* Dis wetenskaplik bewys dat selfs gewigsverlies van so min as vyf persent jou bloedsuiker baie kan verlaag
* “Sommige medikasie kan jou gewig laat aansit of verlies bemoeilik” – dokter
* “As jy nie jou kop regkry nie, gaan behandeling nooit suksesvol wees nie” – sielkundige
Tipe 2-diabetes het ’n paar oorsake, maar oorgewig en onaktiwiteit is van die grootste aanleidende faktore. Enige oorgewig pasiënt met tipe 2-diabetes (al is jy net effens plomp), sal daarby baat vind om ’n bietjie gewig te verloor. Navorsers sê selfs ’n skrale vyf persent-verlies kan ’n groot verbetering meebring.
Die probleem is dat sommige van die beskikbare behandelings vir tipe 2-diabetes jou selfs gewig kan laat aansit of gewigsverlies bemoeilik. Dit breek pasiënte se moed wat beteken dat hulle later selfs tou opgooi, gesondheidsgevare of nie.
Dit lyk tog of daar nou uiteindelik ’n oplossing vir die probleem is. Die farmaseutiese maatskappy Lilly het ’n nuwe inspuiting, Byetta, op die mark wat die natuurlike hormoon GLP-1 naboots. (GLP-1 is ’n glukagon-tipe peptied 1 – ’n hormoon wat in die spysverteringskanaal vervaardig word).
GLP-1werk op twee vlakke: Eerstens verbeter dit die funksie van beta-selle in die pankreas wat help om insulien te vervaardig, en tweedens het dit ook ’n uitwerking op alfa-selle wat glukagon produseer. (Glukagon is ’n hormoon wat in gesonde mense help om bloedglukose te balanseer).
Die groot voordeel is dat GLP-1 die liggaam meer sensitief maak vir insulien.
Hierdie inspuiting wat een keer per dag toegedien moet word, vertraag ook die beweging van kos deur die spysverteringskanaal en daarom voel jy voller vir langer. Dit het ’n invloed op die versadigingsentrum in die brein wat ook help om jou gouer en vir langer tydperke versadig te laat voel.
Hoekom is beheer van glukose so moeilik?
Beta-selle wat insulien help vervaardig, sterf. Tot 65% van beta-selle in die pankreas gaan dood in pasiënte met tipe 2-diabetes, sê prof. Juris Meyer, konsulterende internis en hoof van diabetesnavorsing van die St. Josef- universiteitshospitaal aan die Ruhr-universiteit, Bochum, Duitsland. “Sommige medikasie wat van beta-selfunksie afhanklik is, kan selfs die tempo verhaas waarin die beta-selle sterf.”
Medikasie wat aanvanklik baie doeltreffend is, help later nie meer nie.
Glukagon stimuleer die lewer om glukose vry te stel wanneer die glukose in die bloed te laag is. By tipe 2-diabete werk hierdie meganisme nie altyd so doeltreffend nie. Die glukagonvlakke bly hoog en stimuleer steeds die produksie van glukose – die bloedglukose bly dus hoog, selfs ná ‘n maaltyd.
Dit lei daartoe dat ongeveer 43% van tipe 2-diabete nie gesonde bloedsuikertellings het nie. Namate die behandeling verskerp word, raak die risiko vir lae bloedsuiker (hipoglisemie) groter. Dit is gevaarlik en kan tot ’n koma en selfs breinskade lei.
Die oplossing:
Gewigsverlies sal alle aspekte van tipe 2-diabetes aansienlik verbeter en pasiënte moet ondersteun word om dit te vermag. Dit beteken egter nie dat bestaande medikasie nie doeltreffend is nie. Metformin is steeds baie effektief en dit bly die eerste keuse van behandeling in pasiënte wat dit goed hanteer.
Wat sê die dokter?
Dr. Adri Kok, spesialis-internis van Johannesburg, het ’n besondere belangstelling in diabetes. “Dit kan baie frustrerend vir ’n dokter wees om ’n diabeet te help wat nie behandeling reg wil volg nie, veral omdat ons baie bewus is van die ernstige komplikasies wat dit op die lang duur het.”
Sy glo dokters moet besef ’n standaardbehandeling vir diabete werk nie. “Elke pasiënt is anders en moet op sy/haar eie behandel word.” Sy is baie opgewonde oor die moontlikhede van GLP-1. Een van haar pasiënte het al 35 kg afgeskud sedert sy met die medisyne begin het. Die medisyne het tot dusver baie ander pasiënte ook gehelp en dit bly doeltreffendheid.
Prof. Juris Meier sal graag pasiënte so vroeg moontlik ná diagnose op die nuwe medikasie wil plaas. “Hoewel die nuwe medikasie in enige stadium ’n effek sal hê, toon studies dat dit nog groter voordele inhou wanneer jy vroeg kan begin.” Navorsing op diere dui daarop dat die medikasie selfs die verloop van diabetes kan vertraag. As hulle kan behandel word terwyl daar nog goeie beta-sel-funksie is, vaar pasiënte nóg beter op die behandeling.
