sy glo haar shrink sal trots wees op haar navorsing. Sy ken die gevaarpunte nou beter. Sy weet Jos sal die skuld na haar verplaas in elke moontlike situasie want dan is dit haar skuld as hy struikel. Hy sal altyd ’n verskoning kry vir sy probleem tot hy besef hy veroorsaak self die probleem. Sy ignoreer beskuldigings van gesamentlike vriende en haar skoonfamilie. Sy is klaar met Jos. Hy sal altyd haar kinders se pa bly. Sy sal altyd lief wees vir hom, maar sy besluite oor sy welstand en toekoms is sy eie.
Sy is so diep in haar gedagtes vasgevang dat sy skrik as Jana skielik langs haar staan.
“Hy is hier!” Jana trippel rond van opgewondenheid en hou ’n klein bossie laventel na haar uit. “Hy sê hy weet jy was nog altyd lief vir laventel.”
Arien weet dadelik van wie Jana praat, maar probeer haar dom hou.
“Van wie praat jy? Kan jy nie sien ek is besig nie?”
Jana haal sommer self die lipstif en parfuum uit Arien se laai.
“Spuit aan en smeer jou lippe rooi. Daniel Craig wil jou ontvoer!”
Die laventel is met ’n klein wit strikkie saamgebind. Dit ruik so vars soos die lente daar buite.
Hendri lyk soos ’n skoolseun wat ’n meisie die eerste keer gaan uitneem. Hy lyk effe ontsenu en staan ongemaklik in die voorportaal rond. Hy maak skynbaar of hy nie sien hoe die salon-meisies hulle aan hom vergaap nie.
Hy raap Arien in sy arms op.
“Rientjie! Ek het jou gemis! Hierdie gawe ontvangsdame van jou sê ek kom op net die regte tyd want jy is ’n paar uur oop!”
Arien gee ’n kwaai blik na Jana. Nou kan sy nie ’n verskoning uitdink om nie saam met Hendri te gaan nie.
“Daar is ’n nuwe restaurant in Greenside. Dis waarheen ek jou vandag ontvoer.”
Hendri vleg deur die verkeer. Hy is ’n effense ongeduldige bestuurder, maar omdat sy self soms haar humeur in die verkeer verloor, steur sy haar nie te veel daaraan nie.
Sy probeer onopsigtelik na sy mooi hande op die stuurwiel kyk. Sy hande was nog altyd vir haar mooi. Sy vingers is lank en manlik en sy naels netjies versorg. Hy het sy wit hemp se moue opgerol en sy voorarms is bruin en gespierd. Hy ruik na subtiele speserye met aromatiese hout-ondertone. ’n Goeie keuse vir ’n man soos hy. Die Levi’s-jeans span netjies oor sy lang gespierde bene. Hy dra stylvolle kort stewels. ’n Tag Heuer-horlosie aan die arm, Montblanc-pen in die bosak, Robert La Roche-sonbril. Sy Bentley grom soos ’n tevrede roofdier deur die verkeer. Hendri is op daardie oomblik vir haar ’n perfekte prentjie van stylvolle manlikheid en sy voel hoe haar hormone huppel.
Die restaurant is klein, eksklusief en minimalisties. Dit is duidelik dat die eienaar die nuutste kosneigings in die wêreld ken.
“Gee jy om as ek vir jou bestel? Ek wil jou verras.”
Hendri neem die spyskaart uit haar hande.
“Ek dink ek weet waarvan jy gaan hou.”
Die dun sop meng geure wat herinner aan groentee-landerye met ’n sweempie suurlemoengras en net genoeg rissie om die palet te terg.
Die sushi-burger verras haar. Dit is ’n mengsel van geure, teksture en kleure wat mens se mond op ’n smaakreis na eksotiese Oosterse lande neem.
“Ek hou van ’n vrou wat haar kos geniet. Ek kan sien jy is ’n fynproewer.”
Dan neem hy haar gesig tussen sy hande.
“Is jy gelukkig, Rientjie? Jou oë is vandag so ’n diep grysblou.”
Sy keer vinnig. Sy wil vandag meer van Hendri uitvind. Eintlik weet sy nog bitter min van sy private lewe.
“Hoekom is ’n sjarmante man soos jy nie getroud nie? Daar moes tog al iemand gewees het?”
Hendri vou die wit servet netjies op en sit dit langs sy bord.
“Ek is getroud.”
Arien voel duiselig van skok. Hoe kon sy die situasie so verkeerd opgesom het? Miskien was sy so vasgevang in haar eie probleme dat sy net aangeneem het wat sy wil aanneem. Sy wou hê Hendri moet ongebonde wees.
“Jy dra nie ’n trouring nie?”
Hendri kyk terloops na sy linkerhand.
“Ek het dit afgehaal toe ek besef ek kan die huwelik nie meer red nie.”
Arien probeer die bewing in haar binneste beheer.
“Vertel my van haar. Waar is sy?”
Hendri haal sy beursie uit. Hy haal ’n foto uit een van die kantsakkies.
“Lorna … Ek dra dit saam want jy weet mos ek is ’n sentimentele mens. En, waar sy op hierdie oomblik is, weet ek eerlikwaar nie.”
Lorna het heuningblonde hare wat haar perfekte voorbladgesig omraam. Haar oë is turkoois poele omraam deur lang donker wimpers. Haar lippe perfek volrond.
Arien se mond voel droog.
“Sy is pragtig. Beeldskoon. Wat het verkeerd geloop?”
Hendri sit agteroor en staar by die venster uit.
“Ek weet nie. Ek probeer al jare uitvind wat verkeerd is. Wat sy wil hê. Ek weet regtig nie.”
Lorna wou nie kinders hê nie. Sy wou net op haar huwelik fokus. Hulle het die wêreld plat gereis. Sy het ’n voorliefde vir onontginde plekke. Idilliese plekke. Terwyl Hendri aan sy loopbaan gewerk het, het Lorna haar in haar soeke na ontlading deur kuns uitgeleef. Pottebakkery, skilderwerk, kwiltwerk. Lorna het nog nooit gewerk nie.
“Dit als klink dan so perfek? Hoekom is julle nie gelukkig nie?”
Hendri neem die foto en druk dit terug in sy beursie.
“Lorna vind ander mans aanloklik. Onweerstaanbaar. Ek werk te hard en gee te min aandag aan haar. Sy kry haar manlike vermaak in kunsgalerye, in gimnasiums, in eksklusiewe kuierplekke.”
Arien voel skielik jammer vir die man voor haar. Sy lewe lyk so perfek, en tog dra hy ook ’n seer in hom. Sy neem sy hand in hare en streel oor die goue haartjies op sy vingers. Soos toe hulle nog jonk was.
“Toe ek die e-pos van jou kry, het ek geweet dit is die ommeswaai wat ek in my lewe nodig het. Ek het jou nooit vergeet nie, Arien. Jy was altyd daar in my agterkop. Ek het nog altyd vroue aan jou gemeet. Vir Lorna ook. Ek weet jy wil nou eers gesond word, maar ek hoop dat daar eendag, wanneer alles uitgesorteer is, ’n kans sal wees dat ek en jy gelukkig kan wees.”
Hendri het trane in sy oë. Hy lyk skielik so kwesbaar. Arien wens vir ’n oomblik dat haar lewe nie in so ’n gemors was nie. Sy wens haar lewe was probleemvry. Want as dit was, het sy nou saam met hierdie man in sy Bently geklim en weggery van alles af. Ver weg.