Wat sê die sielkundige?
Diabetes is ’n balanseertoertjie met insulien aan die een kant en bloedglukose aan die ander kant, verduidelik Liane Lurie, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg. En die sukses van die behandeling berus op jou ingesteldheid.
Hierdie onlosmaaklike verbintenis tussen liggaam en gees is al in die antieke Griekse tyd deur Plato verkondig. “Die grootste fout in die behandeling van siektes is dat daar dokters is vir liggaam asook dokters vir gees, hoewel die twee nie van mekaar geskei kan word nie.”
Gewigsverlies bly die beste wapen in hierdie stryd, maar sy glo dat wanneer daar ’n balans tussen die fisieke en sielkundige aspekte van diabetes is, mense meer geneig sal wees om behandeling getrou te volg. Omdat dit gewoonlik ’n groot leefstylverandering vereis, het dit ’n groot emosionele impak. “Tipe 2-diabete het baie berading nodig. Eerstens bepaal aanvaarding die sukses van die behandeling, maar dit verg ook heelwat motivering om die pasiënte met hul nuwe lewenstyl vol te laat hou.”
As jy boonop die vrees vir inspuitings en gewigstoename byvoeg, wip die skaal baie keer na die verkeerde kant. Kos is ook ’n manier van troos en beloning. “Ek het pasiënte wat getrou hul oefening doen en by hul dieet hou, maar dan hul goeie gedrag met ’n daaglikse boksie oliebolle beloon.”
Hoekom is diabete soms traag om die verandering te maak?
Sommige pasiënte weier om hul toestand te erken. Hulle voel die veranderinge is nie haalbaar nie en gooi dan tou op omdat die resultate nie onmiddellik sigbaar is nie. Ander voel weer hulle wil nie toelaat dat diabetes hul lewens beheer nie. Soms is dit bloot ’n geval van vuisvoos wees en net nie meer die energie het vir die lewenslange veranderinge wat diabetes vereis nie. Vrees vir baie lae bloedglukose (“hypo’s”), kan ook behandeling bemoeilik.
Wat kan jou motiveer?
-Familie en vriende is ’n groot steunpilaar en motiveerder.
-Hou boek van jou positiewe veranderinge, soos beter bloedsuikerbeheer en gewigsverlies.
-Kry berading.
-Glo dat goeie beheer van jou bloedsuiker jou in die toekoms gaan beskerm.
Wat sê die pasiënt?
“Ek verstaan hoe mense selfmoord kan oorweeg,” vertel Liezel Botha oor haar desperaatheid en depressie weens tipe 2 diabetes. Sy was nie verbaas toe sy in haar laat dertigerjare agterkom dat sy tipe 2 diabetes het nie. Daar was immers ’n baie sterk familiegeskiedenis en haar pa en broers het almal nierversaking weens die siekte gehad. Toe sy die eerste simptome van moegheid, dorsheid en konstante urinering bespeur, het sy haar bloedglukose laat toets. “Ek was vasbeslote om alles in die stryd te werp om nie dieselfde pad as my pa en broers te stap nie. Ek wens net ek is vroeër na ’n spesialis verwys.”
Ondanks Liezel se beste pogings het haar bloedglukose baie vinnig buite beheer geraak. Haar gemiddelde glukoselesing was tussen 18 en 22 mmol/l. (Vir diabete moet dit tussen 4 en 7 wees.) Die konstante hoë bloedglukose het ook haar sig aangetas en dit was nie lank voordat sy permanent ’n bril moes begin dra nie.
Liezel was oorgewig, sy het gedurig suiker in haar urine gehad en sy was meestal doodmoeg. Sy het ’n bestuursposisie by die werk, maar die geringste druk het haar onder gekry. “Dit het gevoel of my hele lewe besig is om onder my te verkrummel en ek was bitter teleurgesteld in myself dat ek nie my diabetes kon beheer nie.”
Die ergste was toe sy net meer as 2 jaar gelede haar bewussyn agter die stuur verloor het en teen 120 km per uur op die snelweg beheer oor haar voertuig verloor het. “Ek het myself byna afgeskryf .”
Sy is daarna na dr. Adri Kok verwys wat voorgestel het dat sy (onder seksie 21 en met spesiale toestemming van die Mediese Beheerraad), met die nuwe GLP-1-medikasie begin. Sy het aanvanklik met newe-effekte soos naarheid gesukkel, maar dit het binne ’n week verbeter en nou is sy ’n ander mens. “Ek is nie meer moeg nie, ek hoef my bril net in die fliek en vir oorhoofse projektors te gebruik en het vir die eerste keer normale bloedsuikervlakke. Ek verloor gewig en ek dra nou al ’n kleiner rokgrootte. Ek kan in die strate toyitoyi, so bly is ek oor die nuwe lewensgehalte! Die medikasie het ook my oormatige honger verbeter. Ek het voorheen ’n koorsagtige honger gehad wanneer ek soggens opstaan. Nou bestaan dit nie meer nie.”